Burgemeester voor treurende families weggejaag

Deel van ‘n ligmas het in Soshanguve tot die dood van vyf kinders gelei. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, moes Maandag uit Soshanguve, noord van Pretoria, vergesel word nadat gemeenskapslede hom verjaag het waar vyf kinders dood is toe ʼn paneel van ʼn munisipale ligmas losgekom het.

Maroela Media het vroeër berig  vyf kinders, tussen ses en 12 jaar oud, is dood toe hulle by Apollo-lig, net buite die Bopapes se huis, gespeel het. Die swaar metaalring wat die hoë lig ondersteun, het losgekom en vier kinders is op slag dood. Twee kinders is na ʼn hospitaal geneem, waar een van hulle by George Mukhari-hospitaal gesterf het. Een van die kinders is nie beseer nie. Twee van die kinders was nefies uit die Bopape-familie.

Msimanga wou ʼn besoek aflê aan die treurende gesinne, het sy waarnemende woordvoerder, Lindela Mashigo, gesê. Toe Msimanga en ʼn span afgevaardigdes van die munisipaliteit egter Maandagoggend by Block X-gemeenskapsaal in Soshanguve opdaag, het lede van die plaaslike sakeforum hul “ongemak” uitgespreek met sy teenwoordigheid.

“In die lig van die tragiese gebeure en die rou emosie, het die burgemeester besluit om nie in gesprek te tree met die groep mense nie, maar eerder na die families te gaan,” het Mashigo verduidelik. “ʼn Groep mense het die burgemeester weer voorgekeer toe hy by een van die families opgedaag het. Dit is duidelik dat die groep mense ʼn politieke agenda wil dryf in hierdie tyd waar politiek die laaste ding in die burgemeester se gedagtes is. Dit is baie jammer dat die mense, wat as gemeenskapsleiers beskou word, eerder hul eie politieke belang wil dryf as om die families se gevoelens in ag te neem.”

Msimanga se kantoor blameer die ANC, die opposisie in Tshwane, vir die chaos. “Dit is nou baie duidelik dat die ANC in Tshwane nie eers meer voorgee om vir mense om te gee nie, en hulle gebruik nou mense se pyn om ʼn politieke agenda te dryf. Hierdie tipe gedrag word ten sterkste veroordeel.”

Sommige inwoners het gekla dat hulle met rubberkoeëls geskiet is, deur lede van die Tshwane-metropolisie, wat Msimanga beskerm. Sommige van die inwoners het glo doppies van die rubberkoeëls gehou.

Wykraadslid Phumzile Hlatshwayo sê die gemeenskap soek al sedert Saterdag bloed. “Dit was baie sleg toe ek Saterdagmiddag daar aangekom het. Die gemeenskap is baie sensitief. hulle het intussen bande op die pad aan die brand gesteek. Mens sien die frustrasie van die gemeenskap. Hulle is kwaad omdat hulle dienste verwaarloos word. Daar is ʼn hele aantal van dié ligmaste wat ook oop is soos die een wat op die kinders geval het. Ons versoek dienslewering en instandhouding,” het Hlatshwayo gesê. “Ons hoor daar is nie geld nie, maar as mens na plekke soos Waterkloof gaan, dan sien mens nie dieselfde probleme nie. Maar in die townships word die begroting beperk. Die prioriteit is die voorstede.”

Mashigo het vroeër gesê dit wil voorkom of iemand met die kabels van die ligmas gepeuter het, vermoedelik in ʼn poging om dit te steel. “Dit is hartseer dat diewe se vandalisme van elektriese kabels die lewens van onskuldige kinders geëis het,” Mashigo bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Die verskil is die betaling van dienste in Waterkloof, voel hartseer saam met die verlies maar tree eerder op teen die kabeldiewe in jul midde, moet nie bande brand nie, dit gaan nie dié probleem oplos nie.

Steven ·

Geagte Raadslid, as jy R2981 elke maand betaal aan die Stadsraad, sal daar ook dienste wees by jou.

RIP @ die kinders

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar is min mense wat weet is dat hiedie tragedie veroorsaak is deur boewe wat met munisipale eiendom peuter, ongeoorloofdes onwettige konneksies maak en die stadsraadwerkers nie gretig is om te gaan na plekke waar hul aangerand word omdat hul hierdie konneksies wil vewyder nie. As jy elektrisiteit en wate wil he moet jy verantwoordelik omgaan met die mense wat dit in stand moet hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.