Busongeluk eis netbalspelers voor kampioenskap

Die bus het naby Aberdeen in die Oos-Kaap omgeslaan. (Foto: Fezeka Nkomonye/Facebook)

Drie netbalspelers en ’n beampte is Sondag op pad na die Spar-netbalkampioenskap in Kaapstad dood toe die bus waarin hulle gery het naby Aberdeen in die Oos-Kaap teen ’n ander bus gebots en omgeslaan het.

Minstens 25 ander insittendes, van wie vyf kritiek, is tydens die trompop botsing beseer.

Unathi Binqose, woordvoerder van die departement van vervoer, sê die voorval het omstreeks 05:30 op die R61 plaasgevind.

Die bus met netbalspelers was met 36 insittendes van Mthatha na Kaapstad onderweg toe dit teen ’n ander bus gebots en omgeslaan het.

Vier vroue is op die toneel dood verklaar, terwyl die beseerdes ná die voorval na die Midlands- provinsiale hospitaal in Aberdeen geneem is vir mediese behandeling.

Binqose sê dit is nie duidelik hoeveel insittendes daar in die ander bus was nie, hoewel geen skade aan dié bus aangemeld is nie.

Netbal Suid-Afrika (NSA) het intussen sy hartseer oor die botsing uitgespreek.

“Om lewens te verloor is nooit ’n maklike ding om te hanteer nie. Ons is verpletter deur die nuus en wil graag ons diepste, opregte en innige meegevoel aan die families wat geliefdes verloor het, betuig,” sê Cecilia Molokwane, president van NSA.

“Ons is almal in rou, die oorledenes is deel van netbal en ons is hartseer oor die voorval.”

Fezeka Nkomonye, Oos-Kaapse LUR vir sport, kuns en kultuur, en Nompumelelo Javu, provinsiale netbalpresident, het gister die ongelukstoneel besoek en spoor tans al die oorledenes se naasbestaandes op.

“Dit is nie hoe ons die toernooi wou begin of die jaar wou afsluit nie, maar ons bevind ons in hierdie situasie,” sê Javu.

Nkomonye het op haar beurt ’n volledige verslag oor die omstandighede rakende die ongeluk aangevra.

Binqose sê die presiese omstandighede rakende die voorval is nog onduidelik.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

  • Die Spar-netbalkampioenskaptoernooi begin Maandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blomme ·

Die paaie is nat met al die reën. Bestuurders moet maar versigtig wees.

Skappie ·

Sterkte aan die familie en vriende van die kinders. Mag onse Liewe Jesus julle styf in sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Alta Alleman ·

Ja nee die pad was baie nat en glad want dit het verskriklik baie hier gereën in Aberdeen.

madels ·

Ek kan nie dink wat hierdie families nou moet deurgaan nie.. wat n verskriklike verlies :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.