Busbestuurder bly in aanhouding

Die noodlottige busongeluk. Foto: Honnetsweng EMS

Die bestuurder van ʼn bus wat in ʼn ongeluk naby Polokwane betrokke was waarin nege mense gesterf het, is Dinsdag borgtog in die plaaslike landdroshof geweier.

Kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo-polisiewoordvoerder, sê George Themba (41), ʼn inwoner van Harare, Zimbabwe, staan tereg op nege aanklagte van strafbare manslag en een van roekelose en/of nalatige bestuur.

Die saak is uitgestel tot volgende Dinsdag om die polisie meer tyd te gun om die ongeluk te ondersoek. Sy borgtogverhoor sal dan begin.

Ná die ongeluk in die vroeë oggendure van 21 September is Themba saam met 51 beseerde passasiers hospitaal toe geneem vir behandeling. Maar nadat hy ontslaan is, het hy glo probeer om landuit te vlug.

“Die polisie het ʼn wenk ontvang dat die bestuurder van plan was om by die Beitbrug-grenspos landuit te vlug,” sê Ngoepe. “Hy is betrap waar hy in ʼn goederesleepwa die grens probeer oorsteek het.”

Die bus wat in die rigting van Gauteng onderweg was, het die pad verlaat nadat die bestuurder glo beheer daaroor verloor het. Nege passasiers is op die toneel dood verklaar. Die res van die 51 passasiers saam met die bestuurder is in verskeie nabygeleë hospitale behandel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

Waarom het hy nie net so ‘n kilometer verby die grenspos net oor die grens na Zimbabwe toe gestap nie? Die Limpoporivier vloei op party plekke ondergronds, so krokodille is nie daar ‘n probleem nie. Grensdraad aan albei lande se kante bestaan ook omtrent nie. Dis tog hoe 5 miljoen onwettige Zimbabwiese immigrante in SA ingekom het. Stap net in sommer enige plek waar ‘n opening in die grens is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.