Busmaatskappy reageer ná passasiers beroof word

Nege gewapende mans het die naweek op ’n Citiliner-bus buite Emalahleni toegeslaan. Foto: citiliner.co.za

Die operateur van die Citiliner-bus waarop nege gewapende mans buite Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga toegeslaan het, sê hy kan nog nie “in hierdie stadium” kommentaar lewer oor of die passasiers vergoed sal word nie.

Die rooftog het Saterdagoggend net ná middernag by ʼn vulstasie aan die N12 in Delmas se rigting gebeur nadat die bus stilgehou het sodat die passasiers kon litte losmaak.

Jasen Smallbone, woordvoerder van die busmaatskappy Unitrans Passenger Services, het Woensdag aan Maroela Media gesê die firma kan nie sê of die passasiers vir hul verlies en trauma vergoed sal word nie. “Die polisie ondersoek nog die saak en ons wag op die uitkoms van hul ondersoek,” sê hy.

Hy sê wat berading betref, sal die maatskappy bystand aan die 49 passasiers verleen. “Dié proses het trouens reeds begin.”

Luidens die eerste berigte oor die voorval was dit ʼn Greyhound-bus wat beroof is. Smallbone sê dit was in werklikheid ʼn Citiliner, die maatskappy se ander busdiens. “Dit is die eerste keer dat rowers op enige van ons busse toeslaan,” sê hy.

Gevra of hulle veiligheid op hul busse gaan opskerp, sê Smallbone: “Ons hersien voortdurend ons veiligheidsmaatreëls en ondersoek alle moontlikhede.”

Maroela Media het vroeër berig Gavin Gates van die teenmisdaadorganisasie South African Community Crime Watch het gesê hul lede is Saterdagoggend net ná middernag na die polisiestasie in Emalahleni ontbied om bystand aan die 49 passasiers te verleen.

Die passasiers is glo deur nege gewapende mans oorval oomblikke nadat hulle by die vulstasie terug op die bus geklim het. Toe die nege nie die spesifieke persoon wat hulle glo gesoek het om te beroof kon opspoor nie, het hulle die passasiers beveel om op die grond te lê.

Van hulle is met vuurwapens oor die kop geslaan en een van die rowers het ʼn skoot geskiet. Die passasiers is toe van hul beursies en paspoorte beroof.Kol. Mtsholi Bhembe, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê so ver sy kennis strek, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Welkom ·

My vraag hier is soos volg
Hoekom oorweeg die Busmaatskappy om enige passasiers te verged?
Wanneer jy saam met iemand ry, hoe is hy verantwoordelik vir wanneer jy beroof word?
Is Busmaatskappye verseker dat as so iets gebeur hulle enige vergoeding ontvang om uit te beta?
Ek wonder maar net

christa ·

in hierdie land waarin ons bly wil ek graag weet hoekom stop hy in die nag om litte los te maak. Sorg dat jy genoeg brandstof het tot dagbreek en ry snags deur.

rose ·

Christa ek het aal baie met die bus gery as jy 17 ure. In die bus sit is jy maar te bly as die bus n bieki stop….die bus het al met ons ook 2 uur in die oggend gestop. Maar dit maak n mens bang as jy lees wat gebeur met die busdienste.

Katryn ·

Wil net se…..ons ry gereeld met City Liner en ons is dames alleen, nog nooit het ons n probleem gehad nie maar wil net noem dat daar wel n groot probleem is selfs in die dag as die bus stop dat daar ongevraagde smouse opklim en ek voel dit is nie veilig nie,….kan dit dalk op n manier gestop word asb> Dankie

alida ·

Christa, daar is mense op die bus met toilet behoeftes jy weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.