Burgemeester van Emfuleni bedank


David Makhura, voorsitter van die ANC in Gauteng, sy adjunk Panyaza Lesufi en sekretaris Jacob Khawe (middel) tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Jacob Khawe, burgemeester van Emfuleni (Vanderbijlpark) in Gauteng, het Donderdag, ná ʼn uitgerekte stryd met sy Sedibeng-streek, aangekondig dat hy bedank het.

Die raad sal Vrydag ʼn nuwe burgemeester kies, het hy tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg aan verslaggewers gesê.

Khawe is in Julie as sekretaris van die ANC in Gauteng aangewys, ʼn voltydse pos in die ANC. Sedibeng beskuldig hom daarvan dat hy geweier het om te bedank ná sy burgemeesterskap glo beïnvloed is weens sy voltydse pligte by die party. Khawe het na bewering gesê hy sal bedank ná hy verslae afgehandel het en sekere raadsbesluite geïmplementeer het.

Adjunkvoorsitter Panyaza Lesufi het gesê voormalige LUR vir gesondheid Qedani Mahlangu en voormalige hoofsweep van die party Brian Hlongwa het ingestem om uit die provinsiale uitvoerende komitee te bedank. Hlongwa sal egter ʼn lid bly van die wetgewer, het Lesufi verduidelik. “Dis ʼn voorsorgmaatreël. Die bewerings is ernstig en jy kan nie ʼn koukus lei met sulke bewerings nie. Hy is nie aangekla nie, en hy is tevrede met enige besluit wat die ANC hieroor neem.”

Volgens ʼn verslag deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) word Hlongwa geïmpliseer in korrupsie van R1,2 miljard toe hy LUR van gesondheid was tussen 2006 en 2009. Mahlangu word beskuldig vir die Life Esidimeni-tragedie waartydens 144 psigiatriese pasiënte by onwettige NRO’s gesterf het. Mahlangu het daarna as LUR bedank.

David Makhura, provinsiale voorsitter en premier, het gesê die ANC se konferensie Woensdag was ʼn sukses en geen ANC-lid is uitgesluit nie. “Ons het ʼn vlak van politieke volwassenheid in die provinsie behaal. Ons het vyf weke lank verskillende streke besoek om probleme te takel en seker te maak dat lede nie uitgesluit voel of ʼn behoefte het om ʼn hof te nader nie. Daar is vrede in Gauteng.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna Botha ·

Is dit nie hy wat veroorsaak het dat riool in die Vaal revier sisteem beland het nie…al vir jare ? Genade dis n vrot spul …????

Rooikop ·

Kry tog net iemand wat die werk kan doen en nie net daar is vir die salaris nie,
Die mense kan NIE DIE JOB DOEN NIE……………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.