Burgemeester betaal vir begrafnisse ná vyf kinders sterf

Deel van ‘n ligmas het in Soshanguve tot die dood van vyf kinders gelei. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Solly Msimanga, Pretoria se burgemeester, gaan vir die begrafnisse betaal van die vyf kinders wat die afgelope naweek in die stad in ʼn fratsongeluk dood is.

Msimanga het Donderdag gesê die Tshwane-metro vermoed die ongeluk is veroorsaak deur vandalisme wat aan die stad se infrastruktuur aangerig is.

“Aangesien die DA-beheerde multiparty-administrasie ontvanklik is en omgee, het ek gevoel dit is reg dat die administrasie vir die onkoste van die begrafnisse betaal. Ons hoop om die las op die gesinne te verlig wat nog rou oor die geliefdes wat hulle verloor het,” het Msimanga in ʼn verklaring gesê.

“Dit is ons plig om te help om die ouers se las ligter te maak en te verseker dat dié soort tragedie voortaan verhoed word.” Msimanga het gesê ʼn volledige ondersoek na die oorsaak van die voorval is steeds aan die gang.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het Saterdag teen 16:00 in Soshanguve in die noorde van die stad plaasgevind.

Die kinders het onder ʼn hoë ligmas in wyk 27 gespeel toe een van die panele losgekom en op hulle geval het. Vier van die kinders, tussen ses en 11 jaar oud, is op die toneel dood. Twee kinders is na ʼn hospitaal geneem, waar een van hulle gesterf het.

Die voorval is by die Rietgat-polisie aangemeld en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur. Die voorval is ook by die hoofinspekteur van die departement van arbeid aangemeld om vas te stel of die voorval weens nalatigheid veroorsaak is.

Msimanga wou die kinders se ouers Maandag gaan besoek, maar moes uit die gebied vergesel word nadat gemeenskapslede hom verjaag het.

“ʼn Groep mense het die burgemeester voorgekeer toe hy by een van die families opgedaag het. Dit is duidelik dat die groep mense ʼn politieke agenda wil dryf in hierdie tyd waar politiek die laaste ding in die burgemeester se gedagtes is. Dit is baie jammer dat die mense, wat as gemeenskapsleiers beskou word, eerder hul eie politieke belang wil bevorder as om die families se gevoelens in ag te neem,” het Lindela Mashigo, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, Maandag gesê.

Msimanga se kantoor blameer die ANC, die opposisie in Pretoria, vir die chaos. “Dit is nou baie duidelik dat die ANC in Tshwane nie eens meer voorgee om vir mense om te gee nie, en hulle gebruik nou mense se pyn vir ʼn politieke agenda. Hierdie soort gedrag word ten sterkste veroordeel.”

Solly Msimanga, Pretoria se burgemeester. Foto: Phillip Bruwer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

christa ·

wat ‘n pragtige gebaar. Dit sal nie die kinders terug bring nie maar die ouers kan verseker getroos wees om te weet hulle is reguit hemel toe

zoom zoom ·

Opskrif lees dat die burgermeester die koste gaan dek. Maar verder indie berig word daar gepraat van die administrasie wat gaan betaal. Wie gaan nou betaal die burgermeester of ons wat ons rekeninge getrou betaal?

Leahim ·

Dit is net weer n aanloop tot die verkiesings foefie die belasting geld gaan dit betaal en ek kan nie wag vir die goeie gebaar waneer die DA in die openbaar omverskoning vra dat hulle niks gedoen of gesê het na malema en mbalule se rasistiese aanmerkings oor wit mense wat vreedsaam betoog oor die toename van plaasmoorde nie.

PJ ·

Ja en?
Die kinders is dood….wreed dood…gebruik my belasting geld…ek gee glad nie om nie.
RIV arme kindertjies ?

Ronel ·

Stem saam Leahim, dis reg dat ons vir die begrafnisse betaal maar ek dink ons moet dan ook help om die onskuldige 15-jarige meisietjie se mediese onkoste te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.