Bussie-ongeluk: Ouers waak by seun se bed, wag op nuus

Hercules Homan (10). Foto: Verskaf

Hercules Homan (10). Foto: Verskaf

Marlene en Hercules Homan, die ouers van ʼn 10-jarige seun van Hendrina in Mpumalanga wat breindood verklaar is nadat ʼn minibus hom getref het, waak by hul seun se hospitaalbed.

Maroela Media het Maandag berig Hercules jnr., die egpaar se laatlammetjie, word al vir meer as ʼn week lank in die Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel ná die ongeluk voorverlede Vrydag in die klein dorpie. Hy is Vrydag breindood verklaar en sy ouers het die moeilike besluit gemaak dat die masjiene wat hom aan die lewe hou, Maandagoggend afgeskakel sou word.

Sy dokter was egter Maandag vol hoop nadat hulle hom van sy asemhalingmasjien afgehaal het, en hy self kon asemhaal. Hy is vir nuwe breintoetse gestuur en sy ouers wag in spanning vir die uitslae wat na verwagting vandag beskikbaar sal wees.

“Ons is hier by hom langs sy bed en praat met hom sodat hy weet ons is hier,” het Hercules snr. Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Ons wag nog vir die dokter se mening en die uitslag van die toetse.”

Die Homan-egpaar het almal bedank wat vir hulle en hul seuntjie bid. “Sy asemhaling is vandag nog beter as wat dit gister was,” het sy pa bygevoeg.

Hy het ʼn beroep op mense gedoen om nie onwaarhede oor hul seun se toestand op sosialemedia-platforms te versprei nie. “My seun is beslis nie dood nie, ek weet ʼn wonderwerk gaan plaasvind. Hy is ʼn vegter.”

Hercules jr. en sy sewejarige neef, Justin Black, was voorverlede Vrydag saam met die gesin se tuinier, slegs bekend as March, op pad na ʼn kafee om lekkergoed te gaan koop toe ‘n minibus, wat aan ʼn spysenieringsmaatskappy behoort, hom op die sypaadjie getref het.

Die ongeluk het op ʼn skerp hoek naby sy ouerhuis plaasgevind. Hercules jnr. het glo gebuk om een van sy skoenveters vas te bind toe die minibus om die draai gekom en hom getref het. Die minibus het glo te vinnig om die draai en te naby aan die sypaadjie gery. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trippie ·

“Waar twee of meer in My naam vergader, daar is Ek by hulle”

Liewe Hercules, ek hoop jou mamma en pappa gaan ons skrywes hier, sowel as op vorige berigte uitdruk en vir jou wys !

ONS GLO saam met hulle dat jy gesond sal word, ten volle, en weer die tiener-seuntjie wees wat jy was voor die ongeluk.

Grassie ·

Ons hou maar duim vas en bid.
Sterkte aan die ouers. Ons vra dat die Skepper julle deur hierdie beproewing dra.

Johann ·

Vader.

‘n Versugting van een van U lieflingskinders om ons skrywes aan Hercules voor te lees is so ‘n diepliggende liefdevolle versoek.

Wil U nie asseblief, in U groot Liefde vir Hercules die skrywes en berigte voorlees, want U kan met hom kommunikeer.

Dankie Vader.

Johann ·

Aan Hercules, sy ouers en sy drie sussies.

U gebedspan, waarvan God deel is sal steeds op die knieë bly en vir beterskap bid, maar bowenal vir krag, genade, deursettingsvermoë en innerlike vrede.

Ek dra die hospitaal personeel aan U op.

Sterkte, Hercules, ons Vader hou Sy handpalm op jou voorkop.

Amen.

Net Ek ·

Waar daar lewe is, is hoop. God staan die ouers by en gee aan die kind krag om te lewe asb!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.