Buitelandse vrou maak Kaapse draai vir hartoperasie

Natascha Oliversen. (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou wat deur dokters in die Filippyne aangeraai is om haar familie te groet omdat sy moontlik nie ʼn opehartoperasie vir die herstel van ʼn lekkende hartklep sou oorleef nie, se lewe is deur ʼn span Kaapse dokters gered.

Natascha Oliversen, oorspronklik ʼn Namibiër maar nou ʼn inwoner van die Filippyne, het vroeër vandeesmaand sleutelgat‑chirurgie vir die herstel van die klep by die Netcare Christiaan Barnard‑gedenkhospitaal ondergaan.

Die minimaal indringende operasie is deur prof. Jacques Sherman, ʼn kardiotorakschirurg, en dr. Otto Thaning, ʼn chirurg, uitgevoer.

“Ek het nie eens geweet dat daar so ’n minimaal indringende benadering beskikbaar was om beskadigde hartkleppe te herstel nie, en ek en my man is oorstelp dat ek hierdie prosedure in Kaapstad kon ondergaan. Voor die operasie het ek regtig die gevolge van my lekkende hartklep begin voel en was ek baie bekommerd oor my toekoms,” sê Oliversen.

Sy sê dr. Thaning het by haar onlangse opvolg gesê dat die herstel so goed was dat hy nie eens kon sien dat sy ʼn operasie ondergaan het nie. “Ek voel al baie sterker en het weer hoop vir die toekoms,” voeg sy by.

Thaning verduidelik dat Oliversen die ideale kandidaat vir ’n hartklepherstel eerder as klepvervanging was, omdat herstelwerk meer duursaam is. “Ons verwag dat Natascha binnekort al haar normale aktiwiteite kan hervat en weer ’n normale lewe kan voer,” sê hy.

Oliversen sê verder dat sy eers ʼn ompad na die Kaapse hospitaal gevat het, voor sy besluit het om haar operasie hier te laat doen. “Ek was nogal bang voor die operasie, veral oor my Filippynse dokter vir my gesê het dat ek my gesin moet gaan groet. Ek het toe na my familie in Namibië gereis en ’n ou vriend teëgekom wat kankerbehandeling in die Christiaan Barnard‑hospitaal ondergaan het.”

Haar mediese versekeraar het haar eers probeer oorreed om die operasie in Singapoer, die Verenigde Koninkryk of in Noorweë te doen. Oliversen en haar man was op pad om na Noorweë te verhuis. “Ná noukeurige ondersoek het ek besluit dat die oplossing wat deur die span by die Christiaan Barnard‑hospitaal aangebied word, die beste moontlike behandeling vir my toestand sou wees. Ek is baie dankbaar dat ek daarop aangedring het om daar behandel te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eunice ·

Baie seen en n volkome herstel en nuwe toekoms vir jou, Natascha! Dis louter Genade van Bo, hoop jy besef dit

Sterlig. ·

@Steenkamp.Ek dink nie jy verstaan die begrip genade nie.Genade het twee kante nl algemene en besondere genade.Besondere genade is waar ons sondes vergewe word en on kinders van God word.Algemene genade is gewone dinge wat alle mense van die Here kry:rëen kos en ook uitstekende chirurge.

koos ·

En danksy die ANC se volgehoue druk om die Nasionale Gesondheids Plan deur te druk sal dienste soos die eersdaags nie meer ons land beskore wees nie.

Jax ·

Fantasties. Drs in ons land is die beste in die wêreld. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir wat hulle aan ons familie gegee het. Geen enkele dokter of hospitaal in die buite land kon aan ons dit bied nie.
Alles is nie altyd doom en gloom hier nie.
Sterkte met die herstelproses

Andre ·

Hierdie land het n baie goeie en blink toekoms gehad , ons het meegeding met die beste ter wereld……….toe val die brommer in die room..

Petro ·

Christiaan Barnard Hospitaal het die heel beste dokters en verpleegpersoneel! Deur God se genade is ons kleinkind op 8 maande ook deur hulle hande met opehart-chirurgie! Ons bid en hoop dat hierdie kennis en liefde vir ons land behoue bly!

Hartseer ·

Wonderlike nuus!!!!! Hoop jy herstel vinnig

Kan my man n nuwe hart kry???? by hulle

Kokketiel ·

Hartseer, ek ken nie julle omstandighede nie, maar miskien kan jy bel en vra? Ek is seker die mense sal Alles in hulle menslike vermoëns doen om te probeer help. Baie baie sterkte. Xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.