Burre Burger: Droogtehulp se man met die groot hart

ʼn Standbeeld moet vir Burre Burger opgerig word, skryf iemand. (Foto: Facebook)

ʼn Standbeeld moet vir Burre Burger opgerig word, skryf iemand onlangs in ʼn koerant. Hy moet in Suid-Afrika se geskiedenis as ʼn volksheld verewig word, sê hulle.

Dis nie moeilik om te sien hoekom sommige mense die man as ʼn held beskou nie. Hy het sedert Maart 2017, toe hy die eerste vrag droogtehulp georganiseer het, al meer as 900 sulke vragte na boere in nood gestuur. Altesaam 909 vragte om presies te wees, op die dag toe Maroela Media dié onderhoud met hom voer. Hy en sy span ondersteuners is dikwels die laaste bietjie hoop wat ʼn platgeslaande boer oorhet.

Die projek “Droogtehulp met Burre Burger” het aanvanklik begin om boere in die droogtegeteisterde Calvinia-distrik te help. Dit het egter blitsig uitgebrei na ander omgewings waar mense ook hulp nodig het. Burger bestuur die projek wat deur die algemene publiek en ondernemings gefinansier word.

“Dit is lankal nie meer ʼn droogteprojek nie. Dis ʼn projek van hoop. Ons deel hoop uit,” sê Burger. “Ek sê altyd vir die ouens net landbou kan die land bou. Ons moet in ons boere glo en ons moet ons boere bly help. As ek dit alleen moet doen, dan sal ek dit ook doen. Gelukkig het ek ʼn army van manne agter my in dié stadium. En ons moet net so ʼn treetjie agter die Here stap, dan sal ons die ding reg doen.”

Dit is die hartseer toneel wat Burger se span begroet op talle plase waar hulle hulp verleen. (Foto: Facebook)

Uit nood ontstaan

Die projek het uit nood begin. Nie net die nood van boere wat onder een van die ergste droogtes in jare gebuk gegaan het nie, maar ook van Burger self. In Oktober 2016 worstel Burger met die wêreld. Hy probeer selfmoord pleeg en word in die hospitaal wakker met sy vrou, Bianka, langs sy bed. Sy lewe is op ʼn laagtepunt, maar dis ook ʼn keerpunt.

Hy pleit by God om hom te wys hoe hy kan help, en beloof om te gaan waar God hom stuur. Nie lank daarna nie, en die eerste vrag droogtehulpvoer was op die pad.

“Om mense te kan help is vir my lekker. Ek drink glad nie meer pille vir depressie nie. Dít is my pille vir depressie.”

Burger het al genoeg smart gesien. Wanneer ʼn boer in die moeilikheid beland, hetsy weens die droogte of die afgelope ruk toenemend weens verwoestende brande, word Burger dikwels op sosiale media soos Facebook gemerk en gevra om te help. Soms tot 20 000 keer … Die bankbesonderhede om by te dra word nie aldag so fluks gedeel nie, maar Burger sê daar is altyd uitkoms.

“Dis boere wat boere help. En pensioenarisse. Jy sal my nie glo nie, ek kan seker vir jou ʼn 1 000 WhatsApps forward. Soos ʼn tannie wat sê sy woon in Durban – onthou, sy ken my nie, sy vertrou my met haar R50 – en dan sê sy “tannie kan nie vir jou baie gee nie, maar ek kan vir jou R50 gee”. En dan betaal hulle R50 in. En by ʼn bank. Dis eintlik amazing.”

Burger sê dié wat nie het nie, bid.

Hy sê die oud-Springbokafrigter Peter de Villiers, een van die projek se ambassadeurs, het hom geleer bid – want De Villiers het gesê dis veral wat dié projek gaan nodig hê, skerts Burger.

“Dit is lankal nie meer ʼn droogteprojek nie. Dis ʼn projek van hoop,” sê Burre Burger. (Foto: Facebook)

Die persoonlike (en finansiële) tol

Van bitsigheid en persoonlike aanvalle kan jy Burger boonop min vertel. Hy het al gehoor hoe koop hy strandhuise in Hermanus en Mosselbaai met die geld wat hy kwansuis vir droogtegeteisterde boere insamel. Maar hy laat hom nie van stryk bring nie. “Dis maar kleindorpie-sindroom. ʼn Skindertong is ʼn lelike tong,” sê hy.

