Burgemeester, nog 2 in hof oor tender

Zandile Gumede, burgemeester van die Ethekwini-metromunisipaliteit. Foto: Bongani Mbatha/ANA

Die ANC in die eThekwini-streek het Dinsdagoggend gesê hy neem kennis daarvan dat die plaaslike burgemeester, Zandile Gumede, vroeër vandag in die Durbanse handelsmisdaadhof verskyn het op aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery.

Gumede het verskyn saam met Mondli Mthembu, die adjunkstreeksekretaris, in verband met beweerde bedrog rakende ʼn tender in Durban se departement vir vaste afval waardeur diensverskaffers na bewering groot bedrae geld betaal is, maar geen dienste gelewer is nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het vanoggend bevestig drie amptenare verbonde aan die Ethekwini-metromunisipaliteit sal saam in die beskuldigdebank wees, maar hy het geen name genoem nie.

Bheki Ntuli, die ANC se streeksekretaris, het egter twee van die verdagtes as Gumede en Mthembu geïdentifiseer.

Ntuli het gesê die party verbind hom tot die beginsel van onskuldig tot skuldig bewys en onderwerp hom aan die mag van die gereg en die beginsels van natuurlike geregtigheid. “Ons weet egter dat die hof van openbare opinie nie aan dieselfde beginsels onderwerp word nie. Daar doen ons ʼn beroep op almal om die hof te respekteer as die enigste bekwame liggaam om ʼn beslissing hieroor te maak,” het Ntuli gesê.

“Ons is bewus van die politieke en openbare implikasies van die proses wat aan die gang is en hoop dat die saak gou afgehandel sal word.”

Maroela Media het vroeër berig daar is reeds vandeesmaand nege mense, onder wie die departement se adjunkhoof, Robert Abbu (62), en die stad se verskaffingskettingbestuurder, Sandile Ngcobo (41), in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog in verband met dieselfde tender.

Hulle het reeds in die handelsmisdaadhof verskyn. Die ander beskuldigdes in die saak is diensverskaffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

fred ·

stem saam….maar daar is nog baie..
ongelukkig is korrupsie nie n misdaad nie…kyk na die kies resultate

Ruiklont ·

Sy sal beskerm word deur die owerhede soos baie ander, sy sal heelwaarskynlik niks oorkom nie

Jr ·

Ja maar juffrou Barkhuizen en Steve is skuldig voordat hulle onskuldig bewys is. NOU HOE NOU?

Grysburger ·

Aitsa! Wonder waar gaan Haar Edele die Burgermeester ‘n ambassadeurspos losslaan?

Gert van Wierdapark ·

Indien iemand nie op heterdaad betrap word met n volledige video opname ter stawing nie, lyk dit omtrent onmoontlik om diesulkes aan die pen te laat ry = houdini’s van ons Kakistokrasie

Realis ·

Onskuldig tot skuldig bewys word. Nou, soos in meeste gevalle raak die bewyse weg en voila, onskuldig! En die gestelery kan aangaan.

James ·

Dra so trots haar ANC klere. Dis waarvoor die meerderheid gestem het.

judie ·

Jammer maar is Suid Afrika moet dit skuldig tot onskuld bewys is wees, Dit werk so wanneer dit blankes is wat “oortree”. Aan die anderkant is die howe te pateties om die wet te laat geld. Dis die een uitstel op die ander, die een dosier wat “wegraak” na die ander. Dit is skorsing vir jarrreee met VOLLE Betaling. Lekker!!!!!!!!!

Db ·

Sies julle almal wat haar skuldig bevind. Daar is geen wese in hierdie land wat skuldig is nie slegs as jou velkleur verkeerd is. So sy sal onskuldig wees tot dooms day

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.