Buitelanders tronk toe vir diefstal van selfoontoringbatterye

Argieffoto.

Vier buitelanders is Donderdag in die Hankey-streekhof in die Oos-Kaap gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die diefstal van selfoontoringbatterye.

Tapiwa Chikono, Dotonya Chikono, Thomas Magaba en Anthony Chodov, al vier Zimbabwiërs, is elk 25 jaar gevangenisstraf opgelê. Tien jaar hiervan is vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en 15 jaar vir diefstal.

Die hof het verder beveel dat die vier na Zimbabwe gedeporteer moet word nadat hulle hul vonnisse uitgedien het.

Lwando Zenzile, woordvoerder van die Valke, sê die plaasbestuurder van die RB Young-boerdery in Kleinrivier het tussen Februarie en April vanjaar bewus geword van die beskadiging van infrastruktuur op sy plaas.

“Hy het ontdek dat die draad rondom een van die selfoontorings op die plaas geknip is. Die verdagtes het moontlik só toegang tot die selfoontoring gekry om die batterye te steel,” sê Zenzile.

Zenzile sê die bestuurder het daarna by ʼn ander toring op die plaas ondersoek gaan instel waar hy gemerk het dat die draad rondom dié toring ook geknip is. Agt batterye is gesteel.

Ses batterye en ses reguleerders is agtergelaat en naby die toring gevind.

Kringtelevisiebeeldmateriaal het boonop gewys hoe vier verdagtes die plaas betree en die toringbatterye steel.

“Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagtes op 24 April vanjaar,” het Zenzile gesê. “Hulle is in besit gevind van die gesteelde batterye ter waarde van R160 000 sowel as ongelisensieerde vuurwapens.”

Die beskuldigdes se aansoek om borgtog is vroeër van die hand gewys en hulle was in aanhouding tot en met hul onlangse skuldigbevinding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ons grense is mos oop en hulle kan mos maak wat hulle wil want ons hopelose regering se mos so.

Johann ·

Lekker man. So kry hulle lekker board and lodge op SA belasting? OF hulle kan saam met een van Ramaposa se “fellow South Africans” comrades n lift vang Zim toe?

Pietertjie ·

En nou moet die Suid Afrikaanse belastingbetaler vir hulle sorg, vir die volgende klompie jare

lodewyk ·

Hulle se mens moet nie geweld aanhits teen oor buitelanders nie,maar kyk nou onlans na die moord op die ma en dogter en ook vele ander plaas aanvale /moorde en ook diefstal,hulle kom oor die grens en moor en roof soos hulle wil en nou gaan ons belasting betalers oor vir hulle kostes in die tronk betaal-dit laat n mens dink hoekom hulle nie welkom in ons land is nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.