Bus glo met petrolbomme bestook by Pta-hospitaal

'n Bus het Woensdag, 5 Oktober 2016, by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria uitgebrand Foto: shandus11, Twitter

‘n Bus het Woensdag, 5 Oktober 2016, by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria uitgebrand Foto: shandus11, Twitter

Vier passasiers en die bestuurder van die A Re Yeng-busdiens is Woensdag beseer toe ʼn brand op ʼn bus by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria uitgebreek het.

Gerugte doen die ronde op sosiale media dat petrolbomme na die bus gegooi is.

Johan Pieterse, woordvoerder van Tshwane-brandweer, het aan Maroela Media bevestig die bus het uitgebrand. Hy kon nie bevestig dat petrolbomme na die bus gegooi is nie. “Dit sal deur die polisie ondersoek word,” het hy gesê.

Kapt. Msimanga, woordvoerder van die polisie, het gesê hy wag nog vir verdere inligting van beamptes op die toneel.

Sheila Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het die oortreding veroordeel. “Die brandstigting het plaasgevind terwyl die passasiers en die bestuurder in die bus was en hulle is dus aan groot gevaar blootgestel,” het sy gesê. “Vier passasiers en die bestuurder is beseer. Hulle ontvang tans mediese behandeling.”

Senkubuge het gesê die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Tshwane-metropolisie was op die toneel. “Dit is nog nie duidelik wie die misdaad gepleeg het nie,” het sy bygevoeg.

Alle A Re Yeng-dienste is vir die res van Woensdag opgeskort om pendelaars en bestuurders se veiligheid te verseker.

“Busse sal van môre begelei word deur beamptes van die metropolisie. Die veiligheid van ons pendelaars is ons hoogste prioriteit,” het sy verduidelik. “Dit is ʼn misdaad teen die mense van Tshwane om ʼn openbare bus en publieke eiendom af te brand. Dit sal nie geduld word nie. Ons is verbind daartoe dat A Re Yeng moet werk om seker te maak dat alle inwoners van die busse gebruik kan maak.”

Ansie Cronje, ʼn ooggetuie, het op Facebook gesê sy het in haar motor in die hospitaal se parkeerarea geklim toe sy ʼn ontploffing en mense wat skree, gehoor het. “Toe ek opkyk, het ek gesien die bus wat in die staat geparkeer staan, is besig om te brand… Daar was weer net ʼn plofgeluid en toe swart wolke rook. Ek het gery en toe ek by die hek uitgaan, het die polisie mense afgekeer terwyl nog bomme na die bus gegooi is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nee genade ·

Nee genade wat word van ons land en sy mense!!? Daar is soveel onskuldige mense wat van publieke vervoer afhanklik is om n bestaan te maak dankom kwaaddoeners en ontwrig soveel mense se lewens! Het hulle nie beter dinge om met hul tyd te doen nie??

Melt Olckers ·

Dit is seker daardie bysdrywers wat vroeer afgedank is wat verantwoordelik is. Die Polisie moet na die lys van afgedanktes kyk as verdagtes.

Jean ·

Ek het nog nooit die logika agter enige BRAND aksie verstaan nie. Hoe los dit nou enige probleem op as jy ‘n bus aan die brand steek? Niemand weet hoekom die bus aan die brand gesteek is nie, en die polisie gaan ook dalk nooit uitvind nie, so WAT is nou hiermee bereik?

John ·

Ons moet orals versigtiger wees. Pas ons kinders op. Selfs op die platteland. Die duiwel het oraloor goeie vriende…

Tilla ·

Hierdie frustrasie kan verstaan word met die busvervoer.
As jy nie ‘n kaartjie het vir enige van die busse nie is jy gestrand aangesien daar vir jou gesê loop maar Skinnerstraat toe of Plein toe en kry ‘n kaartjie kom dan terug dan sal jy opgelaai word. Kom nou net uit die hospitaal en het vervoer huis toe nodig en jy kry hierdie antwoord ja ek kan my indink aangesien ek eerstehandse kennis daarvan het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.