En hoewel ʼn mens uit sommige van sy sosialemedia-inskrywings kon aflei dat dit hom soms tóg vang, is daar nie ʼn sweempie negatiwiteit wanneer jy met Burger praat nie.

“Ons praat nie net nie, ons doen. Ons is nie soos die regering nie. En ja, ons doen die werk wat ek dink ons regering moet doen. Ons regering is daar om ons boere te help, en ons regering, in dié stadium, is eintlik maar ʼn nul op ʼn kontrak as dit kom by (behoorlike hulp aan boere).”

Sy vrou en dogters, Beate (6) en Brigitte (2), sien hom maar min, maar hulle staan bankvas agter sy projek. “Ek is heeltyd op die pad, weg van my vrou en kinders, maar dis lekker om die boere te kan help. My bakkie is vier maande oud en het 53 000 km op. Jy kan die som maak,” sê hy.

Nog ʼn vrag op pad na desperate boere. (Foto: Facebook)

Landwye projekte

Burger help die afgelope amper twee jaar boere landwyd – hy sê moeilik nee. In een van die jongste voorvalle het hy sy kontaknetwerk binne ure gemobiliseer om ʼn 70-jarige Noord-Kaapse boer te help nadat dié se plaas afgebrand het. Burger het soveel voorraad bymekaargemaak dat hulle op versoek van die man ook boere op drie buurplase kon help wat onder dieselfde brand deurgeloop het.

Ook in die Oos-Kaap, waar boere nou al ʼn hele paar jaar steier onder die droogte, het Burger en sy span al groot verligting gebring. Hulp wat soms die verskil maak in of ʼn boerdery dit oorleef of nie.

Die versoeke stroom daagliks in en Burger kan eenvoudig nie oral help nie. Tog nader wildvreemdelinge hom daagliks uit die bloute om hulp aan te bied – van vervoerkontrakteurs tot boere wat ander wil help – dikwels voordat hy nog gevra het.

“Dis nie lekker elke dag nie. Maar voor jy te emosioneel raak, of te heavy gestres raak, gee die Here vir ons ʼn antwoord,” sê hy.

Man van vele talente

Burger, eintlik ʼn sakeman van Vredendal in die Wes-Kaap, is nie net iemand wat ʼn ding kan raakreël nie. Hy skryf gedigte, het pas in sy eerste musiekvideo verskyn, lewer motiveringspraatjies, beoog ʼn televisieprogram en ʼn CD in samewerking met verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars om nóg geld vir boere in te samel.

Burger en sy span het die afgelope naweek boonop ʼn uiters suksesvolle fees ten bate van droogteverligting by Migdol in Noordwes aangebied. Hulle het aanvanklik gehoop ʼn paar honderd mense daag op, maar nagenoeg 3 000 mense was uiteindelik daar. Die fees was so suksesvol dat hulle beoog om dit aanstaande jaar weer te hou.

“Dis lekker om te kan help. En ek voel as jy vir die Here iets belowe het … ek het vir die Here gesê die dag as Jy vir my sê ek moet ophou, dan sal ek. Maar Hy’t nou nog nie vir my gesê ek moet ophou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marieta Compion ·

Burre Burger is ñ MAN SO REG VAN GOD GESTUUR!!!!!!

Anoniem ·

Een MAN / VROU wat gehoorsaam is en doen wat HY /SY moet DOEN, maak ‘n verskil in mense se lewens ! Ek het hoë AGTING vir ‘n baanbreker ! Doen so voort Burre ???

Arnold ·

Ek was deel van n konfooi van 18 lorries wat Vrydag vanaf Malmesbury na Garies en Kamieskroon voer vervoer het vir droogte hulp. Dit was n belewenis om deel te wees en kry nogsteeds hoender vleis as ek na die videos kyk. Alles gereel deur Burre en sy span. Julle is almal ysters en julle maak ‘n verskil.

