Buiteland ‘gewaarsku’ oor ANC se planne met art. 25

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Saai sê hy het briewe aan die meeste van die ambassades in Suid-Afrika geskryf om hulle in te lig oor die ANC se jongste skuif “om die hele eiendomsklousule (artikel 25) van die Grondwet te verander”.

Dié briewe moet volgens Saai groter bewustheid skep van hoe die ANC se agenda strydig is met artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte. Die netwerk vir familieboere vra nou die betrokke regerings se steun vir optrede teen die ANC by die Verenigde Nasies.

Maroela Media het vroeër berig die ad hoc-komitee, wat die wysiging van artikel 25 van die Grondwet moet bekyk, het uitstel geva omdat dié nou die hele artikel, en nie net sekere gedeeltes nie, sal wysig. Dit sal onder meer behels dat enige natuurlike hulpbronne en eiendom sonder vergoeding onteien kan word, solank dit vir ʼn openbare doel of in die openbare belang is.

“Saai is vas oortuig dat die ANC die helfte van alle Suid-Afrikaners ontneem van hul verbintenis tot en respek vir ons Grondwet. Wanneer die ANC sy sin kry met die Grondwet, sal daar geen motivering vir nie-kommuniste wees om die Grondwet te steun nie,” lui ’n verklaring deur Saai.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê in die verklaring die regerende party se planne met die Grondwet kom geensins as ’n verrassing nie. “Die ANC was nog nooit eerlik in sy poging om die Grondwet te verander nie, net soos hy ook nie eerlik was met optrede teen staatskaping, plundery of korrupsie onder sy kaders nie.”

Volgens De Jager is Saai al deur verskeie buitelandse regerings en joernaliste gewaarsku dat die ANC veel meer beoog as bloot ’n onskuldige poging om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

“Die oneerlikheid van die ANC blyk uit sy voorneme om regsoewereiniteit te ondermyn, en daardeur die oppergesag van die reg te ondergrawe deur nou te probeer om die howe se bevoegdhede te beperk in pogings om onteiening sonder vergoeding in werking te stel.

“Die fundamentele oneerlikheid blyk ook uit die wyse waarop die voorsitter van die onteieningskomitee die doel én die bestek van die ondersoek na die voorgestelde wysigings verander, deur ver buite die bestek van die prosedures van die parlement of die reg te beweeg om op die hele artikel 25 te fokus.”

De Jager sê voorts dit is duidelik uit samesprekings met ambassades en buitelandse regerings dat die manier waarop die komitee die program van openbare deelname hanteer geweldige agterdog wek.

“Skriftelike insette het nie net die meerderheid van die voorleggings uitgemaak nie, maar het ook meestal van beleggers, die sakegemeenskap, professionele mense en werkgewers gekom, terwyl die mondelinge voorleggings meestal afkomstig was van anonieme mense wat van iewers met busse aangery is na obskure lokale ver van stadsentrums af wat moeilik was vir sake-eienaars om te bereik.”

Volgens De Jager hanteer dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die wysiging van artikel 25 van die Grondwet bestuur, die openbare verhore dikwels asof dit ’n referendum is.

“Dít terwyl die ANC én die EFF busvragte vreemdelinge na die verhore aangery het wat meestal nie geweet het waaroor die byeenkomste gaan nie en wat vooraf voorgesê is wat om te sê.”

De Jager wys daarop dat 2021 ’n verkiesingsjaar is en dat die regerende party niks het om kiesers mee te lok nie, daarom nou dié stap. “Hy het feitlik alle staatsbeheerde ondernemings en diensleweringskapasiteit in die staat vernietig. Hy het die ekonomie verwoes en sy kaders het ons land tot bankrotskap besteel en geplunder. Hy het geen beter opsie nie as om populistiese politiek te bedryf, soos grondgryping soortgelyk aan wat Zanu-PF sedert 2000 in Zimbabwe doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dup

Kommunisme het oral gefaal maar ons geliefde regering klou soos n neet daaraan.Dit bewys weereens hoe verouderd en verwronge hulle idees is.Geen wonder die land is besig om vinnig in duie te stort nie.

Cherokee

Dit is wanneer mens voor die vraag beland of eiendom omgeskep moet word in kapitaal, om minder gebind te wees aan die land. Want die regeringsplanne mag dalk eiendom waardeloos maak. Maar jy kan nie slegs kapitaal hê sonder eiendom nie, want dan tap jy uit die emmer wat jy gedurende ‘n loopbaan gevul het. Dan word dit ‘n wik en weeg… om meer mobiel te wees of meer gevestig te wees.

Groen Ghoen

Het President Paddakoker dan nie direk na sy verkiesing op nasionale TV aangekondig dat grond onteien gaan word nie? Dit wat nou gebeur is dus geen verrassing nie. Al opsies om die ANC te stuit is dan die howe (riskant weens die getransformeerde regbank) en buitelandse druk (Biden gaan nie help nie – wie in Europa sal wil inmeng?). Hierdie saak kan ‘n droewige wending neem a.g.v. die verkiesingsjaar, opstokery, werkloosheid, en stygende voedselpryse. Ons hoop en bid vir uitkoms. Sterkte, dr. de Jager.

Wakkerslaper

Too little, too late…. die “verkramtes” het die wêreld al in die 1980’s gewaarsku…..

Ian

Hier kom n civil war. Lyk vir my dit is presies wat die ANC wil he. Smaak my die land moet ook nou tot op die grond afgebreek word. Dit is regtig kommer wekkend.