Bushiri-saak: Brigadier en man in hof oor korrupsie

Shepherd Bushiri. (Foto: Facebook)

Brig. Rosy Resandt (46), gebaseer by die georganiseerdemisdaadeenheid van speurdienste, en haar 50-jarige man Clifford het Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn ná hulle vanoggend in hegtenis geneem is op aanklag van korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar het hulle aan die Valke oorhandig wat die ondersoek na selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri behartig. Die lasbriewe vir inhegtenisneming is gister gemagtig en hou verband met ʼn bedrag van R500 000 wat glo aan die brigadier betaal is.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê die egpaar het glo betaling ontvang wat van die Enlightened Christian Gathering Church (ECG) na die brigadier se persoonlike rekening en ander familielede oorbetaal is in verband met ʼn verkragtingsaak in Potchefstroom.

Die egpaar se saak is tot 25 Februarie 2021 uitgestel. Hulle is vrygelaat op borgtog van R15 000 elk. Hulle moet ook by die Olievenhoutbosch-polisiestasie aanmeld, hulle mag nie met enige van die getuies inmeng nie, hulle mag nie Gauteng verlaat nie en hul paspoorte is gekonfiskeer.

Bushiri en sy vrou, Mary, het verlede maand na Malawi gevlug nadat hulle in Suid-Afrika in hegtenis geneem is op aanklagte van onder meer bedrog en geldwassery van sowat R102 miljoen. Suid-Afrika het reeds die proses begin om hulle te laat uitlewer.

Bushiri is die leier van die Enlightened Christian Gathering Church.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

christo ·

Die SAPD is nog net ‘n staatsorgaan wat totaal korrup is. Dis skokkend dat hoë range so lekker korrup is. ‘n Polisiebeampte het vir my gesê dat hy sy vuurwapen by hom dra om hom teen sy korrupte kollegas te beskerm. ‘n Vis begin vrot van die kop af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.