Buitensporige bonusse ‘versterk stemme vir nasionalisering’

prof-jannie-rossouw-afrisake-2017-04-24-02

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, het Maandagoggend gekap na uitvoerende hoofde van banke wat bonusse van etlike miljoene rande aanvaar. Foto: Reint Dykema.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, het Maandagoggend tydens ʼn sakeontbyt gekap na uitvoerende hoofde van banke wat bonusse van etlike miljoene rande aanvaar.

Rossouw, wat ʼn spreker was by ʼn geleentheid van die niewinsgewende sakeregtewaghond, AfriSake, in Centurion, Pretoria, het gesê die uitvoerende hoofde speel reg in die hande van mense wat aanspraak maak op die nasionalisering van banke deur sulke buitensporige bonusse en salarisverhogings te aanvaar.

Luidens Standbard Bank se jaarlikse verslag wat Vrydag bekendgemaak is, het die ses top uitvoerende bestuurslede van die bank verlede jaar altesaam R209 miljoen in salarisse, bonusse en ander voordele ontvang. Die bank se uitvoerende hoofde, Ben Kruger en Sim Tshabalala, het elkeen ʼn vergoedingspakket van sowat R45 miljoen in 2016 ontvang. David Munro, groephoof van korporatiewe en beleggingsbankdienste, het ook R45,2 miljoen vir die jaar ontvang.

Die voorsitter van die bank se vergoedingskomitee, Peter Sullivan, het aangevoer die hoofbestuurders het in die meeste gevalle verwagtinge bereik of oorskry in die gebiede waar hulle direkte verantwoordelikheid en aanspreeklikheid het, en vandaar die verhogings en bonusse.

Rossouw meen egter die uitbetalings en bonusse is ʼn skandaal. “Die risiko vir bankrotskap is minimaal as jy in gedagte hou dat die Reserwebank borg sal staan indien die banke sou vou. En dan is mense nog verbaas dat daar gepraat word van nasionalisering van banke en welvaartbelasting. Miskien moet daar eerder gepraat word oor ʼn maksimumloon.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep wat ook ʼn spreker by die geleentheid was, het egter gesê hy is glad nie ʼn voorstander van ʼn maksimumloon nie. “Dit is juis oor die staat se inmenging dat die ekonomie nou so sleg daaraan toe is. Ek sou aanbeveel dat ons die mark oopmaak en banklisensies makliker bekombaar maak. Die verbruiker kan dan self besluit watter banke hulle wil ondersteun want soos sake nou staan is banke reeds semi-staatsinstellings.”

Volgens Rossouw is die monopolie van net vyf banke wat 80% van die plaaslike mark beheer “ʼn selfgemaakte verskynsel” wat veroorsaak is deur die “vreeslose burokrate”. “As Saambou nie in 2001 toegelaat is om te vou nie, sou die landskap van banke dramaties anders gelyk het, maar ʼn hele klas van banke is op dié manier verwyder.

“Dit is vir my ʼn morele dilemma waarmee ons tans in Suid-Afrika sit en ek vra uitvoerende hoofde om die moed aan die dag te lê om te vra dat hulle nie soveel in bonusse ontvang nie.” Rossouw meen bestuurshoofde en vergoedingskomitees sal sodoende verhoed dat hulle die hande versterk van dié mense wat die retoriek van nasionalisering voorstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Alida ·

Ek hoop hierdie mense wat duidelik weet waarvan hulle praat bring hulle kennis na vore en druk vir Zuma en die Guptas in ‘n blik. Hou net die deksel styf toe !!!! JZ & Gupta klan is ongeletterd en dink hulle kan die hele land soos pionne rondstoot.

Mielie ·

Ek stem saam hoe kan 1 persoon dit werd wees vir n jaar se werk. Die mense wat kliente bedien bereik nie hul doelwitte nie want dis nie haalbaar nie. Dis ook nie net die banke nie. Daar is maatskappye waar die toplui groot bonusse kry maar die junior bestuur kry nie verhogings nie agv winste al het hulle hul doelwitte bereik. Ek dink hulle moet ook blootgestel en beboet word.

MCH ·

Dit is n skreiende skande om mense, gewone mense, so n wavrag geld te betaal! Die sakesektor behoort die voortou te neem in die verband, deur n voorbeeld aan ons gekaapte regering te stel aan wat geregverdigbaar is vir uitvoerende hoofde. Die klas van uitbetalings is niks anders nie dan gewettigde diefstal! Daar is n span mense onder uitvoerende hoofde wat die werk doen. Stop dit! Waar is die anndeelhouers aktiviste?

Juanette ·

Ek stem volkome saam met altwee die mense!Die professor en ekonoom!!Die regering meng teveel in alles in dis hoekom Suid-Afrika sit waar ons is!!Mens sal nie glo dat ons ń Demokratiese land is nie soos wat die staat alles wil beheer!!Klink meer soos ń Kommunistiese land!!Waar die staat alles beheer en goed op mense afdwing!!Kyk maar die maatskappye wat die staat wil beheer, die banke, die sport en media!!Laat ń mens wonder!!!Jy mag niks sê nie dan word jy aangekla waar is Vryheid van spraak dan!!!

