Busbestuurder op N2 in gesig geskiet

Foto ter illustrasie. (Foto: Golden Arrow Bus Services/Facebook)

ʼn Golden Arrow-busbestuurder is Maandagoggend op die N2 in Kaapstad in die gesig geskiet, terwyl twee mans net enkele kilometer daarvandaan in Langa op motoriste losbrand het.

Dit is nog nie bekend of dié twee voorvalle verband hou nie, maar albei kan volgens owerhede toegeskryf word aan die voortdurende taxi-geweld in Kaapstad.

Volgens John Dammert, woordvoerder van Golden Arrow-busdienste, is die busbestuurder om 06:30 op die N2 tussen Borcherds Quarry-en Airport Approach-weg deur ʼn onbekende aantal verdagtes in die gesig geskiet.

Die bestuurder het beserings aan sy mond opgedoen en is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Geen passasiers is tydens die voorval beseer nie.

Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord.

“Ons veroordeel hierdie dade van geweld en intimidasie. Golden Arrow-busdienste werk tans saam met wetstoepassingsowerhede om die veiligheid van ons werknemers en passasiers te verseker,” het Dammert gesê.

Twee busse van dié busdiens het verlede week op ʼn raaiselagtige manier aan die brand geslaan – glo nié die gevolg van brandstigting nie.

Dammert het gesê hulle vermoed wel dat die voorval Maandagoggend verband hou met die voortdurende taxigeweld in Kaapstad.

Taxigeweld woed voort

Intussen het twee mans, onderskeidelik 45 en 55 jaar oud, Maandagoggend op motoriste in Langa losgebrand.

Volgens Swartbooi het die twee mans skote by die taxistaanplek in dié informele nedersetting afgevuur.

Hulle is kort daarna deur beamptes in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord. Hulle sal na verwagting binnekort in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

Taxigeweld heers sedert verlede week in die Moederstad.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het sedertdien ʼn beroep op taxiverenigings gedoen om die voortgesette geweld en onderbrekings in openbare vervoer te staak.

ʼn Vredesbelofte is glo voor verlede week deur die Wes-Kaapse regering, die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) onderteken om pendelaars te beskerm. Dié ooreenkoms is sedertdien verbreek nadat drie mense, onder wie ʼn polisiebeampte, verlede week beseer is tydens ʼn skietgeveg tussen taxiverenigings.

Volgens Plato was daar in totaal 76 taxiverwante moorde vanjaar in Kaapstad. Die meeste van dié moorde is verlede Maandag en Dinsdag aangeteken.

“Bykomende beamptes is in gebiede wat as brandpunte beskou word, ontbied, maar ons doen ʼn beroep op die publiek om enige skietvoorvalle by die stad se noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

onteien alle minibus taxi’s sonder vergoeding en nationaliseer hul roetes. einde vd probleem.

JohanR ·

Ek was al in my lewe ook soe woedend kwaad dat ek my teddy beer sommer van een kant van die kamer na die ander gegooi het, maar nooit in my lewe het ek ‘n mes, ‘n byl, ‘n panga of ‘n geweer gaan kry, en nooit in my lewe probeer om die lewens van mense wat net hulle daaglike gang gaan probeer neem nie.

Di ·

Dan moet jy weet as hulle nie eers met mekaar oor die weg kan kom nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.