Bus tref Affie-seun by skool

Argieffoto Foto: Netcare911

Argieffoto Foto: Netcare911

Schalk Viljoen, ʼn graad 11-leerder aan Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, is in die Muelmed-hospitaal opgeneem nadat hy Vrydagoggend op pad skool toe deur ʼn bus raakgery is.

Dirk Taljard, die skool se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê die seun is in die buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool getref toe hy die straat wou oorsteek.

“Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger. Ons weet nie wat sy toestand tans is nie; ons weet net hy het ʼn kopbesering opgedoen en is na die hospitaal gehaas vir behandeling,” het Taljard gesê.

Taljard het gesê die Affie-gemeenskap volg Schalk se toestand met belangstelling en dra hom en sy familie in hul gebede op.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media bevestig paramedici het omstreeks 07:20 op die ongeluk reageer.

Sy het gesê die seun het ernstige beserings opgedoen. “Hy is op die toneel gestabiliseer voor hy na die hospitaal geneem is.”

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Anna ·

Ek ry self elke oggend voor die skool verby en moet net noem dat die A Re Yeng busse teen ‘n redelike vinnige spoed in hulle bane sonder ander verkeer beweeg. Mense moet veral bedag wees by skole, kinders is impulsief en vat kanse.

Antoinette ·

Het julle al gesien hoe ry daai busbestuurders? Dis ñ wonderwerk dat hulle passasiers veilig by hul bestemmings kom!

Johann ·

Dit is tragies. Gedurende die week is ‘n Laerskool leerder van Port Elizabeth in ‘n voetoorgang doodgery. Almal moet asseblief versigtig wees.

Ruby ·

Dit moet wet word dat busse en voertuie nie meer as 40 km/h mag ry nie.

Skool is moeilik soos dit is, nou moet hierdie seun alles opvang, baie baie sterkte seun.

Mag jy volkome herstel.

Koos ·

Aai Ruby, die wette kan vernader soos dit wil, maar net sekere pad gebruikers sal dit gehoorsaam. Dit gaan nie oor die wette nie maar oor die pad gebruikers se houding en die regering se onvermoë om dit af te dwing. Dink maar aan die gemors met die AARTO wet se uitreikings van verkeersboetes ens.
Baie sterkte aan die seun se familie, ek bid uit my hele hart vir volkome genesing.
Jesus ek laat die seun in U hande en berus my by U besluit, Amen.

SNEL ·

Ek stem, 40km by skole of anders moet hobbels aangebring word, maar spoed moet beslis om skole verminder word gedurende oggende en middae as die pad vol kinders om die skool is.

Baie sterkte aan die ouers van die Seun, hoop hy herstel spoedig.

Charlotte ·

Ja in Australia mag jy in die straat wat daar n skool is…ek dink nie meer as 30 of 40km ry nie…hoekom nie ook so n wetgewing hier maak nie…Sterkte aan die Seun en sy ouers..ek bid dat hy spoedig en volkome sal herstel…..

Schalk ·

Charlotte. Dit sal glad nie sleg wees indien so n wetgewing ingestel word nie. Ek voorsien net een probleem, wie gaan dit monitor en toepas? Beslis nie ons Metro lede nie. Hulle kruip onder brue weg vir omkoop geld. Ek laai my seun elke more by die skool af, ek het al druk verkeer buite die hek gesit en tel, indien 2 uit 10 motors by die stopstraat reg voor die skool stop is dit baie. En die ergste van alles is, dit is witmense. Hulle het ook al die wetlose bestuurs vermoe van die taxis en busse aangeleer. Ek het al n kontak by die Metro gaan sien en vir hom gevra hoekom stuur hulle nie net vir n week n voertuig uit nie, hulle sal hulle begroting in daai week maak. Hulle stel nie belang daarin om wette af te dwing nie.

CHRISTA ·

Hulle pas nie eers die verkeerspoed van 60 km per uur toe nie – dink jy hulle sal bodder met 40 km per uur?

Alta Giezing ·

Die busdrywers behoort te weet om stadig verby skole te ry. My seun is in Affies en dit is kommerwekkend om so iets te lees. Kom ons bid saam vir die seun en sy ouers. Mag die Hemelse Vader hom volkome genees.

Sarel ·

Vic, dis 40km en nie 25km nie in Australië rondom skole, ek weet want ek bly daar en daar ry selfs road trains verby en meeste ry versigtig en hou hulle spoed, maar polisie hou ook spot checks om toe te sien dat ouers slegs stop waar hulle mag en dat hulle by die spoed hou. Hier was ook al gevalle van kinders wat by skole raak gery is, so dit gebeur maar oral, al is die spoed net 40. Die ding is as mens verby skole ry moet mens besef jy moet dink vir die kinders en n spoed ry dat jy kan stop as n kind voor jou sou inhardloop.