Naomi ·

Burre, die Almagtige het jou uitgekies om hierdie enorme taak te verrig. Jy sal geseënd wees in elke opsig. Jy sal teenstand kry van hartelose mense en satan sal hard werk om jou te “discourage”. Staan sterk, jy is n engel gestuur van bo.
Die wat hul monde uitspoel oor jou is gewoonlik die wat absoluut niks sal doen, behalwe as hul eie sakke bevoordeel. As hul bietjie gaan dink sal hul besef daai boere wat hulp kry is tot hul voordeel. Die kos kom van die boer, nie direk van die winkel rakke en slaghuise nie

Andri ·

Ons dien n wonderlike God, en Burre Burger jy is ‘n instrument in God se hand. Jy is ‘n Linings Kind. Ek wens ek kan finansieel bydrae lewer, Mag God jou rykliks seen!!!

Burger ·

Dit is wat God bedoel het met kerk en dit is hoekom die land gered sal word.

Kitty ·

Dankie Burre vir jou en al jou helpers se ondernemingsgees!

Se wie ·

Dis fantasties. Burre jy sal maar altyd die mede boere kry wat jou sal beskinder en slegse. Dis hkm boere is waar hulle is. Ekself het al dinge gehoor wat jy kwansuis gedoen het. Maar weet jy wat? As hulle ne bewyse kan bring moet hulle stilbly en sien hoe n mede boer wondere verrig. Dink net wat ons volk kon bereik as ons kon saamstaan. Burre mag God baie baie groot in jou lewe tevoorskyn kom en dankie vir dit wat jy doen.

Retief Riekert ·

Dit was vir my en my vrou Cornel n eer om daai Droogte Hulp Fees te reel .Ek een oggend 4uur net wakker geword en dit het gevoel of die Here met my praat en vir my se jy moet vir Burre help en toe vra Cornel vir my hoekom is jy so vroeg wakker…..toe antwoord ek….ek moet vir Burre Burger help….Cornel se ma hoe wil jy vir Burre Burger help ons het dan nie eers n mielie stronk op ons naam nie.En so het ek vir Cornel gese ek gaan n Droogte Hulp Fees en Veiling doen met Burre Burger op Migdol by Suid Wes se silos en so het ons reelings in plek gekry en die Fees was n sukses en ons gaan die Fees elke jaar hou op Migdol.Ek staan agter Burre Burger en die Boere.

Rina ·

Burre, jy is ‘n man na God se hart, ‘n held, ‘n man van hoop – Suid-Afrika se hoop. Jy is ‘n voorbeeld vir ons almal. God sal jou in oormaat seen. Baie dankie ook aan jou gesin wat opofferings maak,

Ellisras ·

Daar is ‘n man Tommie Kloppers wat Droogtehulp reël vir Lephalale /Ellisras. Hy doen fan fantastiese werk. Hier is ‘n storie agter hierdie storie wat gerus nagevors kan word. In Ellisras is baie boere wat kan getuig van sy goeie werk.

Louise ·

@Ellisras, Tommie Klopper is deel van Boere in Nood, saam Carina Swartz. Hulle doen ook PUIK werk, sonder so baie blootstelling wat Burre kry. Haal my hoed af vir al die organisasies.

Vervoer en selfs voer kry, skenkings ens, is groot kopseer. Dan praat ek nie van tyd wat op geoffer word saam hul kinders en families nie. Mag God hul lank genadig bly om boere hoop te kan bly gee.

Hester de Bruin ·

Sulke boere of mans maakn man trots dat jy Afrikaans is en sorg vir jou medemens jy mag maar alle voorspoed voorendtoe jys n wenner

Pieter ·

Baie dankie Burrie jys n held.Ek wen soo die mannie van die 4 groot Banke in hulle blink baadjie kan net een dag in n boer se skoene kom staan as die natuur teen jou draai.Nie een van hulle het n idee watse uitdagings ons boere in die gesig staar nie.As hulle net kan besef hoe belangrik ons boere vir die land is….Daars geld vir sokker,rugby,vietsry en allerhande onbenullighede maar ons boere word een vir een van plase afgrsit….dit gaan te goed in ons land.Kyk maar om ons…ons land het die grootste “obesity” syfer ter wêreld…hoekom???? want hier is kos in oorvloed en dis die boere wat vermoor word en hulle bankrot werk om dit reg te kry.BANKE maak oop julle oee en help ons boere asselief.Ko m uit julle lugversorde kantore en kom op die plase uit.

Deon Koegelenberg ·

Sterk staan Burre daar is duisende wie agter jou staan moet nooit moed verloor nie God se seen rus op hierdie projek Hy sal jou nooit teleur stel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.