Bussie met 48 insittendes voorgekeer

‘n Skermgreep uit die video.

ʼn Taxibestuurder (26) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn nadat hy deur verkeersbeamptes betrap is met ʼn allemintige 47 passasiers aan boord.

Metropolisie het gister die taxi met 48 insittendes, met inbegrip van die bestuurder, in die Baai afgetrek. Die meeste van die passasiers was skoolkinders. Dié Toyota Quantam‑minibus is geskik vir slegs 16 insittendes.

Volgens Yolande Faro, metropolisiehoof, het metropolisiebeamptes dié stampvol taxi in die aankomende verkeer in Chaselaan sien verbyry. Een van die beamptes het opgemerk dat die taxi oorlaai is waarna hulle die taxi agterna gesit het.

Die taxi is eindelik in Chaselaan tussen Standfordweg en Ditchlingstraat afgetrek.

‘n Skermgreep uit die video.

“Die beampte het die bestuurder genader, homself voorgestel en toe verduidelik waarom hy die taxi afgetrek het. By nadere ondersoek kon hy sien dat die taxi inderdaad oorlaai is met skoolkinders wat letterlik bo-op mekaar gesit het,” verduidelik Faro.

Die bestuurder is gevolglik na die Sidwell-verkeersdepartement geneem om die taxi vir oorlading te weeg en die passasiers te tel.

Volgens Faro het die bestuurder die taxi met 32 insittendes oorlaai, wat ’n oortreding van die Nasionale Padverkeerswet is.

ʼn Video van die 47 passasiers wat een vir een uit die taxi klim sodat hulle getel kan word, word sedertdien op sosiale media versprei.

Die taxibestuurder is in hegtenis geneem waarna die skoolkinders van die Laerskool Frank Joubert in drie afsonderlike ritte met dieselfde taxi vervoer is.

‘n Skermgreep uit die video.

Faro het ’n beroep op bestuurders wat kinders vervoer gedoen om nié te oorlaai nie aangesien dit verdere risiko’s inhou indien ʼn motorongeluk sou plaasvind.

“As jy in ’n ongeluk betrokke is, kan dit tot ernstige beserings, verlies van ledemate en selfs sterftes lei, aangesien die voertuig nie ontwerp is om meer as die toegewysde aantal passasiers te vervoer nie. Passasiers wat bo-op mekaar sit of staan, is nie veilig nie en oortreders sal in hegtenis geneem word,” waarsku Faro.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

sharkboy ·

Wat van die ander twee volwasse persone wat uit geklim
het? So dis 50 nie 48 nie.

Cor ·

Glad nie n snaakse verskynsel nie dit gebeur reg oor die land. Die drywer word kwansuis beboet, die kombi geskut , net om more of volgende week weer op straat te wees. Nie een van die voorvalle beland ooit in die hof nie . Hierdie is maar net oe veeblindery sodat mense moet dink daar word iets gedoen maar inwerklikheid is dit net n diens byvoordeel vir van die betrokkenes

Hendrik UAE ·

Ek het die video gesien maar regtig gedog dis vals pos.Gedink hulle klim agter in en by die deur uit, Nou is dit wragtag waar?Gaan my verstand te bowe!EISH! Sal darem wou sien as Leon n slang truuk trek op hierdie taxi. Ek dink hy ontplof.

Nicks ·

@Ann Nortje… moet hulle die kinders aankla? Verstaan nie jou comment nie?

Irene Myburgh ·

Ek stem dit is baie gevaarlike MAAR nie net die taxi bestuurder moet vervolg word nie. Wat van die ouers wat bewus is en die skole waar die kinders af gelaai en op gelaai word.

Wonder maar net.

LH ·

Kom kyk gerus in die oggende hoeveel oorlaaide taxis, propvol gestop met kinders, ry aan die verkeerde kant van die pad in Van Der Hoff Straat in Pretoria, teen ‘n helse spoed! Groot tragedie is ouers betaal vir hierdie ‘dienste’

CAROL ·

Toemaar ek ken daai gevoel. Ek ry af in moot straat – net voor die brug van 2 bane word daar sommer 5 gemaak. Metro polisie staan daar en doen absoluut niks!!!!

Johanna Botha ·

Totaal wetteloos en betaal geen belasting en ry die paaie vrot ..wat nog van hou by die reels van die pad …..ook n GEMORS ! !

Stephan ·

Sover my kennis strek, mag ‘n Toyota Quantum minibus slegs 11 passasiers vervoer (nie 15 nie).

Onnie MP ·

Die bussie mag 14 + 1 bestuurder laai. Ons skool het self so bussie en ons hou streng by die reels. Daar is selfs sitplekgordels. Die taxis by ons skool oorlaai ook. Ons het al gewaarsku, maar hul steur hul nie daaraan nie.

jakes ·

Die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word is dat die taxi bestuurder nie kan lees of skryf nie. Dit staan lewensgroot binne die taxi dat slegs 16 passasiers per keer vervoer mag word, dus kon hy dit nie lees nie. Verder kon hy ook nie tel nie. Wat n siek grap.

Hanlie ·

Dit is nie net taxi-bestuurders wat hulle hieraan skuldig maak nie. Bussies wat skoolkinders vervoer (skool en nasorg toe) het baie keer meer as die toelaatbare hoeveeldheid kinders in die bussie (rede wat hulle aanvoer – hulle wil nie 2 keer ry nie). Dan is dit nie ‘n 3de party wat die kinders vervoer nie maar daardie nasorg/skool se eie bussie.

Schalk ·

Maak n standaard wet so n taxi permanent geskud en bestuurder minimum 5 jaar eienaar indien bewysbaar 10 jaar.Pas wet toe.Saam met toekenning van lisensie ontvang persoon die wet.Geen omstandigheids getuienis.Geen verhoor slegs vonnis oplegging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.