Bussie-ongeluk: “Ons gaan nie nou die masjiene afsit nie”

Hercules Homan (10) in die hospitaal. Foto: verskaf.

Hercules Homan (10) in die hospitaal. Foto: verskaf.

Die Homan-gesin het Dinsdag nóg goeie nuus gekry toe ʼn dokter aan die gesin gesê het dat hy nog nie die masjiene, wat hul 10-jarige seun aan die lewe hou, wil afskakel nie.

“Ons het dadelik in een stem gesê ons stem saam,” het Hercules sr. Dinsdagmiddag vanuit die Garden City-hospitaal in Johannesburg aan Maroela Media gesê.

Hercules jr., die Homan-egpaar se laatlammetjie, word al vir meer as ʼn week lank in die waakeenheid van die hospitaal behandel nadat hy voorverlede Vrydag in Hendrina, Mpumalanga, deur ʼn minibus op ʼn sypaadjie getref is.

Hy is Vrydag breindood verklaar en sy ouers het die moeilike besluit gemaak dat die masjiene wat hom aan die lewe hou, Maandagoggend afgeskakel sou word. Sy dokter was egter Maandag vol hoop nadat hulle hom van sy asemhalingmasjien afgehaal het en hy self kon asemhaal. Hercules het Dinsdag verdere toetse ondergaan.

“Hy is vanmiddag [Dinsdag] weer vir ʼn ruk lank van die masjiene afgehaal. Alhoewel hy hierdie keer nie op sy eie asemgehaal het nie, het hy egter ander tekens van lewe getoon. Die dokter het gesê dit is ʼn teken dat daar wel breinaktiwiteit is, en dat ons nog nie die masjiene gaan afskakel nie.”

Volgens sy pa sal die jongste uitslag van sy seun se breintoets eers Woensdag beskikbaar wees, waarna hulle dan die pad vorentoe sal bepaal. “Ons gaan nou sterker bid en glo,” het hy vasberade gesê. Die gesin versoek steeds gebed en is vol vertroue dat ʼn wonderwerk sal gebeur.

Hercules het drie susters, Jackie Black (27), Marlize van Zyl (24) en Louise Homan (21). Hy is ‘n leerling aan Laerskool Marietjie Van Niekerk in Bethal.

Die Homan-egpaar bly tans in die aande by Hercules sr. se broer in Springs, en is reg deur die dag by hul seun in die hospitaal.

Die lot van die bestuurder van die minibus, wat aan ʼn spysenieringsmaatskappy behoort, is nou in die hande van die Openbare Vervolger. Daar is tot dusver geen strafregtelike stappe teen haar gedoen nie.

Die ongeluk het op ʼn skerp hoek naby die seun se ouerhuis plaasgevind. Hercules het glo gebuk om een van sy skoenveters vas te bind toe die minibus om die draai gekom en hom getref het. Die vrou het glo te vinnig om die draai en te naby aan die sypaadjie gery.

Lees ook:
Bussie-ongeluk: Ouers waak by seun se bed, wag op nuus
Ouers wag op wonderwerk ná bussie seun tref

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

AmY ·

Ons bid saam hierdie gesin dat ‘n wonderwerk gaan gebeur en dat Hercules heeltemal normaal sal wees as hy uit die hospitaal ontslaan gaan word.

Trippie ·

In gedagtes en gebede is ons saam met julle langs die jong mannetjie se bed !

Sterkte, en hou goeie moed.

MAROELA :

Baie dankie dat julle ons getrou op hoogte hou.

Stella ·

As die seun op die sypaadjie was, dan het sy hopeloos te naby aan die sypaadjie gery. Die meeste bestuurders vandag dink hulle bestuur so “cool”. Jaag, sny draaie, rem op die laaste, ens.

Sterkte aan die familie en vriende.

Annemarie ·

Ons is in gebed die hele tyd. Sterk wees. Waar lewe is, is hoop. Hou net vas aan julle geloof. Ons PA is groot. Baie sterkte

Marieta ·

Dankie Dierbare Vader. U genade ken geen einde. Aan die Homan gesin, sterkte en krag vir die tyd wat voorle. Ek weet waarvan ek praat as ek se dit is een van die mees angswekkendste tye wat op julle wag. Die onsekerheid of jy nie dalk jou kind onnodig laat ly nie, gaan soos ‘n kanker aan jul vreet. Maar byt vas en hou vas aan die Here. My kind se GCS telling was 3 met al die breintoetse wat hul gedoen het, en na komplikasies ingetree het het dit geval na “minder as 1”. Maar vandag prys ek die Here elke dag want my kind is amper normaal. Wens ek kon net persoonlik vir elk van jul ‘n gebed doen en my kind aan jul bekend stel. Ek glo dit sal jul weer krag gee vir die stryd vorentoe.

Grassie ·

Ek hoop daardie seun byt vas. Daar is baie mense wat vir hom bid. Ons moet net daarmee volhou.

Ronel ·

Garden City en Springs is ver uitmekaar. Kan niemand dalk help met nader slaapplek vir die ouers nie? Dalk ‘n gastehuis in Auckland Park? Wens ek kon!

Adriana Stuijt ·

Is die vrou wat die minibussie bestuur het, gearresteer vir poging tot strafbare manslag of het sy weggery? Weet julle wie sy is? Ek dink dis belangrik om dit te weet.

Trippie ·

Volgens berig geplaas op 14 Julie – “Die bestuurder is nie in hegtenis geneem nie.”

Annika ·

Volgens Maroela Media is dit een of ander spysenieringsbussie – ek hoop hulle het die naam gekry.
Ek dink egter al waaraan hulle nou dink is dat hulle seuntjie wakker word – alhoewel ek hoop en bid dat die spysenieringsmaatskappy bewus is daarvan dat een van hulle werkers onbevoeg is om te bestuur.

marietjie ·

so hartseer, dink aan hierdie mense, en mag die Liewe Here Sy hand oor die ou seuntjie hou, en dat hy volkome sal herstel. Mens dink net aan die hartseer van die ouers – Sterkte, dink aan julle

Belinda ·

Vader wees saam hierdie kind en so ook saam elke lid van sy gesin vriende en almal van ons wat bid dat hy sal herstel en geen pyn sal hou van dit wat gebeur het nie……………U VADER IS GROOT………………

PetroST ·

Ons pleit die bloed van JESUS op herman neer genees hom maak hom gesond en gee hom nuwe lewe.AMEN .Dink aan die ouers wil nie weet waar deur hul moet gaan nie.(hugs)

susan ·

Dis glad ni lekker ons ons kinders so in di ICU te sien le ni sterkte aand di seuntjie se ouers en susters ens glo en vertrou aan GOD hy sal voorsien AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.