Busa-hoof bedank

Tanya Cohen. (Foto: Busa)

Die uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa), Tanya Cohen, het bedank. Sy het twee en ʼn half jaar lank aan die stuur van die organisasie gestaan.

Busa het gesê na deeglike oorweging en in oorleg met sy raad, is Cohen toegelaat om haar pos te verlaat ses maande voor haar kontrak verstryk. Cohen wil dié tyd as sabbatsverlof gebruik voor sy nuwe geleenthede aanpak.

Cohen het gesê dit was ʼn geweldige voorreg om met bekwame en toegewyde mense te werk tydens haar termyn by dié sakeorganisasie.

“Ek het bereik wat ek wou: om Busa te posisioneer as Suid-Afrika se topsakeorganisasie en om ʼn geloofwaardige, strategiese en belangrike vennoot vir die regering en ander vennote by Nedlac te wees,” het Cohen gesê.

“Dit was die gepaste tyd om die tuig neer te lê. Ek wens die raad en die organisasie alle sterkte toe terwyl hulle die pad aanwys vir ʼn nuwe tydperk tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

Busa se raad het gesê danksy Cohen en haar span se onvermoeide toewyding is die organisasie in ʼn baie sterk posisie.

“Tanya is ʼn uitsonderlik vaardige leier wat Busa gedurende haar termyn herposisioneer het en strategiese verhoudings met die regering gevestig het.

“Sy het ʼn vaardige en uiteenlopende span, die meeste van hulle vroue en jong mense, saamgestel wat die organisasie in die toekoms uitstekend gaan dien.”

Die raad het gesê hy gaan binne die volgende week reëlings afhandel om Cohen se pos tydelik te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.