Burgeroorlog oor Zuma is ‘leë dreigemente’, sê Holomisa

Pres. Jacob Zuma Foto: Parlement

Diegene wat waarsku oor ʼn burgeroorlog as pres. Jacob Zuma deur die ANC onttrek word, is “leë dreigemente”, het Bantu Holomisa, leier van die UDM, Sondag gesê.

“Dis ʼn leë dreigement, ons neem dit nie ernstig op nie. Ons weet hoe desperaat hulle is. Ons sal hulle nie ʼn kans bied nie; die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte sal dit binne minute stopsit,” het hy tydens ʼn telefoniese onderhoud aan die African News Agency (ANA) gesê.

Zuma is toenemend onder druk van sommige lede in die ANC, burgerlike samelewing en opposisiepartye, om voor die staatsrede op 8 Februarie (Donderdag) te bedank.

Die ANC se topses-beamptes vergader Sondag om glo ʼn “gladde leierskap-oordrag” te bespreek, maar volgens ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule, sal Zuma wel die staatsrede lewer. Magashule is ʼn vurige Zuma-ondersteuner.

Zuma se ondersteuners, hoofsaaklik randbewegings soos Black First Land First, het die ANC versoek om hom toe te laat om sy termyn uit te dien en het gewaarsku dat ʼn gedwonge uittrede tot maatskaplike onrus en moontlik ʼn burgeroorlog kan lei.

ʼn #HandsOffZuma-optog word Maandag by die ANC se hoofkantoor by Luthuli House in Johannesburg beplan, met ʼn teen-optog wat op dieselfde tyd sal plaasvind. ANC-lede wat die teen-optog ondersteun het gesê hulle verdedig die party, nie een man nie.

“Kom ons hoop vir ʼn uitslag van die vergadering vandag [Sondag], dat die topses vir die land sal sê wat die uitslag is, want die doel van vandag se vergadering is om hom te vra om te bedank. As hy instem, is daar geen rede waarom hy die staatsrede moet lewer nie,” het Holomisa gesê.

Twee hooggeplaastes in die ANC het egter aan ANA gesê Zuma is vasbeslote om die staatsrede te lewer.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het verlede week speaker Baleka Mbete versoek om die staatsrede uit te stel, maar sy het dit van die hand gewys en gesê dis nie in haar mag om die staatsrede uit te stel nie.

Julius Malema, leier van die EFF, het terselfdertyd ʼn debat oor ʼn mosie van wantroue in Zuma versoek. Mbete het dit goedgekeur, maar gesê dit sal eers op 22 Februarie plaasvind.

Verskeie opposisiepartye het aangedui hulle is van voornemens om ʼn interdik te bekom, waarskynlik in die Wes-Kaapse hooggeregshof, om Mbete te dwing om die geleentheid uit te stel as sy nie teen Maandag instem om dit te doen nie. Hulle beweer die staatsrede sal nie voortgaan totdat regulasies gefinaliseer is om hom in ʼn staat van vervolging te plaas nie.

ʼn Parlementêre subkomitee van die reëlskomitee het riglyne opgestel hoe om ʼn staat van vervolging teen die president te bestuur. Die konstitusionele hof het die parlement beveel om dit teen Desember 2017 af te handel. Dit volg ná ʼn saak wat deur die EFF, UDM en Congress of the People (Cope) gebring is. Die partye het suksesvol beweer dat die parlement versuim het om Zuma aanspreeklik te hou in verband met regstellende aksie wat die openbare beskermer beveel het wat betref opgraderings aan sy privaat huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Hulle voer aan daar is nie voldoende reëls en strukture in die parlement vir hierdie proses om doeltreffend te geskied nie. Die nuwe reëls sal na verwagting in Maart aangeneem word, met pogings direk daarna om Zuma in ʼn staat van vervolging te plaas indien Zuma nog nie bedank het nie.

Holomisa het aan ANA gesê Zuma het nou geen ander opsie nie as “die konstitusionele opsie”. “Hy kan dus steeds hof toe gaan en ʼn interdik teen sy eie party bekom, om te sê dat sy termyn eers in 2019 verstryk. Dit sal ʼn uitstel-taktiek wees en dit is duidelik dat Zuma wag om te hoor dat hy immuun sal wees teen vervolging indien hy sou uittree.”

Zuma kan moontlik van ʼn rits korrupsie- en bedrogklagtes aangekla word wat spruit uit 2007, maar die land sal eers weet of hy vervolg gaan word wanneer die hoofvervolger, na bewering ʼn vriend van Zuma, die bewyse ondersoek het wat Zuma se prokureurs verlede week Donderdag ingedien het.

