Bussie-ongeluk: Hercules se begrafnisreëlings bekend

Hercules Homan (10) voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Hercules Homan (10) voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Hercules Homan (10) wat oorlede is ná ʼn minibus hom op ʼn sypaadjie in Hendrina, Mpumalanga getref het, se begrafnisreëlings is bekend gemaak.

Sy ma Marlene het Vrydag aan Maroela Media gesê haar seun se skool, Laerskool Marietjie Van Niekerk in Bethal, het onderneem om vir sy begrafnis te betaal. Hercules word Maandag om 11:00 uit die NG Kerk in Hendrina begrawe. Almal is welkom om die begrafnis by te woon.

Hercules is Maandagaand, 21 Julie, om 21:15 in die Garden City-hospitaal se waakeenheid dood nadat hy op 4 Julie deur ʼn minibus van ʼn spysenieringsmaatskappy voor sy huis in Hendrina getref is.

Die polisie het intussen die nodige dokumentasie by die Homan-gesin bekom om ʼn saak van strafbare manslag teen die vroulike bestuurder van die minibus te ondersoek. Dit is nog nie bekend of die vrou al in die hof verskyn het nie. Maroela Media wag vir terugvoer van die Hendrina-polisie oor die saak.

Maroela Media het Dinsdag berig Hercules is al die tweede lid van die Homan-familie wat aan die hand van minibusbestuurders gesterf het. Sy niggie Bernadine Kruger (16), is vyf jaar gelede dood nadat sy op 23 Februarie 2009 in Atterburyweg, Pretoria-Oos, deur ʼn minibustaxi doodgery is. Sy was op pad na Hoërskool Garsfontein toe Percyval Matji haar bromponie van agter af getref en oor haar gery het. Sy is op slag dood. Klik hier om meer te lees.

Hercules se pa het gesê sy seun sal altyd onthou word vir die “woelige laaitie” wat hy was. Hy was ʼn kranige krieketspeler wat graag buite gespeel, saam met sy pa vis gevang en duiwe gevlieg het. “Dis nou bygesê as ons hom voor die televisie kon wegkry, hy was mal oor strokiesprente,” het Hercules sr. geskerts.

Hercules het drie susters, Jackie Black (27), Marlize van Zyl (24) en Louise Homan (21).

Lees ook:
Bussie-ongeluk: Niggie is óók deur taxi doodgery
Bussie-ongeluk: Hercules oorlede
Bussie-ongeluk: Hercules veg dapper voort
Bussie-ongeluk: Seun se hart klop nog sterk
Bussie-ongeluk: “Ons gaan nie nou die masjiene afsit nie”
Bussie-ongeluk: Ouers waak by seun se bed, wag op nuus
Ouers wag op wonderwerk ná bussie seun tref

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Aan Hercules se ouers en sussies, familie en vriende.

Julle bly in ons gebede. Ons Vader sal julle deur hierdie tyd van beproewing dra.
Hy sal nooit Sy kinders alleen los nie. Ervaar Sy trooswoorde en Sy warm alomteenwoordigheid.

Die hoekoms en waaroms sal Hy op Sy tyd, wat die beste is vir julle, beantwoord en die trane sal Hy afdroog.

Aan Hercules.

Geniet die sesse wat jy in die hemel met jou krieketkolf slaan.

Johann ·

Baie dankie Belinda.

Die afsterwe van ‘n geliefde is maar nie maklik nie. Gebed is al hulpmiddel wat dit draagliker maak want trooswoorde ontbreek baiemaal.

Trippie ·

Belinda – sy woorde is ook myne en joune (ek glo, vele lesers sin). Dankie Johann.

Aan die Laerskool Marietjie Van Niekerk – ek glo hierdie bedroefde gesin waardeer dit uit die diepte van hul hart. Van my kant af ook – baie dankie, dit maak daardie finansiële uitgawe soveel ligter.

Maandag sal julle nogmaals in ons gedagtes en harte wees – by die graf, ter ondersteuning, ook die lang pad na berusting.

Theo ·

My hart en siel gaan uit en kan nie genoeg vir Jesus vra om saam die ouers te gaan en hulle vertroos!! Dit voel of ek vir Hercules persoonlik geken het die berig het my diep getref! Baie Dankie Laerskool Marietjie Van Niekerk dis n mooi gebaar van julle!!

Trippie ·

Theo, sodra ek ‘n geleentheid kry, sal ek, namens ons ‘n boodskappie op die Skool se Facebook-blad plaas om dankie te sê. Inderdaad ‘n pragtige gebaar !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.