Busstaking amptelik verby

Argieffoto: Pixabay

Die landswye busstaking is amptelik verby nadat drie van die vyf vakbonde ʼn 9%-loonooreenkoms met werkgewers onderteken het, het die SA Transport and Allied Workers Union (Satawu) Vrydag gesê.

Senzo Mahlangu van Satawu het gesê ʼn eenjaarooreenkoms is onderteken en dit is bindend op alle vakbonde.

“Die busse het begin beweeg. Ure, die definisie van die nagskoftoelaag en ander toelaes is met 10% verhoog. Ander kwessies oor basiese toestande soos verligtingsbestuurders sal by die volgende vergadering bespreek word en die kwessies sal dan uitgestryk word,” het Mahlangu aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Mildred Oliphant, minister van arbeid, het gesê die nasionale ooreenkoms vervang enige ander ooreenkoms op maatskappyvlak. Sy het gesê sommige werkgewers wou op provinsiale vlak ʼn ooreenkoms onderteken, maar sy het die onderhandelaars aangeraai om gelei te word deur die grondwet van die bedingingsraad.

“Ek het gehoor Numsa-verteenwoordigers het ʼn ooreenkoms vir 8.5% onderteken, maar hul sekretaris in die betrokke vergadering vanoggend het gesê dié ooreenkoms is teruggetrek. Aangesien die nasionale ooreenkoms deur die meerderheid vakbonde onderteken is, vervang dit enige ander ooreenkoms op ʼn laer vlak deur vakbondverteenwoordigers.”

Die staking, wat kort- en langafstandbusdienste beïnvloed het, het Woensdag begin.

Greyhoud het intussen bevestig die maatskappy het ʼn oorneekoms bereik. “Ons kan bevestig alle dienste sal hervat soos per die skedule,” het die maatskappy gesê.

Die MyCiTi-busdiens in Kaapstad hervat Saterdagoggend. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van vervoer, het gesê ʼn loonooreenkoms is bereik en die busdienste hervat. “Die MyCiTi-diens hervat môreoggend, 15 April.”

Numsa en die Transport and Services Workers Union (Taswu) het egter die ooreenkoms verwerp. Irvin Jim, sekretaris van Numsa, het Vrydag aangekondig die busstaking duur voort, ondanks die feit dat die meerderheid vakbonde ʼn ooreenkoms onderteken het. “Wat Numsa betref, duur die staking voort.”

Hy het die minister en Satawu se gesamentlike verklaring, dat die staking amptelik verby is, verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Die Olifant…n vreemde dier? Die busse lag…vir hul plesier?

CLR ·

Tantrum is gegooi,sin is gegee. Wat n voorbeeld! Nou kan almal in SA maar tantrums gooi. En so word niemand groot nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.