Burgerlike organisasies vra vir groter kindertoelae

Argieffoto

’n Koalisie van burgerlike organisasies stel voor dat die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sy kindertoelae vir die volgende ses maande met R500 verhoog om arm gesinne gedurende die algehele landwye afsondering en die tydperk daarna by te staan.

Prof. Ruth Hall van die C19 People’s Coalition het Vrydag gedurende ’n aanlyn mediakonferensie gesê die Covid-19-pandemie het in ’n enorme koskrisis in Suid-Afrika ontaard, met sowat 5,5 miljoen mense in die informele sektor wat hul werk nou kwyt is. Dit beïnvloed sowat 16,5 miljoen burgers reg oor die land, verduidelik sy.

Die C19 People’s Coalition is sowat ’n maand gelede gestig om aandag aan die Covid-19-pandemie te gee en bestaan uit sowat 250 organisasies van reg oor die burgerlike samelewing in alle provinsies. Dit sluit in gemeenskapsgebaseerde organisasies, nie-regeringsorganisasies en navorsingsinstellings.

Volgens Hall sal die verhoogde toelaag dié mense bystaan, aangesien die geld gebruik sal word om kos vir huishoudings aan te koop. “Dit is die mees verreikende manier om te vergoed vir die groot verlies aan inkomste, veral vir armes en kinders,” meen sy.

“Die geld gaan nie net kinders help nie, maar ook hul ouers.”

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. (Foto:. Jairus Mmutle/GCIS)

Die koalisie het reeds twee briewe aan die regering gestuur waarin dié voorstel gemaak word. Dit sal egter behels dat die regering R40 miljard oor die volgende ses maande moet beskikbaar stel om 13 miljoen begunstigdes te bereik. Die C19 People’s Coalition glo die regering beskik oor dié fondse.

Die koalisie voer verder aan dat die departement van maatskaplike ontwikkeling nooit in staat sal wees om by te hou met die verspreiding van kospakkies onder die armes in Suid-Afrika nie.

“Ons sien geen manier dat voedselhulp die skaal kan bereik wat nodig is nie, of dit nou tydens die afsondering of daarna is. Ons verwag dat die voedselkrisis gaan voortduur weens besighede wat sluit en werke wat verlore is,” meen Hall.

“Selfs met die beste vennootskappe met die burgerlike samelewing en die private sektor kan die regering dit eenvoudig nie doen nie. Jy kan nie kospakkies vir 20 miljoen mense versprei en dit vir maande onderhou nie.”

Die koalisie meen kontantoordragte is dus die enigste manier om kos te voorsien aan die oorgrote meerderheid huishoudings wat honger ly gedurende die afsondering.

Die koalisie glo egter dat die informele sektor dadelik oopgestel moet word. Dit sluit in spazawinkels in informele nedersettings, aangesien groot supermarkte in die formele sektor tans groot wins gedurende die tydperk van afsondering toon, terwyl ander kleiner besighede gesluit moet bly.

Volgens Hall sal die bykomende R500 in kindertoelae heel waarskynlik in dié sektor bestee word, wat die sektor se ekonomie ’n hupstoot sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Die Wolf ·

Hoeveel van die verhoging sal vir die kinders gebruik word?

Johann ·

Net R40 miljard rand van die belasting betaler se geld vir die ANC om SEKER te maak hulle koop die massas se stemme? Ons sit in die absurde afhanklikheids staat JUIS agv grant na grant na grant. Als is mos forniet…

En R40 miljard om die Kern Korrupte Kultuur te befonds!

Ricus ·

Net n vraag hoe weet n mens dat daai geld vir die kinder gebruik gaan word

Spekkies ·

Ja, is net jammer dit geld net vir sekere mense in ons samelewing.

msp ·

Ek wonder soms of die regering besef hoeveel van die kindertjies by ouma en oupa afgelaai word terwyl die ma’s al te lekker op die ekstra voordeel lewe.

Trudie ·

Nee. Hoe kan hulle al meer verwag die klein werkers mag moet die mense onderhou? Ons betaal op alles reeds belasting. Nou moet mens nog geld gee vir ‘n regering wat teen ras diskrimineer. Ons kan nie eers ons eie huishoudings onderhou nie.

Annelie ·

Waar kan ek ook aansoek doen???? Eks n geskeide vrou met 2 kinders en het pas my werk verloor….. Ja, ek kry onderhoud, maar waarom kry daardie kinders nie ook onderhoud van hul Pa’s nie??????? Wonder maar net???? …en die onderhoud is verseker nie vir my eie gebruik nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.