Burgemeester sterf in ongeluk ná veldtog in Soweto

Jolidee Matongo, burgemeester van Johannesburg. (Foto: Twitter)

Die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Jolidee Matongo, is Saterdag in ’n motorongeluk dood nadat hy vroeër die dag nog by pres. Cyril Ramaphosa in Soweto aangesluit het as deel van die ANC se verkiesingsveldtog.

Matongo was 46 jaar oud en het maar sowat ’n maand as burgemeester gedien.

“Dit is moeilik om hierdie tragedie te begryp, gegewe die lewenskrag en passie waarmee burgemeester Matongo so kort voor sy dood met my en inwoners van Soweto omgegaan het,” het Ramaphosa Saterdagaand in ’n verklaring gesê.

“’Niks kon ons op hierdie skielike verlies voorberei wat ons land se ekonomiese sentrum van sy tweede uitvoerende burgemeester in twee maande ontneem het nie.”

Matongo is verlede maand onbestrede tot Johannesburgse burgemeester verkies nadat sy voorganger, Geoff Makhubo, in Julie weens Covid-19 dood is.

Volgens Ramaphosa was Matongo baie opgewonde oor die komende verkiesing. “Ons kon vroeër vandag nog sien hoe hy met hart en siel probeer het om die mense van die stad te mobiliseer om op 1 November hul stem te laat hoor.”

Maroela Media het vroeër berig Matongo, wat as ’n “bedrewe politikus” beskryf is, is in Soweto gebore en het as 13-jarige al by politiek betrokke geraak.

Hy het voor sy aanstelling as burgemeester as voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies gedien.

Matongo het hom as burgemeester verbind tot onder meer verbeterde dienslewering en die doeltreffende gebruik van die stad se R73 miljard-begroting.

Matongo het glo ten tyde van sy dood aan sy meestersgraad in openbare administrasie gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

msp ·

Wys maar weereens dat ń mens nou hier is en as jy weer hoor is hy weg. Ons moet maar net ten alle tye gereed wees. Soveel mense wêreldwyd is die afgelope tyd van ons so onverwags weggeneem. Sterkte vir die familie wat saam met duisende ander hulle onder die selfde wolk bevind. RIV.

Willem ·

Snaaks dat net sekere mense vir cyril saakmaak en anderkleuriges nie.Hy was maar net n gewone mens soos ek en jy!Kom oor jouself cyril!!!!!

Spookasem ·

Wat ‘n vieslike kommentaar !! ‘n ‘Gewone mens’ is dood. Hy was iemand se kind, ‘n kind se pa, ‘n vrou se man en al wat jy kan doen is om ‘n simpel politieke ding te skryf. Skaam jou! Dit is nie iets wat ek wil lees nie, veral nie as ek familie van die ‘Gewone mens’ is nie. Tsk Tsk. Los vir Cyril uit jou kommentaar en spreek eerder meegevoel aan die ‘Gewone mens’ se familie.

Francois Le Cochon ·

‘n Aankomende Navara bakkie het ‘n voetganger raakgery en beheer verloor, wat toe ‘n kop aan kop veroorsaak het.

Dries ·

Wonder maar net of hierdie tragedie gebeur het tydens n blou lig brigade jaagtog ???

Spookasem ·

Francois Le Cochon
‘n Aankomende Navara bakkie het ‘n voetganger raakgery en beheer verloor, wat toe ‘n kop aan kop veroorsaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.