Malusi Gigaba, wat onlangs weer as minister van binnelandse sake aangestel is, het Vrydag gesê een van sy topprioriteite in dié pos is om die huidige stelsels waardeur Suid-Afrikaanse dokumente aan buitelanders uitgereik word te hersien, aangesien daar “prominente gevalle” is waar die prosedures na bewering verontagsaam is.
“Ons moet vrae vra. ʼn Aantal gevalle het aan die lig gekom wat verband hou met die manier waarop mense toegang tot Suid-Afrikaanse dokumentasie kry. Ek dink ons moet die robuustheid van ons stelsels in daardie opsig hersien,” het Gigaba gesê.
“Sommige van die gevalle was prominente gevalle waar mense Suid-Afrikaanse dokumentasie bekom het en dan is daar later bevind hulle was betrokke by allerhande korrupte en afstootlike aktiwiteite.”
Gigaba het senior bestuurspersoneel by binnelandse sake in Pretoria toegespreek as die begin van sy nuwe termyn as minister ná ʼn kort termyn as minister van finansies.
“Die vraag wat geopper word is: Hoe robuus is ons stelsels om dit te hanteer, om dit vooruit te loop, teen te staan, te minimaliseer? Natuurlik is daar geen manier hoe ons, soos ons hier sit, kan weet dat ʼn persoon moontlik in die toekoms by misdaad of korrupsie betrokke gaan wees nie. Is daar enige iets wat ons kan doen met betrekking tot die stelsels wat ons bedryf om hul robuustheid en waaksaamheid te verbeter om toekomstige probleme te minimaliseer?”
Die Suid-Afrikaanse parlement het voorheen besware gedeel oor hoe lede van die omstrede Gupta-familie, wat bekend is vir hul noue politieke bande, vervroegde burgerskap ontvang het.
Gigaba het Vrydag gesê hy wil die departement van binnelandse sake herposisioneer om te help om ekonomiese ontwikkeling deur middel van sy immigrasiebeleid te fasiliteer. “Een van die dringende goed wat ons moet finaliseer is die herposisionering van die departement,” het hy gesê.
“Ons wil die departement herposisioneer om ʼn rol te speel in die fasilitering van ekonomiese ontwikkeling in die land. Dit beteken om grensposte te ondersteun, toerisme te ondersteun en seker te maak dat ons ʼn rol speel om burgers met dokumente te bemagtig wat hulle in staat sal stel om ʼn ekonomiese rol te speel.”
Die minister is vergesel deur Fatima Chohan, sy adjunk, en Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Paragraaf 3 het betrekking: – absoluut van pas op die Guptas vir wie jy, mnr die minister, baie vinnig gehelp het met naturalisasie en hul kon malgaan met soos jy sê “korrupte en afstootlike aktiwiteite”!
Die probleem lê nie by die imigrante wat wettiglik die land binnegekom nie die probleem le by die korrupte skelm amptenare wat die dokumentasie verkoop, en die tyd het aangebreek om soos die res van die wereld die imigrant getalle te beheer om te voorkom dat die land se hulpbronne uitgeput word deur die hordes wat vanaf afrika instroom.
Ons deuntjies verander elke dag. Wie prober hy nou impress?
Onthou, dit was sy slim idee met die kinders se paspoorte en verpligte geboorte sertifikate wat toerisme erg benadeel het. Wonder wat hy die keer gaan uitdink.
Ag Gigaba. Jys n regte verkleurmannetjie. Wat van jou Gupta maatjies wat SA burgerskap gekry het. Sommer vinnig EN sonder regte prosedures. Ek vertrou jou gladnie Gigaba.