Buitelandse diens nie ‘beloning’ vir korrupte kaders

(Argieffoto: initiateimmigration.com)

Die DA sê pres. Cyril Ramaphosa volg luidens berigte in die voetspore van sy voorganger – Jacob Zuma – deur lojale Luthuli-huis-kaders, eerder as beroepsdiplomate, na die buiteland te ontplooi.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê beroepsdiplomate is trots op hul diens aan die land en probeer die hoogste sport in hul loopbane bereik.

Bergman sê dit lyk of net diegene wat die land in die verleentheid stel of kinders van prominente politici is, die topposte by ambassades kan bereik.

“As ons op dié trant voortgaan, gaan dit die talentpoel beduidend tot nadeel van Suid-Afrika laat krimp.”

Bergman sê die DA het die Wet op Buitelandse Dienste om ʼn verskeidenheid redes gesteun, waarvan die belangrikste was dat daar ʼn minimumvereiste is waaraan moontlike diplomate moet voldoen om te verseker hulle het die nodige vaardighede voor hulle ontplooi word.

“Dit was belangrik om te verseker die klem verskuif van die beloning van sogenaamde ANC-vriende tot beter verteenwoordiging van Suid-Afrika.

“Dit is erg genoeg dat Suid-Afrikaanse diplomate die hoofopskrifte haal weens smokkelary of omdat hulle hul meer soos glanspersoonlikhede as openbare verteenwoordigers gedra. Die feit dat sommige van diegene wat aangestel is oënskynlik nog nie sekerheidsklaring gekry het en ontplooi is nie, is ʼn verdere hindernis. Dié aanstellings word maande lank vertraag,” sê Bergman.

“Ons sien ook hoe politici wat na bewering ernstige oortredings begaan het, eindelik as ambassadeurs aangestel word, eerder as om tronkstraf opgelê te word.”

Die DA sê Ramaphosa moet die wetgewing ernstig opneem en verseker dat Suid-Afrika se internasionale beeld en benadering verbeter word.

Bergman sê dit is tyd om die wêreld te wys Suid-Afrika is ernstig oor toerisme en beleggings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kokerboom ·

Lig weer die name uit DA asook hul oortredinge. Hang dit aan die groot klok asb

My siening ·

Ace gaan seker die ambassade word in USA! Ooo julle is n grap….

Jaco ·

Dié dinge het op ‘n kleiner skaal maar ook in die ou SA gebeur. Lede van die Broederbonder, die geheime “think tank” agter die regende Nasionale Party, het toe ook allerhande lekker jobs in die staatsdiens en in groot Afrikaner besighede soos Sanlam en Volkskas gekry. Bekwaamheid en opleiding het seker toe darem ‘n groter rol gespeel, maar ook nie altyd nie.
So die beginsel van lekker jobs vir jou politieke pêlle kom toe sowaar uit die ou SA.

Jaco ·

As dit die geval is. Moet lande nie die diplomate erken nie.

Jack ·

DA politici is ook “beloon” met ambassadeurs poste bv Tony Leon en Dougla Gibson.

Adam Adriaan ·

Ek glo nie daar is genoeg lande in die wêreld om die sulkes te her-ontplooi nie, tensy die lande bereid is om sowat halfmiljoen per land te neem.

Roggeveld ·

Nee wat, die ANC is berug daarvoor dat hulle korrupte lojale kaders beloon met ambassadeursposte, Die Mandela-telg wat onlangs oorlede is, is ‘n goeie voorbeeld. Wanneer ANC-hoekoppe uitgevang word, word hulle ook na die buiteland, en uit die oog uit, ontplooi.

christo ·

Die ANC se politieke stamboom is deurtrek met Sisulu’s, Mandela’s ens. Indien die kiesstelsel in SA nie verander waar die kieser die verteenwoordiger kies wat hulle in die parlement moet verteenwoordig nie , sal ons altyd die party se ‘kaderlys’ tevrede moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.