‘Burgemeester verdien skopfiets, g’n duur motor’

Hennie Bekker, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, oorhandig ’n skopfietsie en memorandum aan Nhlakanipho Zuma, burgemeester van die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit. (Foto: Verskaf)

Die burgemeester van die sukkelende Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit is hoogstens op ʼn skopfiets en nié ʼn peperduur motor geregtig nie, aldus die burgerregteorganisasie AfriForum.

Om die gemeenskap se ontevredenheid oor die beplande aankoop van ʼn luukse voertuig vir Nhlakanipho Zuma te kenne te gee, het die organisasie Vrydag só ʼn fietsie sommer persoonlik aan dié burgemeester oorhandig.

ʼn Memorandum is ook namens “keelvol inwoners” en lede van AfriForum se Bethal- en Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-takke (oftewel Teks) aan hom gegee.

Hennie Bekker, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, sê die gemeenskap se opstandigheid spruit uit die benarde finansiële posisie waarin die munisipaliteit homself bevind, terwyl dienslewering weens enorme skuld – onder meer aan Eskom en Rand Water – inkonk.

Die munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop na bewering reeds meer as R3 miljard en dié aan Rand Water meer as R700 miljoen.

In die memorandum wat Vrydag oorhandig is, eis AfriForum meer verantwoordelike en deursigtige besluitneming en bestuur deur die munisipaliteit.

“Die munisipaliteit se hoë skuldvlak lei onder meer tot die instelling van ladingvermindering deur Eskom en ʼn verlaging in waterdruk van Rand Water.

“Ladingvermindering word intussen bykomend tot beurtkrag toegepas, terwyl die laer waterdruk gemeenskappe in hierdie munisipaliteit in sommige gevalle van hul toegang tot water ontneem. AfriForum is intussen besig om ʼn regstrategie te formuleer om die instelling van waterdrukverlagings teen te staan,” sê Bekker.

Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, sê die munisipaliteit verkies om basiese dienslewering agterweë te laat en inwoners daarvoor te laat boet, terwyl amptenare as’t ware beloon word met blink, nuwe motors.

“Dit is onaanvaarbaar.”

Bekker sê voorts dat die huidige bestel in die munisipaliteit ʼn diktatorskap weerspieël, “waar die klein groepie verkose elite in weelde bly en ry, ten koste van die mense wat hulle moet dien”.

“Inwoners is nou goed keelvol hiervoor en weier om langer hierdie gedrag in stilte te aanvaar,” sluit Bekker af.

Bekker moedig lede van die publiek aan om AfriForum se petisie teen die beoogde aankope van die nuwe voertuig te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Papsak ·

Ja ne so gaan hulle maar te werk gee niks om hoe paaie vrot water net solank ons n luukse blink motor kan ry is die saak reg munisipaleteite moet begin opdok vir hulle skulde en minder steel sal dit beter gaan ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.