Burgemeester se spesiale verlof ná gewaagde foto verwelkom

Simon Mofokeng. Foto: Twitter via @GautengANC.

Die VF Plus het die besluit van die ANC se streek- uitvoerende raad om die burgemeester van Emfuleni (Vanderbijlpark), Simon Mofokeng, op verpligte verlof te plaas verwelkom.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni, het in ʼn verklaring gesê die burgemeester sal waarskynlik binnekort in ʼn landdroshof op verwante aanklagte verskyn. “Dié omstrede burgemeester, wat as die KFC/Nando’s-burgemeester bekend staan, moes sy kantoor op 31 Oktober verlaat weens beweerde seksuele misdrywe,” het Senekal gesê.

“Burgemeester Mofokeng is gereeld ʼn eregas by funksies ter viering van Vrouemaand en het ook projekte teen die mishandeling van vroue en kinders bygewoon. Hierdie beweringe is dus ʼn klap in die gesig van vroue en kinders.”

Die DA het verlede week in ʼn verklaring beweer dat Mofokeng aanklagte in verband met die seksuele gereedmaking van ʼn 14-jarige meisie in die gesig staar.

“Ons is in besit van ʼn skermskoot van ʼn WhatsApp boodskap waarin Mofokeng ʼn foto van ʼn halfkaal jong meisie op een van die ANC se politieke groepe in die Sedibeng-distrik geplaas het. Sy naam en nommer is sigbaar op die groep,” het die verklaring gelui.

“Dit is dieselfde burgemeester wat geen agting gehad het vir belastingbetalers se geld toe hy miljoene op Nando’s, KFC en hotelle spandeer het nie.”

Die DA het ook gesê dat hulle die polisie in Vanderbijlpark gebel het om te bevestig dat twee sake teen Mofokeng aanhangig gemaak is. “Hy verskyn glo vroeg in November in die Vanderbijlpark-landdroshof.”

Die DA het verder aangedui dat hulle in besit van ʼn verslag van ʼn maatskaplike werker is wat as bewysstuk gebruik sal word sou die saak teen Mofokeng voortgaan. “Baie jong meisies vrees vir viktimisasie as hulle iets sou sê teen die burgemeester. Die ANC wil hierdie ding onder die mat invee en die reeds stemlose en vertrapte slagoffer nog vertel stilmaak deur Mofokeng te beskerm. Hy is ʼn skandelike verteenwoordiger vir die mense van Emfuleni.”

Die ANC het op 30 Oktober in ʼn verklaring bevestig dat Mofokeng op spesiale verlof geplaas is hangende die uitkoms van die ondersoek na die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leahim ·

Maar nog geen woord van die DA in die media oor die plaas boere wat so vermoor word nie nog geen woord van die DA oor Malema en mbalule se onlangse rasistiese uitlatings nie nou verklaar hulle die burger meester by die polisie en die DA verwag seker dat sy kiesers wawiele moet maak van opgewondenheid

Ella ·

Ek hoop daar kom n ander ordentlike party voor ons weer moet stem. Daar is rerigwaar niemand wat nou my stem sal kry, dalk die Vryheidfront beslis nie die DA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.