Burgemeester in hof vir Mandela-bedrog

Zukiswa Ncitha

Zukiswa Ncitha

Die burgemeester, adjunkburgemeester, speaker en drie ander beamptes van die Buffalo City-munisipaliteit in die Oos-Kaap, het Maandag in die Oos-Londen-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

“Hulle is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat,” het Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê. Die saak is tot 1 September uitgestel.

Burgemeester Zukiswa Ncitha, haar adjunk Temba Tinta, speaker Luleka Simon-Ndzele en drie ander munisipale beamptes is Maandagoggend in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrog rakende oudpresident Nelson Mandela se gedenkdiens.

Die ses staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. “Dit het te doen met die vervoer van roubeklaers na Mandela se gedenkdiens,” het Ramaloko vroeër vandag gesê. Hy kon geen verdere inligting bekend maak nie.

Die ANC in die Oos-Kaap het intussen Maandag ‘n beroep op sy lede gedoen om te wag vir uitkoms van die hofsaak voor hulle tot gevolgtrekkings kom. “Alle ANC-lede wat moontlik inligting het oor die saak word aangemoedig om hul volle samewerking aan wetstoepassingsagentskappe en ons regstelsel te gee ten einde uitsluitsel te kry oor die saak,” het Mlibo Qoboshiyane, woordvoerder van die party, in ‘n verklaring gesê.

“Ons moet die veronderstelling van onskuldig tot skuldig bewys in ‘n hof handhaaf. Dit is ook van toepassing op die lede.”

Die DA in die Buffalo City-munisipaliteit het intussen die arrestasies verwelkom. “Ons is bly dat daar gehoor gegee is aan ons pleidooie vir ‘n ondersoek deur die Valke en die openbare beskermer, en ons hoop dat diegene wat skuldig bevind word aan die plundering die staatskas in die naam van Tata Mandela verantwoordelik gehou sal word vir hul dade,” het Lance Weyer, DA-raadslid, in ‘n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Dit verbaas my nie. Dis mos punt no1 op almal se prioriteitslys naamlik maak jouself ryk ten koste van ander. Dood of lewendig solank jy jou sakke volmaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.