Bus bars deur muur; 4 ander uitgebrand

Die uitgebrande dop van die MyCiti-bus wat in Koebergweg aan die brand gesteek is. Foto: Facebook

Vier van die Kaapstadse stadsraad se MyCiti-busse is verwoes sedert die begin van die onbeskermde staking middel Oktober, wat volgens die stadsraad gekenmerk word deur “geweld, intimidasie en verontagsaming van die wet”.

In die jongste voorval is ʼn MyCiti-bus vandeesweek by die Crassula-bushalte in Koebergweg, Milnerton, aan die brand gesteek, sê Felicity Purchase, Kaapstad se nuwe burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling.

Drie vermeende brandstigters het glo die bus vroegaand aan die brand gesteek nadat hulle petrol oor die binnekant uitgegiet het. Foto: Facebook

Die mans het die bus Woensdag omstreeks 19:40 by dié bushalte bestyg en petrol oor die binnekant daarvan uitgegiet, vertel Purchase, voor hulle op die vlug geslaan het. “Die busbestuurder kon ongedeerd ontsnap.”

Nie lank daarna nie, is een van die drie vermeende brandstigters aangekeer. Hy word aangehou in Milnerton se polisiestasie.

Asof die skade wat stakers MyCiti-busse aangerig het, nie erg genoeg is nie, het ʼn busbestuurder blykbaar ook Woensdagaand beheer oor ʼn bus verloor en deur die omheining van ʼn huis in Shearersingel, Summer Greens, naby Century City gebars.

Dit het tot stilstand gekom teen ʼn motor wat onder ʼn motorafdak langs die huis geparkeer was.

Die MyCiti-bestuurder het glo beheer oor die bus verloor en deur ’n huis se muur geploeg. Foto: Facebook

Die verliese weens die aanvalle op die busdiens beloop reeds sowat R18 miljoen, sê Purchase. “Vier busse is sedert 15 Oktober uitgebrand en nog drie in soortgelyke aanvalle beskadig.” Die polisie ondersoek al sewe sake.

“Dit bied ʼn mate van troos dat een van die drie verdagtes in hegtenis geneem is wat by die aanval op die MyCiti-bus in Milnerton betrokke was,” sê Purchase. “Die stadsraad en die gemeenskap werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dié samewerking kan tot nog inhegtenisnemings lei.”

Sy sê omdat die inhegtenisneming uitgevoer is kragtens die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede, wat betrekking het op noodsaaklike infrastruktuur, kan strenger borgtogvoorwaardes gestel en ʼn swaarder straf opgelê word van tot 30 jaar gevangenisstraf of ʼn boete van tot R100 miljoen.

Ons pendelaars word verontrief en die werknemers wat wel vir werk opdaag, word gedreig.

“Ek wil beklemtoon dat die huidige geweld, aanvalle en intimidasie kommerwekkend is vir die Stad Kaapstad,” sê Purchase. “Ons pendelaars word verontrief en die werknemers wat wel vir werk opdaag, word gedreig. Die stadsraad, wetstoepassers en die polisiediens hou die situasie fyn dop en herlei en vergesel busse waar nodig.”

Sy loof die diens, wat daagliks nagenoeg 60 000 pendelaars vervoer, dat dit Donderdagoggend gedurende spitstyd teen 85% van sy vermoë bedryf kon word en beskryf dit as “ʼn groot prestasie in moeilike omstandighede”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irma ·

Zuma tentakels, oral sigbaar in skade, diefstal en vermorsing.

Sê maar net ·

Ons lewe word ontwrig as gevolg van die bane wat spesiaal vir hulle gemaak is. Ons staan verewig by die robotte wat vir MyCiti bus daar is, dan kom daar geen busse nie. (dit was nou voor die staking). Hoekom kan die Taxi’s en die Golden Arrow busse nou nie maar die bane gebruik nie? Dan sal ons verkeer in Montague Gardens ook baaaaie beter wees! Dis so jammer, die mense vir wie die vervoer beskikbaar is, is nou juis die wat dit vernietig! Daar is baie werk geskep ook.

HPV ·

Mens is verstom oor die mag wat betogers en stakers het. Hulle mag my eiendom, voertuie ander besitting ens vrylik beskadig en vernietig, selfs my lewe bedreig sonder ENIGE nagevolge vir hul dade. Ek mag op geen manier hulle keer, verhoed of myself verdedig sonder ernstige nagevolge soos selfs tronkstraf nie! As voormalige lid van die veiligheidsmagte is dit onaanvaarbaar, onverstaanbaar en onverskoonbaar om so te lewe. Het nooit in my wildste drome gedink die land sal in so ‘n toestand verval nie. Geen verskil meer tussen destydse Mad Max flieks en die werklikheid van Suid Afrika nie. Dit is om van siek te word!

Deon Scheepers ·

Die Metro treine is reeds verwoes, nou die busse. Tree ‘n slag die Taxibase aan

ZET ·

Ja, begin nou asb met die taxis, daar is baaaaaaaaaaaaaaaaaie.

Peter Holmes ·

In die ou dae sou hulle aangekla word van terrorisme en sabotasie. En sou die doodstraf of lewenslank met dwangarbeid gekry het. Hy gaan Maandag borg kry. Hier gaan niks van kom nie. Die vakbond gaan net staak dan trek hulle al die klagtes terug !!!!!

Koos de Meyer. ·

Ek myself was in die mag. Maar dit lyk my ons moet die terroriste nou orals beveg. Ons moet die soort van ding verwag as turs ons land regeer. Anargie, brandstigting, verwoes, moor ens. Dis ons nuwe Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.