Bulls breek Benetton in 2de helfte

Kurt-Lee Arendse het twee drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Bulls het vandag weer eens op Loftus Versfeld gewys dat die manier waarop ’n span ’n wedstryd begin dikwels nie so belangrik is as die wyse waarop hy dit eindig nie.

’n Lustelose vertoning in die eerste helfte het beteken dat alle wraakgedagtes jeens Benetton vir eers opsy geskuif word; ’n rustydagterstand van 16–12 het ’n mens onwillekeurig aan daardie rampspoedige dag in Italië laat terugdink toe die Italianers met die trots van Pretoria in die eindstryd van die Reënboogbeker afgereken het.

Maar die tuisspan het al vantevore (teen Ulster, nogal) gewys dat hulle nie in hul dop ná ’n teleurstellende eerste helfte kruip nie en ’n sterk tweedehelftevertoning het gesorg dat hulle die kragmeting met 46–29 gewen het.

Die Bulls, wat met swart armbande ter nagedagtenis aan Pedrie Wannenburg gespeel het, het ses drieë gedruk om ’n bonuspunt ook te verseker.

Kurt-Lee Arendse was vir die soveelste keer in die Verenigde Rugbykampioenskap ’n doring in sy teenstanders se vlees en sy opportunistiese spel is met twee drieë beloon, terwyl hy ook ’n reuserol in Canan Moodie se uitstekende teenaanval-drie gespeel het.

Foto: GB Jordaan.

Dan het Ruan Nortjé voorlangs uitgeblink, terwyl Chris Smith (selfs ná ’n paar verbroude stelskoppe) tevrede met sy balverspreiding en visie kan voel.

Vir Benetton het die oudagterspeler van die Cheetahs en Sharks, Rhyno Smith, met sy akkurate skopwerk uitgeblink.

Die Paarl-boorling was ook so amper met ’n hengse skepskop-poging in die kol, terwyl hy die Bulls-verdediging ook op die aanval besig gehou het.

Maar ná ’n onrustige begin tot die wedstryd het die Bulls nie net vir hul nederlaag in Treviso vergoed nie, maar ook hul kanse ’n hupstoot gegee om vir die uitspeelwedstryde van die VRK-reeks te kwalifiseer.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Kurt-Lee Arendse (2), Cyle Brink, Marcell Coetzee, Canan Moodie en Simphiwe Matanzima. Doelskoppe: Chris Smith (3) en Morné Steyn (2). Strafskoppe: Smith (2).

Benetton: Drieë: Tommaso Menoncello (2). Doelskoppe: Rhyno Smith (2). Strafskoppe: Smith (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.