Burgemeester ernstig beseer in ongeluk wat 2 eis

Die ongelukstoneel op die R75 in Port Elizabeth. (Foto: Port Elizabeth Traffic Updates/Twitter)

Die waarnemende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Nqaba Bhanga, word tans in die hoësorgeenheid van ’n Oos-Kaapse hospitaal behandel nadat hy Saterdag – glo op sy verjaarsdag – in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

Die ongeluk laataand op die R75 in Port Elizabeth het die lewe van twee ander mense geëis.

Bhanga moes Sondagmiddag ’n operasie ondergaan om die inwendige bloeding te behandel wat hy weens sy beserings opgedoen het.

Sy toestand is in dié stadium stabiel hoewel die omvang van sy beserings ernstiger is as wat daar aanvanklik vermoed is, sê Bhanga se woordvoerder, Leander Kruger.

Nqaba Bhanga, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, sê ’n grys Audi en ’n donkerblou Mercedes-Benz het Saterdagaand op die oorgang van St. Leonardsrylaan en Uitenhageweg gebots. Dit is nie seker presies hoe laat die ongeluk plaasgevind het nie, hoewel daar gerugte is dat dit ná die aandklokreël gebeur het.

Volgens die polisie het Bhanga die Mercedes-Benz bestuur.

Die bestuurder van die Audi en sy vrouepassasier is gedurende die botsing dood. Een van die oorledenes is intussen geïdentifiseer as die 44-jarige Nonzwakazi Maho. Die tweede oorledene se identiteit is nog onbekend.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Kruger het in ’n verklaring daarop gewys dat dit “standaardprosedure” is vir die polisie om ’n saak van strafbare manslag ná ’n motorongeluk te ondersoek en het mense daarteen gewaarsku om oor die ongeluk te bespiegel voordat die polisie sy ondersoek afgehandel het.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die tweede oorledene te identifiseer, word versoek om AO Errol Kleinhans by 082 302 6419 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

koos10 ·

Volgens Timeslive het dit ongeveer 23:30 gebeur, en daar word reeds gevra of sy bloed getoets was?

Rissie ·

Dis korrek – dit het basies reg oorkant ons huis gebeur. Dit was ‘n helse slag gewees. Dis ‘n lang reguit pad en mense jaag gewoonlik asof hulle besig is om aan die nuwe Fast & Furious fliek te werk.

Tiptol ·

Wat van die aandklokreël? Net ons wat die wet gehoorsaam en by die huis is.

Swerwer ·

Hoop daar sal iewers ‘n ooggetuie wees wat sal kan getuig oor die gebeure van die ongeluk. Dan was dit nog na die voorgeskrewe tyd ook.

Misky ·

Moontlik na aandklokreel….. op sy verjaarsdag en nou kan ons maar dink wat ons wil dink en watter ander moontlike redes die oorsaak kon wees. Ons sal inelkgeval seker nooit die waarheid hoor nie. Sulke sake het gewoonlik die vermoë om net te “verdwyn”

...M... ·

Wonder maar net of daar bloed getrek was vir alkohol…
Gaan baie interessant wees om te sien hoe hierdie saak hanteer word.

piet ·

Dalk ‘n bietjie meer deernis vir die betrokkenes en hul families mense? Tog so gou om te veroordeel en net die slegste te dink. Skaam julle.

Willem ·

Piet, mense is al so gewoond dat sake waar hooggeplaastes betrokke is verdwyn of so lank sloer dat die klaers uiteindelik opgee. Mense is al sinies en met rede ook.

JohanR ·

My kar is in die motorhuis, en ek maak gereed vir bed 22h00 want die wet se ek moet daar bly tot 04h00nm. Nou wat maak die ou en sy geselskap uit 23h30? Omdat hy ‘n burgermeester is hy exempt from the law?

Samuel ·

Wat soek die agbare burgemeester op straat gedurende die aandklok?? Wet geld nie vir politici nie. Níé ANC, DA of wie ookal nie. Ja, selfs VF+.

Jaco ·

DA burgemeester nogal met ‘n Mercedes ry. So die DA is maar nes die ANC: dit MOET blykbaar dir die luukste, duurstse motor wees. Waarom nou omgee dat dit met belastingbetalers se geld betaal word en waarom nou omgee dat die geld vir die duur motor beteken dat daar minder geld is vir dienslewering. Dis blykbaar irrelevant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.