Busdienste vrees geweld tydens taxi-stilstand

Foto ter illustrasie. (Foto: Golden Arrow Bus Services/Facebook)

Busdienste in Kaapstad is bekommerd dat die komende taxi-stilstand wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) aangekondig is, tot uitgebreide geweld op ander vervoerdienste gaan lei.

Santaco het verlede week die stilstand aangekondig en sê sy bedrywighede gaan die stad tot stilstand ruk weens die onregverdige wyse waarop die Kaapse metro met taxi-operateurs in die stad omgaan.

Die taxiraad beweer onder andere dat taxi-operateurs “geteiken” word deur gereelde boetes of die operateurs se voertuie te skut.

Die busdiens Golden Arrow het nou ʼn beroep op Santaco gedoen dat busse in die Wes-Kaap nie Woensdag geteiken word nie.

“Histories is Golden Arrow se busse aangeval wanneer taxi-operateurs of verenigings stakings hou of hul bedrywighede tot stilstand bring. Sodra dienste hervat word, word die aanvalle vergeet totdat nog ʼn staking of stilstand aangekondig word en dieselfde proses herhaal word,” sê Derick Meyer, algemene bestuurder van Golden Arrow.

“Dit kan nie toevallig wees dat ons werknemers, passasiers en bates geteiken word elke keer as die taxibedryf hierdie tipe protes onderneem nie.”

Golden Arrow word deur die provinsiale departement van vervoer gekontrakteer om pendelaars in die gebied te vervoer en moet daarom volgens sy roosters werk.

“Dit is onhoudbaar om te verwag dat Kaapstad se pendelaars tuis vasgevang word as gevolg van so ʼn stilstand, veral met werk wat skaars is en leerders wat reeds te veel onderrigtyd tydens die pandemie verloor het,” sê Meyer.

“Ons doen dus ʼn beroep op Santaco om die nodige stappe te doen om te verseker dat ander operateurs en pendelaars nie nadelig geraak word as gevolg van die taxi-bedryf se weerhouding van dienste nie.”

Meyer sê die busdiens sal nie deur die taxi-bedryf geboelie word nie en sal regstappe doen sou dit nodig wees om sy bates en passasiers te beskerm.

Kaapstad staan nie terug

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Ricardo Mackenzie, die Kaapse metro se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê Santaco se bewerings dra geen gewig nie aangesien enige voertuig wat onwettig op die pad is of versuim om die padreëls na te kom, beboet sal word.

“Diegene wat gehoor gee aan die betrokke wette en reëls hoef nie bekommerd te wees om beboet te word nie, maar diegene wat dit oortree sal gevang en beboet word.”

Die Stad Kaapstad het aan die einde van Januarie vyf dae lank taxi’s in Houtbaai afgetrek om te verseker dat hulle aan die nodige wetgewing voldoen.

Tydens dié operasie is altesaam 881 boetes ten bedrae van meer as R750 000 uitgereik.

Volgens McKenzie is daar onder andere sewe boetes uitgereik vir die gebruik van ʼn selfoon terwyl bestuur word, 20 boetes vir oorlading, 14 boetes vir bestuur sonder ʼn nommerplaat, 54 boetes vir onpadwaardige bande, 65 boetes vir die bestuur van ʼn ongelisensieerde voertuig en 94 boetes vir bestuur sonder ʼn geldige bestuurslisensie.

Talle minibus-taxi’s is ook in die proses geskut en nog 500 boetes is uitgereik vir allerlei ander verkeersoortredings.

“Die Stad sal nie geïntimideer word om nie op te tree teen diegene wat sonder ʼn geldige rybewys rondry of pendelaars vervoer in voertuie wat nie padwaardig is nie.

“Die beste oplossing vir Santaco is om eers sy eie huis in orde te kry en te verseker dat sy lede aan al die nodige verkeersreëls voldoen.”

Hy het bygevoeg dat geen enkele pendelaarvervoerdiens ʼn monopolie oor Kaapstad het nie.

“Ek wil dit duidelik stel dat die Stad nie enige kwaaddoeners Woensdag sal duld nie en die nodige voorsorgmaatreëls is getref om die veiligheid van pendelaars en ander operateurs te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Wanneer raak cANCer ontslae van al die Unies? Dis net ‘n klomp wat geld skep.

Hendrik ·

Die foto is ‘n illustrasie want gewoonlik lyk dit vieslik vuil rondom al die stukkend onpadwaardige taxi’s

Jaco ·

Ek wens die Stad Kaapstad, waar die wonderlike DA met hulle “skoon regering” in beheer is, is net so wakker om die 15 onwettige huiswinkels in my woonbuurt toe te maak. Na 7 jaar se gekla is niks nog gedoen nie.

Vexed ·

Kan ek jou huiswinkels kry, dan vat jy my Bordeel/drug den wat langs my huis geleë is…

Eden ·

Die taxi mafia gaan nou die Stadsraad meer en meer uitdaag. In Johannesburg en Pretoria het hulle so klompie jaar terug die geveg maklik gewen. Hulle gaan alles afbrand en breek totdat Kaapstad ingee. Kom ons hoop maar die Kaap hou by hulle voorneme om dit teen te staan.
Dit gaan natuurlik ontaard in ‘n rasse geveg, wat die ANC en Effie bedmaatjies goed gaan pas.

Wondermaarnet ·

As die spul idiote ordentlik ry en hulle voertuie padwaardig is en nie oorlaai word nie. sal daar nie boetes wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.