Burgery wil Zuma nou self pos

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Corruption Watch, die Treatment Action Campaign (TAC), kerkgroepe en vakbonde gaan Woensdag planne bekend maak om pres. Jacob Zuma uit sy amp te laat onthef.

Die organisasies, wat die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika, die Evangeliese Alliansie, die SA Christelike Leierskap Inisiatief, die Verenigde Front en vakbonde insluit, het Dinsdagaand ‘n dringende vergadering gehou om “die groeiende politieke en ekonomiese krisis wat Suid-Afrika ervaar”, te bespreek.

“Mense is in pyn, kwaad en die dringendheid van die saak neem toe. Al hoe meer mense en organisasies is van mening dat Jacob Zuma moet bedank of deur die ANC verwyder moet word,” het die organisasies in ‘n gesamentlike verklaring gesê.

“Die politieke partye het misluk. Oortuiging en beroepe het misluk. Die howe het gepraat en nou moet ons mense ons hardgewonne demokrasie terugeis van diegene wat dit ontreinig vir eie gewin.”

Volgens die koalisie het die LP’s wat gestem het dat Zuma moet bly, die grondwet in oneer gebring en miljoene mense teleurgestel. “Dit beteken ons land sal voortgaan om van krisis tot krisis te steier. Dit is duidelik die Nasionale Vergadering verstaan nog nie die uitsprake van die konstitusionele hof oor die skeiding van magte en sy primêre plig om die grondwet te verdedig en te bevorder nie.”

Die organisasies het gesê hulle sal planne bekendmaak vir landwye betogings en mobilisering om Zuma uit sy amp te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

ANDRE ·

Verwyder sommer die wat hom daar wil hou ook .Hulle is almal kop in een mus saam met hom en die guptas.

alida ·

Ek steun nogal hierdie poging. Terwyl julle besig doen nou goeie werk en verwyder die hele spul ASSEBLIEF

Hannelie ·

Ek bid dat hulle dit regkry. Hy is die grapkas van Suid-Afrika. Die swakste staatspresident wat hierdie land not gehad het. Dankie Andre hy moet sy Guptas saamvat.

Deon ·

Stem saam dat daar ernstige druk deur ENIGE wettige organisasie uitgeoefen moet word op die
regering…….dink net wat gaan gebeur as die land se volk reg in eie hande gaan neem….malema bv….
ek is bevrees….n bloedbad gaan volg….

Gesiggie ·

Maak n plan en vinnig ook… ek is al so moeg om 3 tot 4 keer op n slag Zuma se naam te hoor en sy gesig te sien… wanneer gaan dit nou eindig… S.A kort bietjie meer as net Zuma”’ Ek hoop hierdie plan werk.

m ·

Nee wat twyfel of hierdie nar ooit sy stoel sal afstaan. Hy sal sit tot aan die einde van sy termyn. Daar is te veel op die spel om nou te vertrek. As hierdie land nou goed opgeneuk is en rommelstatus en alles gekry het sal hy vertrek en ons met die gemors los. Hy wil net nog so bietjie die soustrein ry voor die ook ontspoor……………………………..

Marietjie ·

SKANDE, SKANDE – Die LP’S wat gestem het dat Zuma as President moet aanbly, was bloot
omdat hulle weet as hy nie meer President is nie, hulle dae van mahala geld kry vir geen werk
ook verby sal wees, en moet teruggaan na die gewone burger in die straat se lewe, van Sukkel

Waar is God? Hoekom wil die kerke nou iets se, het stil swye gehandhaaf, of gaan toordokters se Zuma sal regeer tot Jesus kom.

alida ·

Dit sal werk as Julius ook inspring !!! In daardie opsig steun ek hom nogal. Die EFF is bang vir niemand nie.

Annie ·

ASSEBLIEF, ASSEBLIEF laat hierdie plan werk – want so kan dit nie meer aangaan nie en al die ander wat saam met hom in hierdie slinkse planne van hom is laat hulle ook val. Die oorsese lande moet dink ons is een groot sirkus.

GRB ·

Hoekom sien ek nie die 3-susterskerke en Solidariteit op die lys nie?
Is hulle bang of ondersteun hulle eintlik vir Zummatjie!

Anika ·

GRB – Ek dink Solidariteit doen baie meer as wat jy nog ooit gedroom het om te doen, en waar is jy op die lys?

