Buitelanders nou in departement se visier

malusi-gigaba-ANA

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: ANA

Malusi Gigaba, wat onlangs weer as minister van binnelandse sake aangestel is, het Vrydag gesê een van sy topprioriteite in dié pos is om die huidige stelsels waardeur Suid-Afrikaanse dokumente aan buitelanders uitgereik word te hersien, aangesien daar “prominente gevalle” is waar die prosedures na bewering verontagsaam is.

“Ons moet vrae vra. ʼn Aantal gevalle het aan die lig gekom wat verband hou met die manier waarop mense toegang tot Suid-Afrikaanse dokumentasie kry. Ek dink ons moet die robuustheid van ons stelsels in daardie opsig hersien,” het Gigaba gesê.

“Sommige van die gevalle was prominente gevalle waar mense Suid-Afrikaanse dokumentasie bekom het en dan is daar later bevind hulle was betrokke by allerhande korrupte en afstootlike aktiwiteite.”

Gigaba het senior bestuurspersoneel by binnelandse sake in Pretoria toegespreek as die begin van sy nuwe termyn as minister ná ʼn kort termyn as minister van finansies.

“Die vraag wat geopper word is: Hoe robuus is ons stelsels om dit te hanteer, om dit vooruit te loop, teen te staan, te minimaliseer? Natuurlik is daar geen manier hoe ons, soos ons hier sit, kan weet dat ʼn persoon moontlik in die toekoms by misdaad of korrupsie betrokke gaan wees nie. Is daar enige iets wat ons kan doen met betrekking tot die stelsels wat ons bedryf om hul robuustheid en waaksaamheid te verbeter om toekomstige probleme te minimaliseer?”

Die Suid-Afrikaanse parlement het voorheen besware gedeel oor hoe lede van die omstrede Gupta-familie, wat bekend is vir hul noue politieke bande, vervroegde burgerskap ontvang het.

Gigaba het Vrydag gesê hy wil die departement van binnelandse sake herposisioneer om te help om ekonomiese ontwikkeling deur middel van sy immigrasiebeleid te fasiliteer. “Een van die dringende goed wat ons moet finaliseer is die herposisionering van die departement,” het hy gesê.

“Ons wil die departement herposisioneer om ʼn rol te speel in die fasilitering van ekonomiese ontwikkeling in die land. Dit beteken om grensposte te ondersteun, toerisme te ondersteun en seker te maak dat ons ʼn rol speel om burgers met dokumente te bemagtig wat hulle in staat sal stel om ʼn ekonomiese rol te speel.”

Die minister is vergesel deur Fatima Chohan, sy adjunk, en Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

E.K. die eerste ·

Paragraaf 3 het betrekking: – absoluut van pas op die Guptas vir wie jy, mnr die minister, baie vinnig gehelp het met naturalisasie en hul kon malgaan met soos jy sê “korrupte en afstootlike aktiwiteite”!

Sarel swartbrand ·

Die probleem lê nie by die imigrante wat wettiglik die land binnegekom nie die probleem le by die korrupte skelm amptenare wat die dokumentasie verkoop, en die tyd het aangebreek om soos die res van die wereld die imigrant getalle te beheer om te voorkom dat die land se hulpbronne uitgeput word deur die hordes wat vanaf afrika instroom.

Pieter ·

Mense uit lande noord van ons stroom hiernatoe omdat dié lande nie werk vir hul mense het nie. Die meeste dra meer by as die groot getalle plaaslike werkloses wat oor geen vaardighede beskik nie. Die probleem waaraan die minister aandag moet gee, is die korrupsie (bribes) en algemene swak maniere waar mense moet toustaan vir permitte by kantore van Binnelandse Sake.

Paspoort ·

Onthou, dit was sy slim idee met die kinders se paspoorte en verpligte geboorte sertifikate wat toerisme erg benadeel het. Wonder wat hy die keer gaan uitdink.

Siek en sat ·

Ag Gigaba. Jys n regte verkleurmannetjie. Wat van jou Gupta maatjies wat SA burgerskap gekry het. Sommer vinnig EN sonder regte prosedures. Ek vertrou jou gladnie Gigaba.

PJC ·

Hoe probeer die vent homself verontskuldig en ń beter beeld van homself skep. Niemand sal hom egter ooit weer glo of vertrou nie. Wat die publiek betref is en bly hy ń skelm.

Ian Smith ·

‘n Suid Afrikaanse paspoort beteken enige persoon op die planeet wat R10 000 omkoop geld kan betaal. Nou sit ons met die situasie dat ons visums nodig het om na die buiteland te reis aangesien ‘n Suid Afrikaanse paspoort van alle integriteit gestroop is. Om na die Verenigde Koninkryk te reis kos amper R2 000 vir ‘n ses maande toeriste visum. Twintig jaar gelede was jou Suid Afrikaanse paspoort al wat jy nodig gehad het.

Alida ·

Hy het die Guptas toegelaat wat probeer hy nou bewys? Onbevoeg dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.