Burgemeester afgedank ná Stutterheim-betogings

’n Vragmotor is op die N6 by Stutterheim uitgebrand. Foto: SAPD

Die ANC in die Oos-Kaap het Pateka Qaba, die beleërde burgemeester van die Amahtlathi-munisipaliteit, in die pad gesteek te midde van die gewelddadige betogings in Stutterheim.

Die party het gehoor gegee aan die eise van die betogende gemeenskap en is in die proses om die burgemeesterskomitee van dié sukkelende munisipaliteit te ontbind.

Betogings in die dorp het middel Oktober begin toe woedende, werklose jeugdiges die strate ingevaar het en die Amahtlathi-munisipaliteit beskuldig het van nepotisme en dat beamptes poste vir geld en seks verkoop. Hulle het ook aangevoer Qaba is nie ʼn inwoner van Amahtlathi nie en stel haar vriende aan wat van dieselfde gebied as sy af kom.

Betogers het onder meer munisipale geboue en ʼn kliniek aan die brand gesteek. Voertuie op die N6 is met klippe bestook en vragmotors is uitgebrand. Volgens die polisie is meer as 30 mense sedertdien in hegtenis geneem.

Betogers op Stutterheim in die Oos-Kaap het minstens drie munisipale geboue afgebrand. Foto: Facebook

Lulama Ngcukayitobi, provinsiale sekretaris van die ANC in die Oos-Kaap, het Woensdag gesê die party het ná gesprekke met die gemeenskap besluit om die burgemeester van haar amp te onthef.

“Ons het met die mense gepraat en nadat hulle hul ontevredenheid met die burgemeester en die uitvoerende gesag uitgespreek het, is die besluit geneem om die uitvoerende gesag te herstruktureer. Ons is steeds in gesprek oor die kandidate wat by die uitgaande beamptes sal oorneem,” het Ngcukayitobi gesê.

Die ANC het egter die geweld en beskadiging van infrastruktuur veroordeel en dit toegeskryf aan “kriminele elemente wat die betogings infiltreer het”. Ngcukayitobi het gesê van die inhegtenisnemings is bereik met behulp van betogers wat probeer om die kriminele elemente uit te roei.

Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die nasionale tesourie sal ʼn forensiese ondersoek doen na die bewerings wat deur die betogers aan die lig gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wraggies ·

Lyk my dis waar dat die ANC eers reageer op hulle ondersteuners se behoeftes wanneer dorpe afgebrand word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.