Bussie-ongeluk: Hercules veg dapper voort

Hercules Homan (10) voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Hercules Homan (10) voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Hercules Homan (10), wat onlangs in Hendrina, Mpumalanga deur ʼn minibus getref is, veg dapper voort in die hospitaal en beweeg selfs soms sy tone.

“Partykeer reageer hy ook as ons sy voete kielie,” het sy pa, Hercules sr., Maandag aan Maroela Media gesê. Hercules is steeds aan ʼn asemhalingmasjien gekoppel is, maar sy hartklop en bloeddruk bly laag. “Solank as wat sy hart op sy eie klop, gaan ons nie die asemhalingsmasjien afskakel nie. Ons vat dit maar dag vir dag.”

Hercules is sy ouers se laatlammetjie en word al vir langer as twee weke in die waakeenheid van die Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel nadat hy op 4 Julie deur ʼn minibus van ʼn spysenieringsmaatskappy getref is. Die ongeluk het naby sy ouerhuis plaasgevind. Hy het glo gebuk om een van sy skoenveters vas te bind, toe die minibus om ʼn skerp draai gekom en hom getref het. Die vrou het glo te vinnig om die draai en te naby aan die sypaadjie gery.

Hy is op 11 Julie breindood verklaar en sy ouers het die moeilike besluit gemaak dat die masjiene wat hom aan die lewe hou, op 14 Julie afgeskakel sou word. Sy dokter was egter toe vol hoop nadat hulle hom van sy asemhalingmasjien afgehaal het en hy self kon asemhaal. Hy kon egter sedertdien nie weer op sy eie asemhaal nie, maar sy hart klop vanself.

Die Homan-egpaar bly tans in die aande by Hercules sr. se broer in Springs, en is daagliks by hul seun in die hospitaal. Hulle bedank almal vir hul ondersteuning en versoek die gemeenskap om aan te hou om vir hul seuntjie se volle herstel te bid.

Hercules het drie susters, Jackie Black (27), Marlize van Zyl (24) en Louise Homan (21). Hy is ‘n leerling aan Laerskool Marietjie Van Niekerk in Bethal.

Lees ook:
Bussie-ongeluk: Seun se hart klop nog sterk
Bussie-ongeluk: “Ons gaan nie nou die masjiene afsit nie”
Bussie-ongeluk: Ouers waak by seun se bed, wag op nuus
Ouers wag op wonderwerk ná bussie seun tref

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Trippie ·

Hercules – jy is reeds ‘n WENNER !

Mamma, pappa, sussies – weet, ons is baie wat saam met julle hande vat en bid vir algehele herstel.

Trudie Menezies ·

Hercules, ons bid seun! Stem Trippie, hy is reeds ‘n wenner! Ons spreek Lewe! Wil vir die ouers en sussies ook net sê, waar daar geen hoop is nie, BLY HOOP!

Justi ·

Trippie, Amen op dit wat jy se vriendin. In my hart glo ek Hercules gaan spoedig volkome herstel.

(Pas jouself mooi op Trippie.)

Trippie ·

Dankie julle twee (skuus ek kan nie “kuier” nie – ons word verkla deur ander lesers) ! (Liefdetjies vir jou Justi).

Ek sê en glo steeds, waar lewe is, is hoop en die hoop sal nie beskaam.

Belinda ·

Jy is n YSTER…………………….ek wil net weet of die persoon al daar was wat dit veroorsaak het en of hulle al enige moeite gedoen het om na hom te gaan in die hospitaal en of ons asseblief n naam kan kry van die besigheid sodat mense weet om nie in die vervolg van hulle gebruik te maak as hulle nog glad nie by Hecules was nie………………..

Jasper ·

Dankie Maroela dat julle ons op hoogte hou. Ons bid saam vir sy herstel sodat God se naam veheerlik kan word.

Johann ·

Klein Hercules, jy mag maar net rustig wees want jy het ‘n gebedspan, op ons knieë waarvan ons Vader deel is. Natuurlik weier ons om tou op te gooi.

Aan Hercules se familie.

Ons bid vir kalmte en vrede. Dit sal weer beter gaan. Jesus los nooit sy kinders alleen nie.
Raak vir ‘n oomblik innerlik stil, konsentreer op die asemhaling en ervaar ons Vader se warm ondersteunende hand in elkeen van julle s’n.

AmY ·

Byt vas en veg jong man. Jy SAL en GAAN hierdeur kom. Jou hele lewe lê nog voor jou. Ons almal bid vir jou.

Matilda Potgieter ·

Hercules … jy’t n dapper stryd gestry. Sterkte aan sy ouers, familie en vriende in hierdie moeilike tyd. Weet dat God julle vashou en ons vir julle bid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.