Buitebioskoop 2015: Kom fliek saam met ons

buitebioskoop wonderwerker

LET WEL: Gedoriewaar, die kaartjies is alles op 9 September 2015 uitverkoop! Hou Maroela Media dop – ons maak dalk volgende jaar weer só! Ons sien al die fliekvlooie daar.

Maroela Media se Buitebioskoop,
12 September 2015
Botaniese Tuin, Pretoria

Onthou jy nog die dae toe groot filmskerms uitgetroon het en deel was van die landskap? Toe jy op ʼn naweeksaand ʼn mandjie vol padkos gepak en die bagasiebak vol kampstoele en komberse gelaai het: die hele gesin vol opwinding om inry toe te gaan!

Maroela is verheug om aan te kondig dat jy ʼn stukkie van daardie nostalgie kan herleef!

Ter viering van Afrikaans se 90ste bestaansjaar as amptelike taal, hou ons spesiaal op 12 September ʼn buitelugfliekpiekniek, ‘n “buitebioskoop”, by die Botaniese Tuin in Pretoria.

Kom kyk in die buitelug na ou en nuwe Afrikaanse films op ʼn reusagtige skerm (14 m wyd en 3 verdiepings hoog). Dit gaan jou laat voel of jy in die teater sit, maar met dieselfde nostalgie en atmosfeer van ʼn inryteater.

Bring jou kampstoele, piekniekkomberse, en -mandjie en kom kuier lekker saam! Eg Afrikaanse eet- en drinkgoed sal by stalletjies op die terrein te koop aangebied word en jy sal kan weglê aan die heerlikste pannekoeke, kerrie-en-rys en jafels tot springmielies, yskoeldrankies en nog vele meer.

Picnic-Pop-UP.jpg

Lorraine van Kokkedoor se piekniekbondels

Of jy kan jouself bederf en vooraf vir jou ʼn piekniekbondel bespreek. Dit is nie sommer net enige pienkniekbondel nie: Lorraine van Kokkedoor stel dit saam met heerlike eetgoedjies uit haar eie kombuis!

Ons hou ook vooraf ʼn musiekvertoning en ʼn fliekresensiewerkswinkel, aangebied deur Leon van Nierop. Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson gaan tussendeur die gehoor vermaak terwyl Kaleidoskoop, MD Greyling en Rickus Nel gaan sorg vir die musiek.

Sodra die son begin sak, skop ons af met Hollywood in my huis. Daarna vertoon ons Die Pro (wat eintlik eers amptelik op 18 September bekend gestel word!) en sluit af met ʼn vertoning van Katinka Heyns se fliek, Die Wonderwerker.

Bring jou vriende en familie en
kom geniet hierdie spesiale geleentheid saam met ons!

Die program:

15:00     Hekke maak oop
16:00     Vermaak met Kaleidoskoop, Rikus Nel en MD Greyling
16:00-17:00 Leon van Nierop bied ʼn fliekresensiewerkswinkel aan by die Milk Plum-koffiewinkel
18:00 – (ongeveer) 23:59 Hollywood in my huis, Die Pro en Die Wonderwerker

Kaartjies kos slegs R95.00 per persoon. Kinders onder 7 gratis.  Leon van Nierop se fliekresensiewerkswinkel kos R70.00 per persoon.
Jou kaartjie sluit toegang tot die Botaniese Tuin, vermaak en die drie rolprente in.

Koop kaartjies

Lorraine van Kokkedoor se Piekniekbondel kos R130.00 per persoon. Só bondel bestaan uit:

Ciabattabroodjie, plaasbotter en basilie-makadamia-pesto; Chermoula-beessosatie met mentjogurt-doopsous; hoendersosatie, tuisgemaakte worsrolletjie gemaak van 100% bees; mini-frittata (botterskorsie, sprietuie en fetakaas). Hiermee saam is daar ook ʼn koeskoesslaai met perskes, tamatie, perskoolslaai, murgpampoentjies, brokkoli, groenbone, neute, pynappel, wortels en heuningslaaisous. Die soetigheid is ʼn koeksister op ʼn stokkie en ʼn sjokolade bruintjie.

Pretoria FM is ‘n trotse mediavennoot.



**LET WEL: Die kaartjiehouer vrywaar die organiseerders van enige aanspreeklikheid indien die funksie as gevolg van weersomstandighede of enige ander omstandighede buite die organiseerder se beheer, gekanselleer moet word. Die kaartjiehouer is tevrede dat hy of sy nie enige terugbetaling kan verwag indien die funksie vir enige rede buite die organiseerders se beheer, gekanselleer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Susan Lombaard ·

Dagsê Adri

Daar is 1 200 kaartjies beskikbaar, en tans is daar nog heelwat plek, maar die verkope neem nou vinnig toe. Moet dus nie te lank wag voor jy jou kaartjies koop nie.

