‘Buitelugliefhebbers roep gouer om hulp’ – WSAR

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

Die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het die afgelope ruk ’n afname in die aantal reddingsvoorvalle waarby stappers of klimmers ernstig beseer is, opgemerk.

Dit is omdat dié buitelugliefhebbers moontlik gouer om hulp vra wanneer hulle onveilig begin voel, sê David Nel, woordvoerder van die WSAR.

“Ons begin ’n toename sien in die aantal wildernisvoorvalle waarby mense ongedeerd of lig beseer is. In die verlede het ons gesien dat pasiënte ernstig beseer is terwyl hulle probeer het om hulself uit ’n situasie te red.

“Ons wil almal verseker dat ons passievolle en toegewyde spanne het wat gereed is om te help wanneer dit nodig is.”

Die WSAR het die afgelope week op drie voorvalle in Kaapstad gereageer.

In die eerste voorval het twee buitelandse stappers Maandagaand die WSAR se hulp ingeroep toe hulle besef hulle gaan nie hul staproete in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin voor die son sak klaarmaak nie.

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

“Reddingswerkers is onmiddellik na Tafelberg ontplooi om die stappers te help. ’n WSAR-lid wat in die omgewing gehardloop het, het die stappers op die Smuts-roete opgespoor en gelei na die reddingspan by Maclear’s Beacon.

“Die reddingspan en die stappers het na die boonste kabelkarstasie gestap waar hulle met die kabelkar veilig berg af geneem is.”

WSAR-lede is Dinsdagaand na Chapmanspiek ontbied om drie studente, in hul vroeë 20’s, te help wat in die moeilikheid beland het.

“Die studente het verby die kruin gestap en gestop om na die sonsondergang te kyk. Hulle was onbekend met die roete en het ook nie flitse gehad nie en kon sodoende nie hul pad terugvind nie.”

’n Hommeltuig van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand is ingespan om die stappers op te spoor.

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

’n Reddingspan het die trio veilig terug met die piek af gelei.

In ’n derde voorval is WSAR-lede Woensdagoggend na Leeukop ontbied om ’n 19-jarige stapper te help wat met die afklim gegly en homself beseer het.

“Paramedici en veldwagters van SANParke het die pasiënt eers geassesseer en op die toneel behandel voordat hulle hom van die berg af gehelp het. Hy is later per ambulans hospitaal toe geneem.

Die WSAR het vroeër gewaarsku dat buitelugliefhebbers hierdie tyd van die jaar ekstra versigtig moet wees weens die nat en koue weerstoestande.

“Maak seker jy pak ʼn waterdigte laag en ekstra warm klere in wanneer jy die pad vat. Wees versigtig wanneer jy naby riviere of op nat en gladde roetes stap,” het Nel gesê.

Die WSAR maak staat op die vrygewigheid van ander en het mense vir hul voortgesette bydraes bedank. Die organisasie bestaan uit ʼn netwerk van staatsagentskappe en burgerlikevrywilligersgroepe wat met soek-en-reddingsoperasies help.

  • In geval van nood op ʼn staptog in die streek, bel die WSAR by 021 937 0300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Beter om gou te roep en nie n held te probeer wees nie. Nou nie roep omdat dit donker raak nie. Maar as jy werklik hulp nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.