Karma ·

Mense, wat het julle nou gedink …. Ek kan nie glo dat enige iemand, met regdenkende verstand, sou dink dat die ANC-kaders in die NV téén Zuma sou stem nie. Die DA, VF+, COPE, EFF, UDM en al daardie ander kan maar hop en spring en gil en skreeu soveel hulle wil: niks, maar niks gaan Zuma uit sy stoel lig nie.

@Alida, om die EFF te steun … ek weet darem nie so mooi nie. In hierdie geval is hul motief (hopelik) eerlik, maar …e… dink jy nie dat hulle bietjie té radikaal en verwoestend is met hul massa-optredes nie? Om jou die eerlike waarheid te sê: as ek iemand vandag in ‘n rooi oorpak gewaar, vul ‘n diep vrees my, soveel so dat ek eerder wegkyk. As die EFF die strate invar gaan daar gewis bloed vloei, lewens bedreig word en eiendom of infrastruktuur in die slag bly.

HOEKOM WORD DAAR NIE EENVOUDIG ‘N REFERENDUM UITGEROEP NIE, SODAT DIE MENSE VAN SA KAN BESLUIT? Ek dink ook ‘n referendum oor die feit dat ‘n leier van ‘n politieke party nie outomaties die president raak nie (m.a.w. individue moet INGESTEM raak om president te word) is ‘n goeie idee.

alida ·

Ek steun nie die EFF nie maar hulle se wat gese moet word en doen wat gedoen moet word. Watter kans dink jy het ons om te wen deur te stem. Die meerderheid jong en dom SA’ners steun die ANC en glo die bollie beloftes wat hulle maak. Druk van oral is al wat gaan help.

Loeis ·

Natuurlik kan politieke partye nie slaag nie: die ANC het 62% van die setels in die parlement (dit is wat de Klerk, Hellen Zille met haar Black Sash en andere so hard voor baklei en die kriketondersteuners in 1992 se referendum voor gestem het). Jy praat van ‘n referendum, Karma. Dalk maak die mense ‘n beter keuse as wat die ANC sal doen maar helaas is dit dieselfde mense wie die ANC sy meerderheid gegee het en daai LPs wie Zuma steun, ingestem het.

Dee ·

Die kiesers se intelligensievlak tydens ‘n referendum word bewys in tye soos nou wanneer daar nou voorgegee word dat De Klerk die enigste ja-stemmer was. Jy dink tog nie werklik dat ‘n referendum met almal van oral wat kan stem, sal die antwoord wees.

Marous ·

Stem saam Karma. Zuma is net die rotsie wat bo op die berg uitstaan. Moet nooit die vermoee van mense on anargie te veroorsaak onderskat nie. Afrika het dit oor en oor bewys. Die gevaarlikste is diegene wat bevoordeel word deur die party wie die bevelvoerder in plek hou. Dit maak nie saak wie sy opvolger gaan wees nie , die sisteem gaan nie verander nie , en die heersende party gaan nie verdwyn nie. Of die blatantheid die mense gaan laat draai en indien wel na welke party sal by die stembus bepaal word…tot tyd en wyl moet die parlement maar die sirkus vir die forum wees waar alles aan die groot klok gehang word. My twee sent.

lynette ·

Kyk hoe vinnig het Ysland se mense opgestaan teen hulle eerste minister toe daar net n klein bietjie (vlgs zumpi standaarde) ongereimdhede ter sprake is. Hoekom moet ons so sukkel om mense gelig te kry? Ag ek het vergeet, hulle se net hulle bly. Vanwaar hulle groot mag?

Karma ·

@Alida – het ek nie gesê jy steun die EFF nie; goed, ek moes myself beter uitgedruk het. Om die EFF te steun is ‘n bietjie gevaarlik; ons weet dat hul ver links en wit-antagonisties sowel as anargisties is. In ‘n koalisie, kan dit voordelig wees, juis a.g.v. hul getalle. Maar dan moet dit uiters nou dopgehou word om die anargistiese element te bedwing.

Ek stem, Alida, om te STEM gaan niemand wat NIE ANC stem nie, iets in die sak bring nie. Ek glo in elk geval nie die IVK se ‘onafhanklikheid’ en eerbaarheid nie. 99,9% van al die verkiesingsuitslae is gekook. Niemand kry in 2016 of in 2019 my stem nie.

