Burgemeester en drie ander bly in aanhouding oor moord

Mluleki Ndobe, uitvoerende burgemeester van die Harry Gwala-munisipaliteit in die Umzimkhulu-landdroshof (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency(ANA)

ʼn Senior ANC-burgemeester, wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa, bly in aanhouding saam met sy medebeskuldigdes tot hulle formele aansoek om borgtog volgende week plaasvind.

Mluleki Ndobe (beskuldigde nommer 4), burgemeester van die Harry Gwala-distriksmunisipaliteit, staan tereg op een aanklag van moord en twee aanklagte van poging tot moord, het die Umzimkhulu-landdroshof Dinsdag gehoor.

Ndobe het saam met Sbonelo Lindelani Myeza (39), Mbulelo Innocent Mpofani (34) en Zweliphansi Skhosana (48) in die hof verskyn.

Myeza is op 5 Maart in hegtenis geneem en die ander drie is Sondag aangekeer, aldus die klagstaat. Die mans staan almal tereg op aanklag dat hulle saamgesweer het om Magaqa en sy kollegas, Nontsikelelo Mafa en Jabu Msiya, in Julie 2017 te vermoor.

Magaqa, ʼn skakelwese-beampte by Umzimkhulu-munisipaliteit ten tyde van sy dood, is doodgeskiet. Mafa en Msiya het die aanval oorleef, maar hulle is onder beskerming geplaas. Umzimkhulu val onder Harry Gwala-munisipaliteit.

ʼn Groot polisieteenwoordigheid en honderde ANC-lede het Dinsdag vroeg by die hof saamgedrom om Ndobe in te wag. Hy het in ʼn voertuig bly sit totdat hy in die hof moes verskyn.

Ndobe is ʼn lid van die regerende party se provinsiale uitvoerende komitee, provinsiale werkkomitee en voorsitter van die provinsiale tak van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga).

Hy is nommer drie op die ANC se lys van provinsiale kandidate, wat beteken dat hy ná die verkiesing op 8 Mei weer in ʼn topposisie aangestel sal word. Sy munisipaliteit het verlede jaar ʼn begroting van R751 miljoen ingedien.

Sibusiso Malusi Ncengwa (30) is in September verlede jaar in hegtenis geneem in verband met sy beweerde betrokkenheid by Magaqa se moord en die poging tot moord op Mafa en Msiya. Sy saak sal waarskynlik by die ander beskuldigdes gevoeg word.

ʼn Formele aansoek om borgtog sal na verwagting Maandag of Dinsdag volgende week plaasvind. Die staat sal die aansoek teenstaan.

Volgens die staat kan nog inhegtenisnemings volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wonder net ·

Hoop nie hy kry voorkeur behandeling in die tronk nie.
Nog ‘n ANC hoë wat nie op die lys moes wees nie.

Stella ·

Indien mens ‘n kriminele rekord het en veral op moord van ‘n kollega moet mens summier geskors word uit enige amp. Sy kollegas sal geïntimideer voel met hom in die omtrek.

IK ·

Te oordeel aan vorige individue se sukses waar hul gekoppel was/is met misdaad is sy pad oop vorentoe.

Alida ·

In die ou dae was die burgermeester n gesiene lid van elke dorp. Nou is hulle moordenaars! Berge bedek my.

George in Bloem ·

Wonderlike leiers en voorwaar ‘n fantastiese voorbeeld vir die jonges.

George in Bloem ·

“Wonderlike leiers” en voorwaar ‘n “fantastiese voorbeeld”vir die jonges. Dan wonder mense hoekom daar soveel geweld in ons skole is.Dis dan die voorbeeld wat leiersfigure daarstel. Hoe dan anders?

Nicole ·

So terwyl die moord ondersoek aan die gang is en die BURGERMEESTER (van alle dinge nogal!) agter tralies is, ondersoek sommer die korrupsie waarby hulle óók moontlik betrokke kan wees!

Schalk ·

Knap gedaan binnekort held soos soveel wat mense vermoor het sal seker ook standbeeld kry dalk nog president.Ek herinner my aan president wat in die tronk gesit op Koffiefontein en vi Verwoerd opgevolg het.Wonder wie het Tsafendas aangestel.Weet maar vra?politiek=politiek.Nie kleur.

Duppie ·

Schalk net vir kennisname: BJ Vorster was ‘n krygsgevangene en nie as moordenaar aangehou nie.

SjN ·

Volgens die berig is hy n senior burgermeester, is daar dan ook n junior burgermeester in dieselfde munisipaliteit.

jakes ·

Hoekom moet die arme burgermeester aangehou word? Moord, verkragting, roof en plundery asook klipgooi en brandstigting is dan publieke sport in SA. LOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.