Burgemeester gekap oor klankopname

Burgemeester Themba Njilo. Foto: www.msunduzi.gov.za

Themba Njilo, burgemeester van die Msunduzi-munisipaliteit in Pietermaritzburg, is Woensdag tydens ʼn vergadering van die finanskomitee oor die kole gehaal oor “ʼn trae reaksie” op ʼn klankopname waarin die stadsbestuurder verbind word met ʼn werk-vir-vriende-skandaal.

Dit is nou meer as ʼn week sedert dié klankopname aan die lig gekom het en wyd versprei is. Talle hou vol dat die man se stem wat op die klankopname gehoor kan word, niemand anders as Sizwe Hadebe, die munisipale bestuurder, is nie.

Op die opname kan gehoor word hoe ʼn manstem iemand anders opdrag gee oor wie aangestel moet word ná ʼn onderhoud. Dieselfde opname is vir lede van die publiek gespeel toe ANC-lede Dinsdag ʼn optog na die KwaZulu-Natalse wetgewer gehou het om te eis dat die provinsiale regering by die munisipaliteit ingryp.

Woensdag se vergadering was veronderstel om die geldsake van die sukkelende munisipaliteit te bespreek, maar die burgemeester is in sy spore gestuit deur ANC-raadslid Mehmood Oumar wat Njilo gevra het hoekom hy nog nie stappe teen Hadebe gedoen het nie.

Nog ʼn ANC-raadslid, Sandile Dlamini, het by Oumar aangesluit en gesê daar moet opgetree word teen die stadsbestuurder oor die voorval wat “ʼn verleentheid vir die bedrywighede van die stad geword het”.

Ná die ooglopend geskokte burgemeester deurgeloop het onder kritiek, het die ANC gevra vir ʼn kort verdaging sodat hulle kan koukus. Toe die vergadering weer byeengeroep is, is aangekondig die vergadering verdaag.

Die DA het gesê daar moet dringend stappe oor die klankopname gedoen word. “Die DA versoek dat ʼn interne ondersoek binne die munisipale strukture gedoen word oor die klankopname waar daar gehoor kan word hoe [Hadebe] opdragte ontvang van die adjunkburgemeester, Thobani Zuma, om ʼn senior bestuurder opdrag te gee om af te wyk van die raad se goedgekeurde indiensnemingsbeleid en ʼn spesifieke persoon aan te stel sonder om die behoorlike prosesse te volg,” het die party gesê.

“Daar word beweer dat die adjunkburgemeester ook op die klankopname vir Hadebe opdrag gee om tellingsyfers aan te pas om die eksterne kandidaat te pas.”

Die DA het gesê die party glo die verdoemende bewyse op die klankopname regverdig ʼn onmiddellike ondersoek deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid en die Valke. Volgens die party is dit maar net die jongste negatiewe gebeurtenis wat ʼn “gereelde ding” geword het sedert Hadebe munisipale bestuurder geword het.

“Sedert mnr. Hadebe aan die stuur van sake in Msunduzi is, het die munisipaliteit vinnig agteruitgegaan van ʼn skoon oudit in 2014-’15 tot ʼn vrywaring in 2016-’17. In net twee finansiële jare is ons reserwes heeltemal uitgeput en die finansiële welstand van die munisipaliteit is in gedrang. Al ons onvermoeide pogings om te versoek dat daar ingryping is en dat Msunduzi onder artikel 139 van die Suid-Afrikaanse Grondwet geplaas word, het ongelukkig op dowe ore geval,” het die party bygevoeg.

Die ANC se alliansievennote, Cosatu en die South African National Civic Organisation (Sanco) in Pietermaritzburg, het ook gevra dat drastiese stappe teen Hadebe oor die klankopname gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Skande. Laat hom verantwoording doen vir al die geld wat spandeer is ten koste van vordering in die munisipale area.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.