Al hierdie klein ou bollie-party’tjies moet bymekaar staan: in massas is daar mag. Dit is inderdaad al hoe die ANC se tone blou getrap gaan word en Zuma uit die kussings gelig gaan word omdat die stoel waarop hy sit vir hom te warm geword het.

vernon ·

Aai mense. Die hele Afrika is ‘n voorbeeld wat nog gaan gebeur. Goeie voorbeeld, kyk na Mugabe. Hoekom moet dinge by ons anders wees? Dinge gebeur in Afrika op die Afrika manier. Iets drasties sal moet gebeur en deel daarvan is die Guptas moet eers gedepoteer word. Se maar net .

wynand ·

Ek gee nie om wie dit regkry nie – maar kry hom net uit sy pos en al sy maatjies ook wat verhoed het dat hy die pad moet vat. Hulle het nou openlik bevestig dat hulle net so korrupt soos hy is.
Wat ;n lot skelm maaksels. Die hle lot van hulle. Ek het ook opgemerk dat hulle hoofsweep nie eintlik lekker kan lees nie.

Jan maak n plan ·

Ongelukkig vir die “burgery” slaap ou Zuma as dit donker is en met een oog oop. Het al lankal die regt maatjies op die regte plekke gesit om hom te beskerm.

abrham ·

die publiek is naief en die media het ons ook nie reggehelp nie. die nasionale demokratiese revolusie is die kern beleidsraamwerk van die anc. verder is dit ‘n feit dat hulle nie die konsitusie as die alpha en omega aanvaar nie en dit bloot as n vertrekpunt sien om hul ndr deur te voer. ongelukkig is hul getalle in die parlement nie genoeg om die mag te verkry om die konstitusie te wysig nie. as hulle kon sou hulle. google ndr en jy sal verbaas wees dat die werklike “state capture” is nie deur die guptas bewerstellig nie maar deur die ndr met kaderontpooiing en bee. zuma gaan nerens nie want hy het op sy watch al die doelwitte van die ndr bereik. almal is gefikseer met die persoon zuma maar vergeet die eintlike gevaar is die ndr beleid.

Werner ·

Help my bietjie hier…is daar EEN land; net een, in Afrika waar mense van ons gelaatskleur as VOLWAARDIGE burgers van daardie land erken en respekteer word? Namibië of Botswana? Nee, ek dink nie so nie. Is ons waarlik naïef genoeg om te dink dat dinge ooit gaan beter raak? Wees eerlik asb met julself en los die emosie. Met die Basjir storie laas jaar het die “penny gedrop” vir my. Ek treur oor my land. Ek treur oor elke brokkie nuus wat ek hier op Maroela lees. Ek is stukkend.

Sampie ·

Werner, jy’s omtrent die enigste ou wat “sense” praat op hierdie kommentaarblad. Die toppunt van oningeligtheid is die ou hierbo wat roep om ‘n referendum. Slegs die regering (waarvan Zuma die hoof is) kan ‘n referendum uitroep. Lyk my die meeste dwaal maar rond en glo enige-iets: net soos tydens ou FW se referendum. Droom voort!

John Scott ·

Almal se bydrae, wit en swart , is nodig om Zuma en sy lakeie tot `n val te bring. So die EFF se deelname is noodsaaklik. Op ons eie gaan dit `n futiele oefening wees.

Anoniem ·

Kyk bietjie by Google: Tik in wiki (dan spasie) dan Jacob Zuma. Daar is so baie inligting omtrent hom, Mbeke, Guptas ens). Iewers is inligting en nodige tegnologie om dit teen hom te gebruik.

Plaasjapie ·

Dis reg. Ons moet strate toe gaan. Dis al taal wat hulle verstaan ….toy toyi. Bring die land tot stilstand tot hulle luister. Of is ons gereformeerdes te ordentlik?

Piet ·

Jacob Zuma kan nie self bedank nie. Hy is indertyd aangestel omdat Mbeki nog ‘n bietjie ruggegraat gehad het. Die ANC wou iemand gehad het sonder ruggegraat of beginsels. Wat hulle gesoek het was ‘n “puppet on a string”.
Selfs al sou JZ waai, sou dit niks help nie. Dis die hele korrupte spul wat agter hom staan wat ook moet waai. Dis die vrot appels. Alles waar hulle aan dink is hul eie sakke en hul mae.
Wie skryf JZ se toesprake uit ? Nie hy nie. Wie het sy “verskoning” uitgeskryf ? Nie hy nie. Dit het beslis nie uit sy hart gekom en was selfs die papier nie werd waarop dit geskryf was nie.
Miskien is daar nog ANC lede met intergiteit, alhoewel ‘n mens dit betwyfel. Hulle kan maar bly. Maar al rie rot moet uitgesny word, anders sal dit niks help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.