Burgemeester uit op borg ná aanklagte van moord

Dr. Ntuthuko Mahlaba

Dr. Ntuthuko Mahlaba, die burgemeester van die Newcastle-munisipaliteit, se aansoek om borgtog is Maandag in die Madadeni-landdroshof aan die noordkus toegestaan nadat hy verlede week in hegtenis geneem is op aanklag van moord en sameswering tot moord.

Mahlaba is vrygelaat op borgtog van R20 000 nadat hy tien dae gelede by die munisipaliteit in hegtenis geneem is.

Hy staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord en twee aanklagte van sameswering om moord te pleeg. Die aanklagte hou verband met die moord op die plaaslike ANC-jeugligaleier, Wandile Ngubeni, in 2016.

Die 28-jarige Ngubeni is in Mei 2016 by Ikasi Lounge in die Madadeni-nedersetting doodgeskiet terwyl hy saam met ’n groep vriende gekuier het.

Volgens ooggetuies het twee mans by die kroeg aangekom waarna hulle met vuurwapens  losgebrand het. Ngubeni is in die spervuur doodgeskiet terwyl die streeksekretaris van die ANC-jeugliga, Mafika Mndebele, gewond is.

Mahlaba is enkele dae ná Mluleki Ndobe, uitvoerende burgemeester van die Gwala‑distriksmunisipaliteit, in hegtenis geneem.

Ndobe is aangekla in verband met die moord op Sindiso Magaqa. Hy en sy medebeskuldigdes is in hegtenis geneem op aanklag dat hulle saamgesweer het om Magaqa en sy kollegas, Nontsikelelo Mafa en Jabu Msiya, in Julie 2017 te vermoor.

Magaqa was ten tyde van sy dood ʼn skakelwese-raadslid by Umzimkhulu. Hy is langs sy kollegas Mafa en Msiya geskiet en het in September 2017 gesterf weens komplikasies van verskeie skietwonde. Mafa en Msiya het die aanval oorleef.

Die aanklag van moord teen Ndobe is intussen voorlopig teruggetrek.

Bheki Cele, minister van polisie, was verlede week in Durban om te praat oor die stand van sake van politieke moorde in die provinsie. Die kwessie word ondersoek deur ’n spesialis‑taakspan wat saamgestel is nadat ’n interministeriële komitee gevorm is om die voortgesette geweld te hanteer.

Dié span is opdrag gegee om 163 dossiere wat met politieke moorde in die provinsie verband hou, te ondersoek. Cele het gesê die span het altesaam 161 inhegtenisnemings gemaak sedert dit in Junie verlede jaar op die been gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan Pierrewiet ·

Die wil voorkom die burgermeesters “Rule” hulle constituancies

Cherokee ·

Wurmpie, ek was by iemand aan huis wat ter dood veroordeel is en op borg vrygelaat is. Dit was kort voor die DA se geveg vir swart oorheersing gewen is en die nuwe regering het weggedoen met die hoogste tol en sy straf verander na tronkstraf.

Genieve ·

Wurmpie..jy moet dit weet want die pandiette gaan ook nou n salaris kry niks is meer snaak is SA nie.

Sean ·

Madadeni is 100de kilometers binne land in van die noordkus af asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.