Bullet-die-bul nou wingerdbewoner

Op Vergelegen is die kudde heeltemal vrylopend en die beeste wei op ʼn mengsel van kikoejoe, klawer en fynbos – en altyd onder die wakende oog van Sivuyile Mthiya. (Foto: Vergelegen)

Bullet, ʼn manjifieke tweejarige Nguni-stoetbul, het ʼn nuwe tuiste by die Vergelegen-wynlandgoed gevind. Bullet sal daar aansluit by die bestaande kudde van 320 Nguni-beeste.

Bullet is geteel op ʼn klein landgoed op Raithby, tussen Somerset-Wes en Stellenbosch, en het kenmerkende swart-en-wit kleurpatrone. Hy word bestempel as ʼn “waardevolle toevoeging” tot Vergelegen se teelkudde, waar daar gefokus word op kleur en temperament.

Nguni-beeste is veral gewild vir hul velkleurige velle, asook as ʼn geharde ras wat geskik is vir optimale vleisproduksie, selfs onder taai Afrika-toestande. Hulle is grasvreters en peusel as daar nie genoeg weiding beskikbaar is nie. Die ras vereis min onderhoud en kalf boonop maklik.

Op Vergelegen is die kudde heeltemal vrylopend en die beeste wei op ʼn mengsel van kikoejoe, klawer en fynbos – en altyd onder die wakende oog van Sivuyile Mthiya.

Die bestuur het in 2001 besluit om Nguni’s by die 324 jaar oue wynlandgoed te begin aanhou en het van die beeste by ʼn stoet in die Malmesbury-distrik, asook in die Oos-Kaap bekom. In 2010 het die landgoed die Vergelegen Nguni-stoet geregistreer.

Nguni-beeste is veral gewild vir hul velkleurige velle, asook as ʼn geharde ras wat geskik is vir optimale vleisproduksie, selfs onder taai Afrika-toestande. (Foto: Vergelegen)

Vergelegen is die tuiste van ses Nguni-stoetbulle: Bullet, Ox en Victor (genoem na rugbyhelde Ox Nché en Victor Matfield), Brutus jr., asook twee onbenoemde bulle.

Die kudde floreer ooglopend en 120 van die 180 koeie sal na verwagting tussen Junie en Augustus kalf.

Wayne Coetzer, besturende direkteur van Vergelegen en ʼn man wat op ʼn plaas in KwaZulu-Natal grootgeword het (waar hy ook vlot Zoeloe leer praat het), sê hulle is besonder trots om die rentmeesters van die erfeniskudde te wees.

“Nguni-beeste het geweldige estetiese, kulturele en geestelike betekenis,” sê Coetzer.

“Ek verwelkom Bullet met groot verwagtinge en die belofte van geil weivelde, koel en helder water en liefde. Ek wens vir hom ʼn toekoms vol vrede en gemak wat net beter gemaak word deur salige beesgeselskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Dingaan beeste. Nie veel om op trots re wees nie. Stadige gewigstoname.Presteer nie na reg in die voerkraal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.