Burgersdorpse boer ‘nie veel beter’ ná aanval

Jan Terburgh. Foto: Verskaf

Waarskuwing: Dié berig bevat ’n foto wat lesers kan ontstel.

Die toestand van die bejaarde boer van Burgersdorp wat Maandag wreed in sy plaashuis aangerand is, het nog nie noemenswaardig verbeter vandat hy in ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem is nie.

Maroela Media het vroeër berig Jan Terburgh (82) is aangerand in die opstal op sy plaas, Alfalfa, sowat 30 km buite Molteno in die distrik Albert. Sy huishulp en drie werkers is in die badkamer van die huis vasgebind.

Terburgh is aangerand en in die gang vasgebind. Die aanvallers het die huis geplunder en verskeie items, waaronder ʼn vuurwapen en ammunisie, geroof. Hulle het daarna in Terburgh se wit Isuzu-bakkie op die vlug geslaan. Twee is later aangekeer.

Jan Terburgh is in die waakeenheid van ’n Bloemfonteinse hospitaal vandat hy Maandag aangeval is. Foto: Verskaf

Pieter Koekemoer, wat soos ʼn seun is vir die kinderlose Terburgh en sy vrou, Alta, vertel hulle kon Terburgh eers gister beweeg om hom by die skandeermasjien uit te bring. “Hulle het vasgestel daar is bloeding op oom Jan se brein,” het Koekemoer Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Sy linkeroog kan glad nie oopmaak nie, maar die regteroog maak darem nou al groter as ʼn skrefie oop,” sê Koekemoer.

Die verbande is Vrydag van Terburgh se brandwonde afgehaal waar die aanvallers vuurwarm water oor hom uitgegooi het. “Hy het maar pyn in sy hande en arms waar hulle hom so styf vasgebind het dat die bloedsomloop afgesny is,” sê Koekemoer. “Die dokter probeer nog die swelling afbring.”

Hy sê daar is nog nie “ʼn groot beterskap in hierdie stadium nie”.

Tannie Alta het maar sielkundig ʼn knou gekry.

Dit gaan ook nie goed met Terburgh se vrou nie. “Tannie Alta het maar sielkundig ʼn knou gekry,” vertel Koekemoer. “Oom Jan kry môre berading en dan gaan hulle ook met traumaberading vir haar begin.”

Koekemoer vertel dis moeilik om Terburgh te verstaan omdat hy met groot moeite praat, maar hy het vroeër gesê hy sien nie kans om ooit weer op sy geboorteplaas, wat al drie geslagte in die familie is, te gaan woon nie.

Daarom beplan die egpaar om met hul terugkeer na Burgersdorp hul intrek te neem in die Dirk Postma-tehuis vir bejaardes. Eers lê ʼn moeilike herstelpad egter nog voor in die Rosepark-hospitaal, waar Terburgh steeds in die waakeenheid behandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marlene Bothma ·

Uiters tragies. Baie sterkte vir julle herstelpad.

Elvira ·

En so gaan DIT ook net verby. So jammer vir hierdie boere. Sterkte en beterskap.

Klip in die bos ·

Die weermag wil ingryp met Vaalrivier tragedie . . .
KOM GRYP IN EN BESKERM ONS PLASE EN MENSE ASB !!!
ONTPLOOI DIE WEERMAG VANDAG NOG – GENOEG IS GENOEG
en waarom bekend maak presies waar Oom Jan en sy vrou gaan woon na die verskriklike aanval?

J. van Rensburg ·

Vergeet dit, klip in die bos – enige liggaam wat deur die ANC bedryf word, stel geensins in die beveiliging van boere – of beveiliging van ons landgrense nie – per slot van rekening, dit is juis om beskerming vir boere af te skaf dat die kommandostelsel afgeskaf is… inderdaad, hierdie huidige cANCer regering beskerm net sy eie….

Esta venter ·

Sterkte oom en tannie en dan wil ek net n stywe drukke van liefde en omgee vir julle gee. DIT IS SO ONMENSLIK!

Hartseer ·

Tragies en bitter hartseer dat ons boere sulke onmenslikheid moet deurgaan. As die regering dan niks daaraan wil doen nie, wanneer gaan ons mediese personeel in opstand kom oor die pasiënte wat hul ontvang wat by die dood omdraai weens ander se dade?

Geregtigheid ·

Sterkte my oom. So jammer dat ons land se regstelsel ruggraadloos is om die skuldiges te laat boet.

Estelle ·

Hoeveel van ‘n man kan jy jouself noem as jy bejaardes, gestremdes, vrouens en kinders aanval. So hartseer. Baie sterkte aan Oom Jan en sy familie.

deon ·

“VERWYDER” vir malema en ons sal ‘n groot beterskap sien. Waar is on ou recce soldate.
Ek wonder maar net.

Johann M van Heerden ·

Ek weet nie wat te se behalwe dat as so iets met een vanmy familie moet gebeur is dit oorlog. Die ANC is aanspreeklik hiervoor en moet voor stok gekry word. Die tyd van praat us verby.

Twakkie ·

Wat gaan gebeur met die aanvallers wat aangekeer is? Niks, soos gewoonlik?

Stander ·

My innige simpatie met oom en oom se familie. Afriforum, ek pleit dat julle hierdie brutale aanval en foto’s in die buiteland sal versprei, ons mense het hulp nodig. Ons regering faal ons en laat hierdie dinge toe. Mag God ons help om nie haat te begin koester nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.