Bushiri-aanhangers ‘salf’ Valke-motor buite hof

ECG-lede het Maandag oproerig geraak buite die handelsmisdaadhof in Pretoria. (Foto: ANA)

Lede van die Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG) het Maandag oproerig geraak buite die handelsmisdaadhof in Pretoria, waar die omstrede past. Shepherd Bushiri en sy vrou verskyn het.

Bushiri en sy vrou, Mary, het vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA). Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Die ECG-lede het ʼn Golf GTi van die Valke wat naby die hof se ingang geparkeer was, met salwingsolie geteiken om dit sodoende te “reinig”. Volgens die oproerige skare is Bushiri onskuldig en moet hy vrygelaat word.

ECG-lede het Maandag oproerig geraak buite die handelsmisdaadhof in Pretoria. (Foto: ANA)

Emosies het hoog geloop buite die hof toe die polisiebeamptes moes ingryp om die skare terug te hou en die ingange na die hof moes beman. Gefrustreerde joernaliste het ook buite die hof rondgeskarrel en gepleit om toegang tot die hof te verkry. Sommige van die ECG-lede het daarin geslaag om verby die media te druk en die hof binne te gaan.

Bushiri en sy vrou is Vrydag by die Sparkling Waters Hotel naby Rustenburg in Noordwes deur die Valke in hegtenis geneem.

“Hierdie saak dateer van 2015. Dit is ʼn ondersoek,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, buite die hof gesê. “Mense moet dit nie as ʼn persoonlike aanval sien nie. Daar is kwessies by ons gerapporteer en as ʼn wetstoepassingsagentskap is ons verantwoordelik om die saak te ondersoek.”

Die egpaar bly in aanhouding. “Die uitstel was ʼn ooreenkoms tussen die staat en die verdediging. ʼn Formele borgtogaansoek sal met hul volgende verskyning gebring word. Ons kyk na kwessies van geldwassery en bedrog. Ons het eers vandag hul paspoorte wat ons van die verdediging aangevra het ontvang. Daar moet nog ʼn verifikasieproses gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jakes ·

Hoekom het hulle nie die kar met Jeyes Fluid gewas of gras ge eet nie? Kerke is deesdae die beste en gouste manier om stinkryk te word. Elke tweede man of vrou is n en het ontaard in n sirkus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.