Feetjie ·

Ek stem saam, kyk daar was onder alle regerings altyd FAT CATS< maar die miljoene en biljoene waarvan daar deesdae gepraat word is darem belaglik. Om 30 miljoen in te hark nadat jy 18 maande by 'n plek gewerk het is darem vreeslik, veral as jy niks goeds gedoen het nie .. Dit is 'n skande hoe hierdie mense SKEP, as jy die regte politieke konneksies het SKEP jy, maar dit is mos wat die liberaliste en ander Wits manne altyd vir SA wou gehad het . REDISTRIBUTION of WEALTH . wel daar het julle dit nou .. Dis die land van MELK en heuning wat julle vir ALMAL voorgehou het . KAAS dit en geniet dit, moenie nou kla oor moontlike nasionalisering nie . julle kon dit mos voorsien het in ons 'mooi reenboogland.

Piet Pompies ·

SA se bestuurslede word die meeste betaal en vergelyking met ander lande. Dit is bloot gierigheid tot nadeel van die werkers.

Scalla ·

Gewone bankamptenaar wat na skool begin werk het en aftree op opderdom 60 as bankbestuurder se aftree pakket is nie eers R5 miljoen nie. Medies moet self betaal word aangesien subsidie staak, so die hoofmanne ontvang dit in n jaar waar die werker 40 jaar moet arbei, lyk my hul kompeteer met die staat en haat kompetisie.

Oom Kosie ·

Ek stem saam met Dr Dawie. Geen maksimum nie. Kyk vir Whitey Basson. Maak asv n studie van die rare spesie asb.
Mense wat hierdie top verdieners is het gewoonlik buitengewone talente. Die gevegsterrein waarin hulle opereer is die van moderne gladiators waar jy moet perform teen die bestes. Jou oposisie moet geslag word of jy en mede werkers sterf n vinnige ekonomiese dood. Jy moet ook al 10 van jou talente gebruik. Hierdie is n 16 uur per dag JOB. Jy het die Regering en sy vakbond alliansie teen jou. Jy moet ook in Afrika en internasionaal operate. Vir jare is jy n gevangene. Jy moet liewe oulike mense FIRE wat nie hul werk doen nie.
Prof. Jannie met sy akademiese veilige job moet asb n studie maak van hierdie rare helde wat SA se ekonomie moet dryf.

snoefie ·

nou weet ons ook hoekom die rents op ons beleggings en bank saldo’s so vrot is.

Anoniem ·

Dit gaan my verstand te bowe hoe sekere persone in sekere poste dit kan regverdig om 45 Miljoen Rand per jaar te kan verdien. Dit is gemiddeld 3.75 Miljoen Rand per maand. Ons middelklas moet spook en spartel om aan die lewe te bly en sal nie eers 3.75 Miljoen Rand bymekaar maak om eendag met aftrede van te moet lewe nie. Ons het ongelukkig self hierdie Kapitalistiese Monster grootgemaak en weet nou nie wat om daarmee te doen nie.

Ig ·

Ek sal ook iemand 45 miljoen betaal wat vir my duisende miloene per jaar wins maak.

Helizna ·

Amerika het bouverenigings, wat ‘n stewige kompetisie vir die banke bied. Saambou het gevou, maar wat keer ons om weer so iets te begin? Is daar wette daarteen of iets?

louwrens ·

Ek het nie veel van n probleem met die top salarisse nie. In die privaatsektor word salarisse gewoonlik aan n teenprestasie gekoppel. Dit is in die staat en semi-staat sektor waar die probleem is. Hier is geen teenprestasie ter sprake nie en hoofde verdien astronomiese bedrae ten spyte daarvan dat hulle – hulle ondernemings in die grond in bestuur.

Boetman ·

Wat ñ skande. Die volgende persoon het nie geld om ń brood te koop nie. Die werkers onder toe wat die vuil werk doen kan ook in dit deel.

Walter ·

Totdat jy self daar bo sit. Dan kan die werkers minder kry. Anders vreet hulle in jou salaris in.
Nee, as hulle goeie profyt toon, verdien hulle elke sent. Ek het geen probleem met suksesvolle ondernemings wat die base goeie geld betaal nie.
Dis wanneer dit plekke is wat elke jaar wil vou, en die goewerment moet hulle aanhoudend aanvul met my belasting geld. Hulle is die probleem.

Chaparel ·

Die hele infrastruktuur van die land le plat, waar meer geld uit bestee word aan topsalarisse, bonusse, goue handdrukke en top pensioene en die inkomste van die land wegval dan kelder die waarde van die Rand.
Oor n paar jaar is die miljoene wat die menere gekry het ook niks meer werd nie want dan kry hulle vir 10 000 rand maar 1 Amerikaanse dollar.

Ja-nee ·

As my buurman honger is, kan ek nie slaap nie – Dr Anton Rupert.

Adam ·

Dr Rupert was seker maar ‘n slegte slaper want ten minste 25 miljoen van sy bure het in armoede krepeer. Tragies genoeg is daar vandag nog meer arm mense in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.