Groetnis
Susan
nms Maroela Media

Adri ·

Ai hoe wens ek nou dat ek daar in die Transvaal gebly het – hier waar ons bly wys hulle nie eers die Afrikaanse flieks nie. Geniet dit.

amiaco ·

Dit klink baie opwindend! Wat is die ouderdomsperke van die onderskeie films wat vertoon gaan word op 12 September?

Sune van Heerden ·

Dagsê Amiaco

Hollywood in my huis – PG
Die Pro – PG 10-12
Die Wonderwerker PG 13 VD (V – geweld; D – Dwelms)

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Amiaco

Hiermee die ouderdomsbeperkings:
Hollywood in my huis – PG
Die Pro – PG 10-12
Die wonderwerker PG 13 VD (V – geweld; D – Dwelms)

Ek hoop ons sien julle daar!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Celeste ·

Mag ons net daar piekniek mandjies ook og een by die restaurant langsaan ook bestel en of ons eie bring?

Celeste ·

Goeiemore julle, askies ek sien eers vanoggend hoe vinnig ek getik het en verkeerd gespel het. Maak nie meer saak nie, het klaar ons kaartjies en piekniek bondels gekoop, sien uit na n “great” aand!! :)

Madelein ·

Is daar ‘n nie-rook beleid van krag?

Ek wil nou nie graag my man verras met so ‘n lekker aandjie en dan word ons opgeklits deur ‘n onbedagte roker wie se rook net na ons toe heeltyd waai nie ;-)

Susan Lombaard ·

Dagsê Madelein! Jammer ons antwoord nou eers, ons skarrel behoorlik om alles vir die Buitebioskoop gereël te kry! Die area waar die piekniek gehou word, gaan as ‘n nierook-area hanteer word. Piekniekgangers kan buite die area gaan rook as hulle wil. Ons sal dit so afkondig, en sekuriteit is gevra om rokers te vra om buite die piekniekarea te gaan rook. Groetnis, Maroela Media

kayla ·

Goeie dag,

Ek sien dat wanneer daar slegte weer is dat die event gekanselleer kan word, ek wil nou nie voor die tyd kaartjies koop en dan die geld verloor nie. Kan ons saterdag nog kaartjies aanlyn koop as die weer lekker lyk?

Juanita ·

Mag ons Saterdag wyn saambring om te drink? Vriendelike groete

Sune van Heerden ·

Dagsê Juanita

Julle is welkom om wyn in julle piekniekmandjie te pak.

Sien julle daar!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Zelda Fouche ·

Goeie dag.
Kan ons ons eie piekniekmandtjies ook invat of moet ons een bestel of alles daar koop?

Sune van Heerden ·

Dagsê Zelda

Bring gerus julle eie piekniekmandjie! Julle hoef glad nie daar iets te koop nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Zelda Fouche ·

Ag neeeee, hoe verkoop die kaartjies nou so vinnig uit? :,-(

Sune van Heerden ·

Dagsê Zelda

Ons is jammer daaroor! Meer as 1 200 kaartjies is inderdaad binne ‘n maand uitverkoop.
Hou gerus Maroela Media dop – ons maak dalk volgende jaar weer só!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Jody ·

Goeie dag ek will net vra is daar dalk enige kaartjies beskikbaar, ek benodig 4 kaarties asb

Sune van Heerden ·

Dagsê Jody

Ons het ongelukkig vanoggend verneem die kaartjies het alles gisteraand uitverkoop!
Hou Maroela Media gerus dop – ons maak dalk volgende jaar weer só!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

amiaco ·

Geen manier dat jul dalk net nog ‘n paar kaartjies beskikbaar gaan stel nie – ons is so bitter spyt dat ons hierdie aand dan moet misloop?
Groete

Sune van Heerden ·

Dagsê Amiaco

Ons het ongelukkig reeds die maksimum aantal persone bereik.
Hou gerus Maroela Media dop – ons maak dalk volgende jaar weer só!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Elardus

Ons sou slegs kaartjies by die hek kon verkoop as ons nie reeds uitverkoop was nie.
Hou gerus Maroela dop – ons maak dalk volgende jaar weer só!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Hanlie ·

Hallo daar

Ek het seker ‘n maand terug al my kaartjie aanlyn betaal maar kry nou nêrens die “link” waar ek dit kan gaan aflaai en print nie. Help asb!

Hanlie ·

Hallo daar
Ek het seker al ‘n maand terug my kaartjies aanlyn gekoop maar kry nou nie die “link” waar ek dit kan aflaai en druk nie. Ek het my bespreking nommer. Kan iemand asseblief help!?

Sune van Heerden ·

Dagsê Hanlie

Ek stuur jou versoek deur aan die regte persoon.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.