Bussie jaag weg ná jong fietsryer erg seerkry, ooggetuies gesoek

Matthew Thompson. Foto: Verskaf

Matthew Thompson. Foto: Verskaf

“My seun is ʼn vegter. As hy val staan hy op, maar ná gister se ongeluk het hy nie opgestaan nie.” Só beskryf Magda Thompson haar seun, Matthew (18), wat Maandagmiddag ernstig beseer is ná hy met sy fiets in Centurion geval het tydens ʼn voorval met ʼn Mercedes Benz-bussie wat glo van die toneel af weggejaag het.

Volgens Thompson het Matthew omstreeks 15:30 oudergewoonte saam met ʼn vriend op hul fietse gaan oefen. “Sy vriend oefen vir die 947-fietswedren en Matthew was saam met hom. Ons dring daarop aan dat die kinders nie alleen oefen nie, juis omdat dit so gevaarlik is. Hulle het albei hul fietsryklere en valhelms aangehad.”

Sy het gesê die twee was in Krugerlaan in Lyttleton toe die silwerkleurige bussie naby die ou kantore van binnelandse sake baie naby aan Matthew, wat agter was, gery het.

“My seun sê daar was meer as genoeg spasie vir die bestuurder, ʼn wit man, om verby te kom. My seun was onder die indruk die motoris wou hom met opset raakry. Matthew moes noodgedwonge vir die bestuurder uitswenk en het daarna hard geval. Die motoris het nie eens die moeite gedoen om stil te hou nie, maar net aanhou ry.”

Thompson verduidelik dat haar seun verlede jaar twee keer operasies moes ondergaan om vyf gewasse op sy brein te verwyder. “Die blote feit dat hy nog kan fietsry, is vir ons ʼn wonderwerk. Hy het verlede jaar altesaam 39 dae in die hospitaal deurgebring vir behandeling.”

Matthew is ʼn leerling aan Hoërskool Centurion en is deel van die skool se bergfietswedrenspan, wat bekend is daarvoor dat hulle goed presteer in kompetisies.

“Matthew het ná sy val net bly lê. Sy vriend het my gebel en gesê Matthew staan nie op nie. ʼn Ouerige man en vrou het gelukkig gestop en ʼn ambulans ontbied.”

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die bussie (Foto: verskaf)

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die bussie (Foto: verskaf)

Die ambulans het Matthew na die Unitas-hospitaal geneem vir behandeling. Hy het erge beserings aan die regterkant van sy lyf opgedoen en moes onder meer steke op sy oogbank kry. Hy het sy kop gestamp en daar is skade aan sy valhelm. ʼn Stuk vleis is uit sy regterbeen geskeur.

Hy is weens sy vorige breinoperasies Maandagaand in die hospitaal gehou vir waarneming. Sy dokters was Dinsdag tevrede met sy toestand en hy is ontslaan.

“As hy Woensdag beter is, sal hy teruggaan skool toe sodat hy nie te veel voorbereiding vir die komende eksamen misloop nie.”

Thompson het nie die voorval by die polisie aangemeld nie, aangesien hulle nie veel inligting oor die motoris het buiten dat hy ʼn silwerkleurige Mercedes Benz-bussie gery het nie. Die seuns was nie in staat om die voertuig se registrasienommer te neem nie.

Chris Fourie, voorsitter van die Lytcom-gemeenskapspolisiëringsforum, het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat die ongeluk sien gebeur het, of meer inligting daaroor het, om hom by 082 788 9168 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theresa ·

Is dit nie merkwaardig hoe lafhartig die mensdom geword het nie. Almal jaag weg van ongelukstonele af. Dink hulle nou wragtig hul kan wegkom met dit. Baie sterkte aan Matthew en mag die Here sy hand oor jou hou en jy volkome herstel en uitblink in alles wat jy doen.

