Burgery moet druk oor ‘onbillike’ regulasies volhou

Honderde mense het die afgelope naweek na strande opgeruk om te betoog teen die sluiting van hierdie openbare ruimtes. (Foto: @CapeTownEtc/Twitter)

Die burgerregtegroep AfriForum het ʼn beroep op burgerlike instellings gedoen om druk op die regering vol te hou om te verseker dat “irrasionele maatreëls wat ekonomies en sosiaal vernietigend is, beëindig kan word”.

Die organisasie glo die toenemende druk wat reeds die afgelope paar dae uitgeoefen is, het bygedra tot die verslapping van die afsonderingsmaatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand bekend gemaak het.

Honderde mense het die afgelope naweek na verskillende strande opgeruk om beswaar te maak teen die voortgesette sluiting van strande ingevolge die inperkingsmaatreëls. Die heropening van strande was een van die aankondigings wat gisteraand gedoen is.

Dít terwyl ʼn kenner gewaarsku het dat meer burgerlike opstand verwag kan word terwyl mense hulle toenemend teen sommige van die regulasies probeer verset.

AfriForum sê die aankondiging bevestig opnuut die belangrikheid van georganiseerde gemeenskappe om staatsmag te balanseer.

Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, het ook die aanpassing van die aandklokreël vir restaurante verwelkom en sê dit sal dié ondernemings meer lewensvatbaar maak om sake te doen. Hy sê die aankondiging dat alkohol weer deur restaurante, wynplase en mikrobrouerye verkoop kan word, sal ook help om te verhoed dat meer werksgeleenthede in dié bedrywe verlore gaan.

“Die bevestiging dat geen burger gedwing gaan word om die entstof te gebruik nie, is positief. Dat dit vir die president enigsins nodig is om so iets te sê, dui egter daarop dat vertroue in die regering tans op ’n laagtepunt is,” sê Uys.

“Die totale gebrek aan enige aankondiging oor die vervolging van persone wat die pandemie misbruik het om korrupsie te pleeg, gaan hierdie wantroue slegs verdiep.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê Ramaphosa se aankondiging dat entstowwe vrywillig is, is in kontras met talle werkgewers wat Solidariteit genader het om entstowwe te verplig.

“Dit sal ʼn reusefout wees en weerstand teen entstowwe eerder verhoog. Ons vertrou dat almal [Maandagaand] gehoor het dat niemand teen hul wil verplig sal word om entstowwe te neem nie,” het Hermann gesê.

Die eerste besending Covid-19-entstof het Maandagmiddag in die land aangekom.

Ramaphosa het benadruk dat mense die entstof op ʼn vrywillige grondslag sal ontvang.

“Niemand sal verhoed word om te reis, om by ʼn skool in te skryf of om aan enige openbare aktiwiteit deel te neem as jy nie ingeënt is nie. Niemand sal teen sy wil ingeënt word nie en die inentings sal ook nie in die geheim plaasvind nie. Enige soortgelyke gerugte is vals en gevaarlik.”

Hy het ook gesê dit is in die beste belang van almal dat soveel moontlik mense die entstof so gou moontlik ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Baardman

Kom ons hoop maar die regering hou by hulle woord dat niemand benadeel gaan word indien hulle nie ingeent is nie

Hennie J

Die tyd is verby dat ons alles wat hulle aan ons opdis moet sluk. Dit is n ou truuk van die anc om in massas op te ruk en te betoog. Die eerste keer wat ander gemeenskappe dit doen skrik hulle hulself boeglam en kaputileer dadelik. Slapgatte! Ons soek n leier, n MOSES om ons van die verdrukkers te bevry.

Jaco

Hierdie toegewing, hierdie “swik” voor “druk”, is net ‘n rookskerm. Dis soos die ANC wat aanvaar hulle beheer nie die Wes-Kaapse provinsiale regering nie en wat (soms) aanvaar as hulle ‘n munisipaliteit se beheer aan ‘n ander party moet afstaan. Dis alles klein goedjies. Maar wag maar vir die groot goed; vir die eintlike “straf”. Goed soos onteiening sonder vergoeding. Dis oppad. Niks gaan dit keer nie. Dis nie vir die ANC “verloorbaar” soos toegang tot strande nie. So almal wat nou so juig dat hulle “druk” die ANC laat “swig” het, moenie te gou bly word nie. Wees eerder… Lees meer »

dada

Ek wonder wanneer gaan die president en ministers ingeënt word. Of dalk het hulle klaar gekry?

jzjz05

Dit is nie die toe neemende druk wat hulle laat verander het nie ,dit is hulle het die paddas te warem gemaak en moet hulle nou eers n bietjie laat afkoel.voor hul volgende stap doen.