Bushiri rinkink glo in SA

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri. (Foto: Facebook)

Dit gons oor of die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri – wat die Suid-Afrikaanse owerhede reeds een keer dramaties ontglip het – die land sedertdien etlike kere ongesiens binnegekom het.

City Press berig Bushiri was glo tot so onlangs as twee maande gelede weer in Suid-Afrika.

Bushiri, sy vrou, Mary, en hul medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog ten bedrae van sowat R102 miljoen.

Die charismatiese miljoenêr-prediker van die Enlightened Christian Church het in November verlede jaar uit Suid-Afrika na Malawi gevlug ondanks streng borgtogvoorwaardes wat veronderstel was om te verseker dat hy en sy vrou hul verhoor bywoon.

Hulle het die land onder raaiselagtige omstandighede verlaat en na hul tuisland gevlug omdat hulle glo hier vir hul veiligheid gevrees het. In Malawi is die egpaar kortstondig in hegtenis geneem en daarna op borgtog vrygelaat.

Dít ten spyte van die feit dat die egpaar ingevolge hul borgtogvoorwaardes onder meer hul paspoorte aan die ondersoekbeampte moes oorhandig.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê egter Bushiri is in sy geboorteland nadat borgtog aan hom toegestaan is, hy nie aan die voorwaardes daarvan voldoen het nie en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

“Die proses om hom terug te bring word deur die betrokke owerheid in ooreenstemming met uitleweringsreëlings hanteer,” sê Nkwalase.

Volgens die Valke sal die land op die hoogte gebring word sodra daar noemenswaardige verwikkelinge in die proses is.

“Ons gaan dus nie op bespiegeling kommentaar lewer nie. Ons doen ʼn beroep op enigiemand met geloofwaardige bewyse wat die bespiegeling staaf om met die inligting na die polisie te gaan,” sê Nkwalase.

City Press het berig Bushiri was na bewering minstens drie keer weer hier en dat hy Suid-Afrika per land – nes hy glo verlede jaar ontsnap het – binnegekom het. Die Valke het hom volgens die Sondagkoerant glo op een geleentheid tot in Fourways in Johannesburg nagespoor. ʼn Span bestaande uit 36 voertuie is glo ontplooi om hom aan te keer, maar hulle moes onverrigter sake terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Dis nou nie snaaks… Onwettige immigrante van Afrika en ander herkoms beweeg vryelik oor SA poreuse grense

Suzette ·

SA is ‘n paradys vir skelms, moordenaars, korruptes – omdat hier GEEN BEHEER is as gevolg van die “uitstekende” regering.

Vernon ·

Wat n hopelose klomp amptenare. Onder die oe van die Valke,SAP en NIA.

Misky ·

36 voertuie om een man te gaan aankeer?? En toe moes hulle in elkgeval leë hande terugkeer met rooi gesigte… Ai, Valke, of moet ons eerder sê Kalkoene?

Stofdonkie ·

Met ons regering se gebrekkige kundigheid moet hulle dalk maar oorweeg om “Bounty Hunters” te kry. Ek is daarvan oortuig daar is mense wat die werk beter as die polisie sal doen. Kry onafhanklike privaat “Bouty Hunters” om sulke borgtog-vlugtelinge weer aan te keer en by die polisie te gaan inhandig.

JohanR ·

Dink daar is juis ‘n ANC wil om die twee terug in SA te kry nie. Dink liewer die ANC het gehulp om die twee uit die land te kry! Miskien was daar ‘n jy krap my rig, en ek krap jou rug ooreenkoms met Malawi. Seker ou Grace Mugabe was al weer in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.