“Die ANC se topses het ongelukkig nie die mag om vir hom immuniteit te gee nie. As die ANC instem, sal dit ʼn selfmoordpoging wees. Hoe gee mens ʼn waarborg om iemand nie te vervolg nie, nog voor iemand gepleit het?” wou Holomisa weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jacques Venter ·

As Zuma gaan. Hou dit groot gevaar in vir ons almal
Vir n week lank gaan ons so babbelas wees dat ons nie uit ons oë sal kan sien nie

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou wil dit lyk asof juis dit wat Pienk Frikkie so oor gespog het hy “verhoed” het met sy ruggraatlose oorgawe, nou blyk net uitgestel was…..

Werner ·

Holomisa droom ons het nie die veiligheidsmagte om n opstand in 5 min te onderdruk nie nie eens in 5 weke nie

Jenny Thom ·

So jammer om te pla.
Ek probeer vandag heeldag jul artikels op my f-book sit, maar deurentyd word “spens” .co.za geplaas ipv die spesifieke gekose artikel.
Sal jul asb kyk wat is die probleem?

Sune van Heerden ·

Dagsê Jenny

Dankie vir jou navraag.
Ek sal vir jou ‘n privaat boodskap stuur nadat ek met die tegniese span gesels het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Piet Pompies ·

Dit wil voorkom of baie lesers se lewe ophou bestaan het met die referendum to daar JA en NEE gestem is. Ander verwys na verkeerde besluite deur FW, sjoe, om heeltyd voort te leef asof dit vandag nog 1981 of 1993 moet uiters verveeld wees. Ek het in daardie tyd my diensplig voltooi, begin werk, getrou, al y kinders is al uit die huis, aftrede is om die hoek en ons sien uit na die vry tyd en ons mooi land te besoek. Ons verknog ons nie oor goed wat in die verlede is en waaroor ons nie beheer het. Daar is ‘n plek vir elkeen in Suid Afrika, gebruik dit, dit is joune, moet nie dat iemand anders vir jou besluit.

Niemand ·

Vreemd dat jy nogsteeds onder die druk en verwyt van APARTHEID leef, maar dat niemand meer na die JA en NEE stem verwys waarmee FW de Klerk almal om die bos gelei het nie. As jy nie wil he mense moet meer na die Ja en Nee stem verwys nie, moet jy vir jou maatjies vertel om op te hou om na Apartheid en Slawerny te verwys en die dooie perd te bly slaan.

LB S ·

Wat ek ook sê, Piet. Just get over it! Die tyd om te lewe is VANDAG, doen iets VANDAG om jou lewe die moeite werd te maak. Ek wat al ‘n Ouma is, is heelwat bekommerd, maar het nog hoop…. My kinders, al hier by die 40, het hoop, durf en daad. Ons mag nie dat die hoop beskaam nie! Hier is BAIE MEER SWART mense in die land wat net soos ONS voel en net in vrede wil lewe en bou aan ‘n toekoms.

Lou ·

Ek glo nie hy sal gaan nie. Hy sit soos dinges aan n wolkombers. Maar ek hou in elk geval n bottel sjampanje koud.

Callie ·

Wees net baie versigtig. Ek het dit al genoem. Die Zuma faksie is onderduims. Die weermag leiers is totaal Zuma. Die ou voel niks vir die land nie. Hy gee nie om hoe dit eindig solank hy en sy korrupte familie kry wat hulle vra nie. Hulle kan maklik die land in chaos dompel. Dan word weermag ingeroep en wie kan dan keer. Dan het hy alle mag.

Jacques Venter ·

Callie
My goeie vriend. Slaap gerus. Daar gaan geen oorlog wees as zuma uitgeskop word nie. Almal is keelvol vir hom

Blits ·

En as daar n oorlog los bars, sê ek BRING IT ON, hulle onderskat ons

@Blits ·

Ek se los hulle dat hulle mekaar uitsort, verdedig net as dit na jou kan toe kom

Adriaan ·

Al wat gaan gebeur wanneer Zuma “onttrek”, is dat die Rand gaan versterk, die petrolprys gaan (hopelik) daal en die ANC gaan ietwers n doodloopstraat na Zuma vernoem.

Werner ·

Jacques ou FW het ook so vir die ja stemmers gesê en nou skrik n paar lelik ontnugterd wakker verwag maar die ergste dan is die skok nie so groot

Lolla ·

Lol ons het “daaityd” blikkies kos gestoor. Ons het geglo dat n oorlog onvermeidelik sal wees… Kon dit net n kwessie van tyd gewees het? Sal ons maar weer “opstock”? En as niks gebeur, ongelooflik dankbaar en nederig bly voor God? Sodat ons asb net ons klein kindertjies kan groot maak en sien groot word?

Casper Labuschagne ·

@Lolla ek onthou daai tyd toe ons die blikkies kos gespaar het, ten spyte daarvan dat ons op iemand se “wigte en teenwigte” vertrou het. Die groot verskil is, destyds kon ons nog blikkies kos spaar, maar vandag spaar ons vir blikkies kos, mits ons natuurlik kan spaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.