Sumari ·

Goeie genugtig nogal ‘n wit man. Kruip seker weg oor hy weet wat met hom gaan gebeur. As die wit man ooit ‘n gewete het hoop ek hy praat. Kan net my kop in skaamte sak vir party witmense.

pop ·

Gooi altyd klippe na ander rasse, so kan julle nou sien enigeen doen sulke dinge.

Dee ·

Tipies vanuit die DA-geledere wat jy nou dit sê, nè Pop. Jou manier om te sê dat dit nie net die span is waarvoor jy stem wat sulke dinge doen nie. ……… Terloops, ek lei af dat die fietsryer nie raakgery is nie en waarskynlik het hulle langs mekaar gery – so dit is spekulatief wat gebeur het.

Piet Pompies ·

Ek het iets soorgelyk klompie jare terug in Vanderbijlpark sien gebeur, die bestuurder van die Toyota Venture het die fietsryer met opset omgestamp, total onverklaarbaar, na die tyd het die bestuurder die opstet ontken. Sterkte aan die seun, ons ry eerder mountain biking, geen voertuie en het die wonderlikste terrein in die Laeveld.

angels ·

My hart gaan uit na daai seun toe, seun jy moet gou aansterk en beter word, ek was self van my fiets afgery jare trug ook deur n blanke. Ek weet die vrees wat opbou na so iets. My vraag is wanneer gaan metro besluit om veiligheid vir fietsryers te verskerp

mm ·

Einaardig, as dit ‘n witman is dan is dit ‘n “witman”…..maar as dit anders is word daar net gese…”bestuurder”………….

Elizabeth ·

Ek kan nie glo hulle het nog nie julle kommente af gehaal nie, gewoondlik word dit blitsig vinnig af gehaal! Maar ja ek stem saam! 100% stem ek saam met julle!

Tammy ·

Dankie aan die engel en sy vrou wat by die beseerde gestop het, goeie dade word altyd weer beloon wanneer jy iemand nodig het. Die ou met die wit Mercedez bussie, slegte nuus vir jou, daar is altyd iemand wat jou gesien het! Jy kan nie met sulke slegte dade wegkom nie.

Peet Schabort ·

Daardie kop-kamera, of by motors die aanboord-kamera, raak nou ‘n besliste moet.

Gideon ·

Jammer om nou dit te sê, maar ek verstom my dat daar nie elke dag meer fietsryers omgery word nie- die fietsryers ry soms so in die pad, of ruk hulle fietse soms voor mens in soos hulle trap!! Om op spitsverkeer in sulke besige strate te ry is moeilikheid soek!!

M A ·

Is daar nie plekke waar mense kan gaan fietsry nie? Ek ek wil perdry, gebruik ek nie ‘n openbare pad nie, al mag ek. Dis lewensgevaarlik.

BJ ·

Gideon, was jy al in Krugerlaan??? Dit is nie ‘n besige straat nie en 15:30 is nie spitsverkeer nie!!!
M A, ek wil nie eers kommentaar lewer oor jou belaglike opmerking nie. Dink eerder aan die kind wat beseer is!!!

Elizabeth ·

Dit maak nie saak of dit spitsverkeer was of nie, fietsryers het ook n reg om die pad te gebruik!

Naomi ·

BJ jy is so reg. Kan my net verstom…. Baie sterkte Matthew. Vertrou dat jy volkome sal herstel.

Strussbob ·

Wat het geword van mededeelsaamheid- neem net almal in ag om jou op di pad. Dit is ons jong kinders en kon jou en my kind ook oorgekom het. Liefde is al wat mense verander. Niks anders nie!!

Theresa ·

Het geen ooghare vir die opstandiges wat kerm oor Universiteitsfooie, ensovoorts nie.
Maar. Kyk hoe werk dit as massas en massas voortstoom om iets “reg” te kry. Wel, ten minste in discipline-lose lande. Waarom hou almal die stry-energie nie vir ‘n ernstige opmars teen alle soorte misdade nie? ‘n Optog wat die wêreld aan die praat sit. Een wat in die boek van rekords opgeteken kan word. Ordelik – hopelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.