Burgemeester bedank ná WhatsApp-foto

Simon Mofokeng. Foto: Twitter via @GautengANC.

Simon Mofokeng, die burgemeester van Emfuleni (Vanderbijlpark), het bedank nadat hy drie weke gelede op spesiale verlof geplaas is.

Hope Papo, die provinsiale sekretaris van die ANC in Gauteng, het gesê die ANC se provinsiale uitvoerende komitee het Mofokeng se besluit om as burgemeester en raadslid te bedank, aanvaar. “Nadat die interne organisatoriese prosesse deur die provinsiale ampsdraers afgehandel is, sal verdere besluite aangekondig word,” het Papo gesê.

Maroela Media het vroeër berig Mofokeng is op spesiale verlof geplaas nadat hy glo ʼn foto van ʼn halfkaal 14-jarige meisie op ʼn WhatsApp-groep van ANC-leiers, genaamd “Festival of Ideas”, geplaas het. Mofokeng staar nou ook aanklagte van seksuele gereedmaking van ʼn minderjarige in die gesig.

Die DA het in reaksie hierop gesê Mofokeng is gereeld ʼn eregas by geleenthede ter viering van Vrouemaand en het ook projekte teen die mishandeling van vroue en kinders bygewoon. “Hierdie beweringe is dus ʼn klap in die gesig van vroue en kinders,” het die party gesê.

Intussen het Paul Mashatile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), gesê hy het Mofokeng se bedanking aanvaar en die munisipaliteit sal ʼn waarnemende burgemeester aanstel. “Ons respekteer Mofokeng se bedanking. Ons bedank hom vir die werk wat hy gedoen het om die lewens van die mense van Emfuleni te verbeter,” het hy gesê.

Mashatile het gesê Mofokeng se bedanking strook met die beginsel van aanspreeklikheid en om die regering toe te laat om op dienslewering te fokus. Hy het gesê die voormalige burgemeester kan nou fokus “op die ernstige bewerings wat hom in die gesig staar”.

“Cogta sal die vakature vul wat gelaat is deur die burgemeester se bedanking. Enige onsekerheid oor leierskap kan ʼn nadelige effek op dienslewering hê. Ons sal deur die relevante wetgewing gelei word om ʼn permanente burgemeester vir die Emfuleni-munisipaliteit aan te stel,” het Mashatile gesê.

Volgens berigte sal Mofokeng op 28 November weer in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

Hoekom moet Cogta die vakature vul? Is ‘n tussenverkiesing nie meer demokraties nie?

Piet Pompies ·

Dit wil voorkom of van die ANC leiers siek is…..verstandelik….

Verstom ·

Hoekom so verras oor die optrede van ons sogenaamde leierskorps.? Is hulle nie al vir ‘n baie lang tydperk deursigtig nie? The apple rots from the top.

Cornel Rothmann ·

Hoe lyk die mede broers se festival of ideas whatsup groep foto’s???? Sou mens nie maar daarna ook moes kyk nie??

Willie ·

Nou vra die ANC vroue ligga waar kom verkragtings vandaan… Die Burgermeester lyk soos n Madala… Sies… julle bly maar deursigtig…

Marisa ·

Hoe bedank hulle hom vir sy werk wat hy gedoen het -ons het al vir ‘n paar dae nie water nie omdat hy die munisipaliteit wanbestuur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.