Vic ·

Sarel, dis 25km per uur wanneer daar skoolkinders in die omgewing is en 40km per uur as daar geen skoolkinders is nie – lees weer jou Aussie padreels, maat, anders gaan jy in die moeilikheid kom :)

Pieter ·

Het letterlik gister per toeval gedink aan die besige pad tussen Affie Meisies en Seuns en verbaas gewees dat mens nie méér van voertuig/voetganger ongelukke hoor nie. Dis ‘n moeilike opset wat hulle het. Al gewonder of die stad nie die pad tussen die twee skole moet sluit en die area as oplaai aflaai sone gebruik nie. Dalk die verkeer herlei met groter pad vanaf Lynnwood, tussen Affies en Loftus en dan ‘n kinkel verby die oostekant van die kerk en met ‘n linker draai, aan die noorde grens van Affie Meisies verby. Weet nie, maar hulle sal moet planmaak. Dit gaan ‘n groter wordende probleem word.

Berhalet Beukes ·

Arme kind… Ek raak so vies vir die busbestuurdes… ek ry in ‘n motor en koes soms soos busbestuurders van agter gejaag kom en rakelings my motor mis! Veral die Star en Putco busse maak my senuwees gedaan! Ek hoop op ‘n spoedige herstel vir die seun!

Alien ·

Busbestuurders is Roekeloos, ek het al verskeie “amper” ongelukke gesien waar skoolkinders betrokke is. Ek stem vir beter wetgewing naby skole.

Celna ·

Hulle is net soos taxibestuurders, roekeloos! Dis omdat ons in ‘n wettelose land woon dat dit so gaan! Ek is siek en sat vir al dié problem! Geen respek vir mekaar nie!

Suretha Smit-Swarts ·

‘n Mens sien gereeld onverskillige gedrag van motoriste, veral die wat die paaie naby skole as kortpad iewers heen gebruik. Selfs by ‘veilige’ paaie soos langs ons laerskool, jaag party mense soms net blindelings oor die voetoorgange. My hart breek oor hierdie kind, ek bid dat hy OK sal wees!

AB ·

Wat’n voetganger op hierdie pad soms kan “confuse”: Die laan waarin die bus ry het sy eie groen/rooi lig. Soms is hul laan groen (mag ry) terwyl die voertuig laan (wat in dieselfde rigting ry) rooi is. ‘n Voetganger wat vinnig ‘n “gap” wil vat, moet na meer as net die een robot kyk. Ek weet nie wat vanoggend gebeur het nie, dink aan sy familie.

RP ·

Ek ry daagliks verby Affies en sien baie gevalle van kinders wat oor die pad hardloop al wys die verkeerslig rooi vir voetgangers. Ek moes al ‘n paar keer briek agv ‘n kind wat oor die pad hardloop. Dit was net ‘n kwessie van tyd dat so iets sou gebeur.

Gawie ·

Baie slegte ding wat gebeur het. Baie goeie gedagte dat wetgewing wysig om spoed aangrensend aan skole te beheer. Dit is ten minste ‘n stap in die regte rigting. In Arizona, Amerika, mag voertuie slegs helfte van die gewone spoedgrens ry op paaie aangrensend aan skole tydens skoolure.

Affie-ouer ·

Nadat die buslaan “ingebou” is, is die hele kruising/voetoorgang verander. Selfs as ek my dogters afgelaai het by koshuis, moet ek mooi kyk. Daar is nie meer ‘n robot van meisies se kant van die pad na seuns se kant nie. En buslaan is altyd groen! Sterkte aan gesin

Aubrey Delport ·

Hoekom moet so iets gebeur voor dat daar opgetree word n vriendin van ons se motor is getref reg voor die Affies hek,en hul het gemaak of dit haar skuld was,as die metro geweet het hier is n probleem hoekom het hul nie dadelik opgetree nie? Daar is baie mense wat werk Soek in Pretoria miskien moet die skool maar self n skolier patrollie instel,baie sterkte aan die familie.

Addie-Ouer ·

Die seun is gisteraand geopereer en stabiel. Dokters sê volgende 24 uur is krities.
Hou asb die seun & sy gesin in jul gebede. Hy het baie seergekry

Michael ·

Bou ‘n voet oorgang bo oor of onder die pad ,sekerlik kan dit geregverdig word met die skole in die omgewing. Ons betaal mos baie belasting geld aan belasting

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.